Nuwe duo vir Jacaranda FM se middagprogram

Jacaranda FM kondig hul nuwe middagspan aan. (Foto: Facebook/Jacaranda FM)

Twee nuwe dog bekende stemme gaan binnekort Jacaranda FM-luisteraars op pad huis toe deur die middagverkeer vermaak.

Dié bekende Gautengse radiostasie het Woensdag in ʼn mediaverklaring aangekondig dat Jacaranda FM-omroeper Rozanne McKenzie en voormalige 5FM-radioaanbieder Rob Forbes van 10 Augustus agter die middagspan se mikrofone inskuif vir die nuwe program, The Drive with Rob and Roz.

Volgens Hennie Myburgh, Jacaranda FM-programbestuurder, beloof die nuwe program om ʼn gemeenskapsgesentreerde benadering te volg en luisteraars met opwindende gesprekke ingelig te hou.

Rozanne Mckenzie. (Foto: Facebook/Jacaranda FM)

McKenzie het byna tien jaar terug by die Jacaranda FM-familie aangesluit en is dus geen vreemdeling vir luisteraars nie. Sy is tans daagliks saam met Alex Jay in The Workzone te hoor, maar sal nou vir die eerste keer die rol van mede-aanbieder inneem.

Sy het deur die jare ook ʼn gereelde gesig op ander mediaplatforms geword en sê sy het ʼn diepgewortelde passie vir Afrikaanse kultuur en om gemeenskappe bymekaar te bring.

“Jacaranda FM is regtig ʼn familie en ek voel ongelooflik geëerd deur hierdie nuwe geleentheid en platform om meer van myself met ons aanhangers te deel. Ek sien daarna uit om hierdie nuwe rol as mede-aanbieder te betree en ons luisteraars veilig huis toe te neem met positiewe energie en die lekkerste musiek,” het McKenzie oor haar nuwe rol gesê.

Rob Forbes. (Foto: Facebook/Jacaranda FM)

Rob Forbes se naam behoort ook ʼn klokkie by 5FM-aanhangers te lui.

Hy is in Pretoria gebore en getoë en spog met ʼn radioloopbaan wat oor byna 15 jaar strek. Forbes is ook in 2016 aangewys as een van die Mail & Guardian se “200 jong Suid-Afrikaners om dop te hou” in die mediakategorie.

“Ek sien uit daarna om ʼn vertoning te lewer wat waarde toevoeg tot ons luisteraars se lewe en dít alles begin met wonderlike musiek. Ek is passievol daaroor om inligting te deel op ʼn manier wat almal toelaat om deel van die gesprek te wees, en ek is regtig opgewonde om dit saam met Roz te doen wat al so lank deel is van die Jacaranda FM-gemeenskap,” sê Forbes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Harley Davidson ·

Rsg of bosveld stereo is waarna ek altyd luister.

AmY ·

Jacaranda doen dit lankal nie nie meer vir my nie.
Het so 16 jaar Groot FM (toe nog Radio Rippel) ‘per ongeluk ontdek’, en nooit weer terug gekyk nie.

B-Man ·

Hulle het my verloor toe jy nie meer Jakaranda oor die lug mag sê nie. Slegs “Jacaranda”.

Miena ·

Ag ek gee nie om na watter stasie sommer ek luister nie – dit wissel tussen 94.2, 94.7 en R2000. solank ek net na die nuus kan luister en daar lekker musiek gespeel word. Ek wil nie in algehele doodse stilte wees nie… Maar welkom aan julle in julle nuwe omroeper slotte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.