Parys-modeweek lewer prag, praal en paar verrassings

Monochromatiese en donker palette was aan die orde van die dag by Parys-modeweek 2022. (Foto: Stephane de Sakutin/AFP)

Hoewel dit vanjaar deur die voortslepende oorlog oorskadu is, het Parys se jaarlikse modeweek egter steeds talle prag, praal en pret opgelewer.

Verskeie ontwerpers het hulde gebring aan diegene wat tans onder die Oekraïense oorlog gebuk gaan en maniere probeer vind om solidariteit met Oekraïners te balanseer met die glans en skouspel van hul modevertonings.

Demna Gvasalia, ontwerper vir die modehuis Balenciaga, het erken dat modeweek soos ʼn “absurditeit” gevoel het teen die agtergrond van die oorlog, maar om nie voort te gaan nie, sou gevoel het asof hy moes “oorgee aan die boosheid wat my al amper 30 jaar lank so seergemaak het”.

Chanel-modelle het ook van kop tot toon in kleurvolle skakerings van die Franse modehuis se kenmerkende tweedtekstiel gepronk. (Foto: @chanelofficial/Instagram)

Gvasalia, wat self ʼn vlugteling uit sy geboorteland Georgië in die vroeë 1990’s was, het ʼn Oekraïense gedig voorgedra om sy vertoning te open en die sitplekke in die land se blou-en-geel vlag gedrapeer.

Die omgewingsbewuste modeontwerper en dogter van die Beatles-sanger Paul McCartney, Stella McCartney, het ook haar modeparade met uittreksels van pres. John F Kennedy se roerende 1963-toespraak oor die Koue Oorlog begin en daarna afgesluit met die John Lennon-lied “Give Peace a Chance”.

Modehuise soos Balmain en Dior se ontwerpe het ook ʼn amper vreemde vooruitsig in hul uitrustings weerspieël met jasse en rokke wat deur koeëlvaste baadjies en militêre uniforms geïnspireer is. Saint Laurent, Hermes, Rochas en Givenchy het almal hoofsaaklik monochromatiese en donker palette vir hul uitrustings vanjaar gekies.

Russiese mode geskrap

Frankryk se modefederasie, wat die ontwerpers vanjaar aangemoedig het om die week “in weerspieëling van hierdie donker tye” te beleef, het verlede Sondag gesê hulle kanselleer die Russiese ontwerper Valentin Yudashkin se modevertoning omdat hy nie die oorlog veroordeel het of soos ander Russiese ontwerpers aan die modeweek onttrek het nie.

Mrs. Doubtfire het ook ‘n draai in Parys gemaak by die Balenciaga-vertoning. (Foto: @alexisstone/Instagram)

Yudashkin, wat al jare lank aan die Parys-modeweek deelneem, het gehelp om die nuwe Russiese weermaguniforms te ontwerp.

Talle modehuise het egter geen melding van die oorlog gemaak nie. Vivienne Westwood se kenmerkende kleurvolle en kunssinnige uitrustings is vanjaar deur kabaret en teater geïnspireer. Chanel-modelle het ook van kop tot toon in kleurvolle skakerings van die Franse modehuis se kenmerkende tweedtekstiel gepronk. Dié Skotse materiaal is selfs teen die mure van die Grand Palais, waar die Chanel-modeparade vanjaar aangebied is, gedrapeer.

Die Parys-modeweek het egter talle BBP-gaste gelok, onder wie Kim Kardashian, geklee in die Balenciaga-handelsmerk, die aktrise Salma Hayek, wat deur haar modeldogter vergesel is, en ook Mrs. Doubtfire.

Die Britse fopdosser en grimeerkunstenaar Alexis Stone (regte naam Elliot Joseph Rentz) het die koppe laat draai by dié vertoning toe hy as wyle Robin Williams se geliefde karakter in die film Mrs. Doubtfire opgedaag het. Stone het gesigsprostese en ʼn lyfpak gedra en die hele proses op sy YouTube-kanaal gedokumenteer.

Die Parys-modeweek het egter talle BBP-gaste gelok, onder wie Kim Kardashian, geklee in die Balenciaga-handelsmerk, die aktrise Salma Hayek. (Foto: @salmahayek/Instagram)

Suid-Afrikaners het vanjaar óók op Parys se modeplanke gepronk. Die aktrise en TV-aanbieder Minnie Dlamini-Jones het model gespeel vir die Suid-Afrikaanse handelsmerk JessicaJane, wat deur die Suid-Afrikaanse akteur Wandile Molebatsi se vrou, Jessica Molebatsi, besit word. Molebatsi se “Frans-Xhosa”-reeks het onder meer handgemaakte wolrompe en Swarovski-versierde shweshwe (sis) ingesluit en is deur haar veelrassige familie geïnspireer.

Bronne: AFP, Entertainment Weekly

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.