Vier Paasfees met dié konserte

Zane Meas speel die titelrol in die musiekteaterproduksie, Barabbas. (Foto: Oela Photography)

Van ʼn herlewing van gebeure die dag toe Jesus van Nasaret gekruisig is en ʼn koorfees, tot konserte ten bate van skilpaaie. Maroela Media gee ʼn voorsmakie van teaterproduksies en klassieke musiekvertonings wat in April op gehore wag.

Barabbas (teater)

Barabbas, ʼn musiekteaterproduksie met Zane Meas in die titelrol, is ʼn herlewing van gebeure die dag toe Jesus van Nasaret gekruisig is. Dit bied ʼn buitengewone invalshoek met Barabbas, die terdoodveroordeelde politieke opstoker en moordenaar, wat aan die woord is.

Die musiek is saamgestel uit 13 gedigte wat professors Hans du Plessis en Bernard Odendaal geskryf het, en Lizanne Barnard, bekroonde musikant, komponis, sangeres en vervaardiger, het dit getoonset. Liedere wissel tussen genres en dit sluit onder meer klassieke, kontemporêre, rock- en kunsmusiek in.

Lizanne skuif agter die klavier, klawerbord en mikrofoon in, en sy word vergesel deur Walter Fourie (tenoor), Rhona van Niekerk (mezzo-sopraan), Julia Burger (sopraan), Anel van Niekerk (sopraan), Vinnie Henrico (tromspeler), Tyronne Hinrichsen (kontrabas), Adam Helberg (sang, kitaar) en Camelia Onea (violis).

Die produksie is op ʼn konsep deur Hans geskoei en dit is deur Lizanne geskryf, wat hiermee haar debuut as skrywer van ʼn teaterproduksie maak. Die musiek word aangevul met Andrew Botha se oudiovisuele ontwerpe.

Barabbas word op 1 en 2 April by die AfriForum Teater in Pretoria aangebied. Kaartjies kos R200 en dit is op die AfriForum Teater se webwerf beskikbaar.

Daniël Keet is op 16 April te sien in Aardklop Aubade se ‘Easter Choral Celebration’. (Foto: Verskaf)

Aardklop Aubade se Easter Choral Celebration (klassieke musiek)

Momentum Beleggings Aardklop Aubade se Sondagoggend-konsertreeks gaan op 16 April voort met Easter Choral Celebration, ʼn fees van koormusiek met die oog op Paasfees.

Die produksie bestaan uit twee groot werke vir koor, soliste en orkes met maestro Daniël Keet, en dit word in samewerking met die Etienne Rousseau Teater in Sasolburg aangebied.

Musiekliefhebbers kan uitsien na uitvoerings van Ludwig Beethoven se Choral Fantasy, ʼn fantasia vir klavier, koor en orkes in C Mineur, Op. 80, en Giacomo Puccini se Messa di Gloria, ʼn mis vir twee soliste, koor en orkes.

Easter Choral Celebration vind by die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria plaas. Die vertoning begin op 16 April om 11:00. Kaartjies kos R220 (prys onderworpe aan verandering) en dit is by Ticketpros beskikbaar.

Met Aardklop Aubade se “Daeraad Pakket” kry gereelde konsertgangers 20%-afslag op drie winterkonserte wat gedurende April, Mei en Junie aangebied word. Die pakket kos R480 (prys onderworpe aan verandering) en is by Ticketpro beskikbaar.

Schönbrunn Palace Orchestra (Foto: Verskaf)

Konserte ten bate van skilpaaie (klassieke musiek)

Suid-Afrikaners kan in Maart vertonings van die internasionaal bekroonde kamerensemble, Schönbrunn Palace Orchestra, bywoon wanneer dié orkes se eksklusiewe konserttoer in Maputo, Mosambiek, begin en daarna deur Suid-Afrika reis.

Fire Island Conservation bied die klassieke musiekkonsert, Symphony in Sea Major, aan met die doel om geld vir die bewaring van mariene en natuurlewe in te samel.

Dit is die eerste keer dat Schönbrunn Palace Orchestra, wat Europese gehore sedert 1997 met sopraan- en baritonuitvoerings bekoor, in Afrika optree. Die orkes tree in verskeie publieke en private vertonings op, by venues soos die Nasionale Krugerwildtuin, die magiese Drakensberge, die historiese Karoo en Kaapstad.

Besoek Fire Island Conservation se webwerf om meer oor Symphony in Sea Major se toerdatums, venues en kaartjieverkope te wete te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.