Video: Sewejarige met net een oor sing internet aan die brand

Klein Tiaan Olivier neem ‘Die land’ op in die ateljee. (Foto: Skermgreep uit video)

Tiaan Olivier, ʼn skattige sewejarige blouoog seuntjie van Sinoville in Pretoria, roer die hartsnare van duisende internetgebruikers met sy weergawe van Steve Hofmeyr en Kie. se liedjie “Die land”.

Dié liedjie het verlede jaar opslae gemaak toe die Ghoema-musiektoekennings die liedjie van die benoemingslys geskrap het as gevolg van Hofmeyr se betrokkenheid daarby.

“Die land” word deur Hofmeyr, Bok van Blerk, Bobby van Jaarsveld, Jay en Ruhan du Toit gesing. Dit is egter klein Tiaan se weergawe van die lied wat nou die land regop laat sit.

Wat min mense egter weet is dat Tiaan sonder ʼn linkeroor gebore is en dat microtia en atresia (MA) by geboorte by hom gediagnoseer is.

Microtia verwys na ʼn eksterne misvorming waar die oor onderontwikkel of glad nie ontwikkel nie. Atresia verwys na die vernouing van ʼn kanaal of opening in die liggaam, in hierdie geval die oorkanaal.

Volgens Tiaan se ma, Haidee Olivier, het haar jongste seun van kleins af ʼn buitengewone belangstelling in musiek getoon, ten spyte van sy gehoorgebrek.

Tiaan op die Pacisa-verhoog. (Foto: Verskaf)

“Ek kan onthou hoe hy nog as baba in speelpakkies met sy lompe lyfie geloop het en as die televisie aan is en daar begin musiek speel, is dit net etlike oomblikke voordat hy voor die televisie staan en hom vergaap. Hy het ook as klein seuntjie gereeld die plastiektrappie in die badkamer gaan haal en dit met ʼn paplepel geslaan soos ʼn trom en dan neurie hy sy eie wysies saam. Musiek trek nog altyd baie vinnig sy aandag,” vertel Olivier.

MA is sewe jaar gelede by Tiaan se geboorte ook eers by Olivier gediagnoseer – ʼn toestand waarvan sy haar hele lewe nié bewus was nie.

Haar gehoor is op aandrang van haar ginekoloog deur ʼn oudioloog getoets en uiteindelik is die skokdiagnose gemaak dat Olivier haar lewe lank nie behoorlik kon hoor nie.

“Op skool het ek vreeslik raas gekry omdat ek nie geluister het nie en die ander kinders was aaklig met my. Uiteindelik het ek skool só gehaat dat ek twee dae per week skool gemis het in my matriekjaar. Hulle het gesê ek is dom en ek het hulle uiteindelik geglo,” vertel Olivier.

Sy en Tiaan het egter albei ʼn prosedure ondergaan om hulle gehoor ten volle te herstel met behulp van ʼn uiters gevorderde gehoorapparaat. Tiaan het in September 2016 die Med-El Vibrant Soundbridge-gehoorapparaat ontvang en in Maart 2017 het Olivier die Med-El Bonebridge-gehoorapparaat gekry.

Die Soundbridge word geanker via ʼn gaatjie in die skedel aan die gehoorbeentjies in die middeloor terwyl die Bonebridge in die skedel geanker word. Olivier se mediese fonds, Discovery, het ten volle vir die apparate en prosedures betaal.

Volgens Olivier is Tiaan se liefde vir musiek versterk nadat hy die gehoorapparaat ontvang het.

“Hy gaan nou binnekort met klavierlesse begin en het onlangs deurgedring na die volgende ronde oudisies vir die Magaliesberg Kinderkoor,” sê Olivier trots.

Tiaan spog met sy nuwe gehoorapparaat. (Foto: Verskaf)

Tiaan is ook deel van sy skool, Laerskool Wonderboom, se Wonderklankies-koor. Hy het vanjaar daar met gr. 1 begin.

“Ek wou hom aanvanklik by ʼn private skool inskryf waar hy meer persoonlike aandag sou kry, maar hy kon nie uitgepraat raak oor hoe hy daarna uitsien om saam met sy ouboet, Janu (11), in die skool te wees nie. Ek kon dit nie oor my hart kry om die twee van mekaar te skei nie. Die skool waarin hy nou is, het egter glad nie geskroom om hom in te neem nie en hy vaar baie goed,” vertel Olivier.

Tiaan ontvang ook sanglesse by Eunice-sangskool en het onlangs aan Pacisa (Performing Arts Community in South Africa) se nasionale talentkompetisie deelgeneem en is ook deel van sy skool se dansgroepie, die Klawerklitsies.

“Daar is net geen einde nie. Die Pacisa-optrede was die eerste keer wat hy op ʼn egte verhoog voor mense opgetree het. Die week voor die kompetisie het hy gehuil en was baie bekommerd dat hy dit nie sou kon doen nie, maar die dag van die optrede het hy sy trane gesluk en dit net gedoen.”

Die ateljee-opname van “Die land” was ook sy eerste ervaring agter ʼn mikrofoon in ʼn regte ateljee by Pierré & Pauli Productions. Volgens Olivier was Tiaan na afloop van dié opname vuur en vlam om nog musiek op te neem.

“Hy was absoluut mal daaroor. Toe ons daar ry het hy net nie opgehou nie en gevra wanneer hy weer in ʼn ateljee kan sing,” vertel sy.

Olivier voeg by dat sy hom gereeld moet gerusstel dat hy net soos ander kinders van ouderdom is ten spyte van sy gehoorgebrek.

“Ek se altyd vir hom dat God hom gemaak het soos hy is vir ‘n rede en dat God die goeie uit elke slegte situasie bring. Ek maak seker hy weet dat sy lewe ʼn getuienis is en dat hy vir ander kinders soos hy hoop gee. Die feit dat hy sy talente kan uitleef beteken dat hy vir ander kinders kan hoop gee.

“Tiaan weet ook hy moet bitter dankbaar bly vir dit wat hy het, al is hy spesiaal en het hy die vermoë om ander mense se lewens te beïnvloed deur die talent wat God vir hom gegee het,”
sê Olivier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Melanie ·

Mag jy vreeslik ver kom in die lewe!! mooi seuntjie met n hart van goud.

Trotse Boervrou ·

Dierbare kind. So kosbaar. Ek voorsien dat hy nog baie harte gaan aanraak. Soveel selfvertroue. Pragtig Tiaan, hou so aan. Met daardie selfvertroue sal jy die wêreld verower.

johanf ·

Mooi seun, hoop jy kom nog ver, trots op jou en ouers wat jou so mooi leer.
Pragtig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.