RSG vier 85 jaar van kleur en klank!

Geselsprogramme, nuus en aktualiteit, leefstyl, dokumentêre, radiodramas, vermaak en musiek is maar net ván die elemente wat RSG enig in sy soort maak. Deur programme wat onderwerpe en temas van die dag aanpak, bemagtig RSG sy luisteraars om elke koffiekuier saam met vriende, kollegas en familie onvergeetlik te maak.

Volgens Louise Jooste, sakebestuurder, is “RSG is meer as net ’n radiostasie”. “Dis ʼn maat, ʼn vertroueling, en ʼn integrale deel van mense se leefwyse. RSG bied werklik ʼn tuiste vir almal – ongeag jou agtergrond of belangstelling. Jy sal iets kry waarvan jy hou of wat nuttig is vir jou.”

In Oktober vier RSG 85 jaar van Afrikaanse radio met ’n reeks aanbiedinge wat enige luisteraar nóg nader sal laat skuif. Dié feesvieringe  gaan deur die loop van Oktober op lug aangebied word met ‘n verskeidenheid van musiek, drama, dokkies en selfs kompetisies vir RSG se luisteraars. Programme sluit onder meer in:

  • ʼn Splinternuwe opdragdrama deur die bekroonde dramaturg Lee Doubell. June van Merch vertolk die hoofrol in Sou die sterre luister met Johan Rademan as die regisseur.
  • Johan Rademan en Martelize Brink gaan in Driesestig luisteraars agter die skerms neem met Onder die groen lig. Wat gebeur voordat ‘n program of omroeper op lug gaan? Hoe het die produksie van radio deur die jare verander? En wat is die dinge wat kan skeefloop voordat die rooi lig aanskakel?
  • Musiekliefhebbers kan uitsien na Fritz Klaaste se No. 1 vir 85 Jaar. Klaaste gaan elke Saterdagoggend die no. 1-treffers van die afgelope 85 jaar aftel.
  • Pieter van den Berg en die span van RSG Sport gesels met die groot sportsterre en -omroepers.

Die maand sluit af met ’n hoogtepunt: ʼn regstreekse konsert van U Eie Keuse vanuit die SAUK se M1-Ouditorium in Auckland Park op Saterdag 29 Oktober. Hierdie glanskonsert duur bykans twee uur en begin om 20:00. Dit word aangebied deur Willem Pelser en sal bestaan uit die gewildste versoeke van RSG se luisteraars. Geliefde treffers van die afgelope paar dekades sal deur ’n orkes en span topsoliste uitgevoer word.

Meer inligting kan gevind word by rsg.co.za, op Twitter (@zarsg) en Instagram (@rsg_100104fm)

Maak seker jy is ingeskakel op RSG en deel in die feestelikhede ter viering van 85 jaar van Afrikaanse Radio.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.