Video: Jakkie Louw se huldeblyk aan ‘vriend’ Theuns

Jakkie Louw. (Foto: Skermgreep)

Die musikant Jakkie Louw het Donderdag ʼn splinternuwe weergawe van sy ontslape vriend en kollega Theuns Jordaan se liedjie “Bloutrein” uitgereik.

Dit is vandag (Woensdag) ʼn jaar sedert Jordaan op 17 November 2021 sy stryd teen leukemie verloor het.

Die geliefde sanger en liedjieskrywer is tydens vanjaar se Afrikaans is Groot (AiG) -konserte met ʼn roerende huldeblyk vereer en deur kunstenaars as ʼn legende, mentor, vriend én monument vir Afrikaans beskryf.

Louw, wat self al twee dekades in die Afrikaanse musiekbedryf betrokke is, vertel hy en Jordaan het in 2002 vir die eerste keer op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op Oudtshoorn ontmoet.

“Hy het na afloop van my vertoning gevra hy wil twee CD’s koop, een vir hom en een vir sy vriend, Werner. Ek haal die CD’s uit en teken my naam. Ek vra: ‘Wat is jou naam, tjom?’ Hy antwoord met ʼn diep, suiwer stem: ‘Maak dit uit aan Theuns Jordaan’.”

Hy vertel hy sou daarna gereeld saam met Jordaan optree in konserte regoor die land. “Ek het hom nooit gevra vir ʼn geleentheid nie. Hy het altyd vir my gebel en gesê: ‘Jakkals… wat maak jy volgende Vrydag? Bring die vioolspeler saam.

“Ek onthou in die Aula by Tukkies in Pretoria het ek, Riana Nel en André Swiegers vir hom as voorprogram opgetree voor ongeveer 1 000 mense. Mense het woedend by die hekke omgedraai, want daar was geen plekke [meer] oor nie.”

Louw vertel hy het baie by Jordaan geleer. “Hy het my geleer van aanbieding, professionaliteit en hoe om jou instrument so goed as moontlik te bespeel.”

Theuns Jordaan. (Foto: Afrikaans is Groot/Facebook)

Hy was die oggend van Jordaan se begrafnis in Pretoria te ver weg om dit by te woon, maar het soos duisende ander mense die begrafnis op die internet gevolg.

“Sy pa, oom Willie, het iets gesê wat my baie hartseer gemaak het aan die einde van die begrafnis, oor die Bloutrein wat nou sy seun gaan neem na sy nuwe woning. ‘Stop hulle voor hulle hom vat,’ het oom Willie gesê. Dit het my diep geraak.”

Daarom het hy besluit om die liedjie wat oorspronklik deur Jordaan geskryf en opgeneem is, weer op te neem. Die liedjie is in Johan Kelber se ateljee opgeneem.

“Ek dink die Bloutrein sal ons almal eendag kom haal, Theuns. Dis jammer jy moes so vroeg gaan. Ek mis jou en ek hoop dat ek die liedjie tot sy reg laat kom. Tot ons mekaar weer sien… tot die Bloutrein uit die hemel kom, meneer, tot die Bloutrein kom.”

Kyk hier na die musiekvideo van Jakkie Louw se nuwe weergawe van “Bloutrein”:

Blou Trein – Jakkie Louw (Theuns Jordaan huldeblyk)

17 Novemver 2022 – Een Jaar#theunsjordaan Ek het tydens die 2002 KKNK gaan sing by Rock Art teater in Baron Van Reede straat op Oudtshoorn.Dit was die groot pub waar baie musikante en akteurs na 'n lang dag van werk en konserte kom kuier het. Ons het as die Jakkie Louw band met Daniel Roos op dromme, Gavin Canone op bas en Almuir Botha op kitaar musiek gemaak en liedjies gesing soos Rambo die polisiehond en Ek en jy en 'n Bottel Tas. Terwyl ek sing kom daar 'n jong blonde sanger voor by die venue ingestap en daars 'n hele paar meisies wat tekere gaan en na hom wys en glimlag na sy kant toe. Hy kom staan langs die verhoog (waar die kroegie was) en bestel vir hom en sy vriend Werner iets om te drink. Hy kyk in verwondering hoe ons liedjies doen soos 'Ek en jy en 'n bottel tas'. Na my konsert kom hy na my toe en sê hy wil 2 CD's koop. Een vir hom en een vir sy vriend Werner.Ek haal die cds uit en teken Jakkie Louw band 2002 KKNK. Ek vra hom. Wats jou naam tjom? Hy antwoord met 'n diep suiwer stem:" Maak dit uit aan #TheunsJordaan.Ek en Theuns sou vriende maak oor die jare en hy het my baie genooi om as voorprogram op te tree en dan betaal hy my. Hy het my gesê dat ek bietjie meer in Pretoria moet begin optree by plekke soos Maloneys en McGintys by Hatfield Sqaure. Ek onthou by die Aula by Tuks het ek, Riana Nel en Andre Swiegers vir hom as voorprogram opgetree het voor plus min 1000 mense. Daar het mense voor die hekke kwaad omgedraai want daar was net niks plekke oor nie. Stilbaai stadsaal, Strand stadsaal en nog baie ander plekke het ek saammet hom opgetree. Ekt hom nooit gevra vir 'n geleentheid nie. Hy het altyd vir my gebel…'Jakkals…wat maak jy volgende week en Vrydag? Bring die vioolspeler saam.Hy het my geleer van aanbieding, professionaliteit en hoe om jou instrument so goed as moontlik te speel. Vat elke konsert op sy eie as dit kom by bemarking. Ken jou uitgawes. Hy het my geleer hoe om my 'mic stand' by 'n 'pub show' altyd van my regter skouer te laat kom. Dan kan 'n mens draai met jou kitaar sou jy wou.Vandag is Theuns een jaar oorlede. Ek het aan die einde van sy lewe hom al hoe minder gesien. Besige programme en natuurlik sy gesondheid het in die pad daarvan gestaan. Die oggend van sy begrafnis was ek te ver van Pretoria om daar te wees. Ek wou maar kon nie. Ek moes dit op facebook kyk. Sy pa oom Willie het iets gesê wat my baie hartseer gemaak het aan die einde van die begrafnis. Oor die Bloutrein wat nou sy seun gaan vat na sy nuwe woning. "Stop hulle voor hulle hom vat het oom Willie gesê. Dit het my diep geraak. DIE BLOU TREIN.Die mooiste gedig uit ou Theuns se pen.Ek het dadelik daarna die Die Blou Trein opgeneem by my vriend Johan Kelber se altejee. Net my stem , klavier en tjello. Aan die einde het Johan die klavier se intro begin van soos Bloed gespeel om die liedjie te eindig.Ek dink die Bloutrein sal ons almal eendag kom haal bra Theuns. Dis jammer jy moes so vroeg gaan. Ons moes daai koffie eintlik gaan drink het by Innibos fees. Ek mis jou en ek hoop ek doen jou mooi liedjie 'justice' vandag. Tot ons weer sien…tot die bloutrein uit die Hemel kom..meneer.. Tot die Bloutrein kom

Posted by Jakkie Louw Amptelik on Thursday, November 17, 2022

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.