Centurion Teater: ʼn Gemeenskapsteater met persoonlikheid

Die Centurion Teater (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Die Centurion-teater is 25 jaar oud en is steeds een van die omgewing se mees geliefde plekke om die uitvoerende kunste opnuut te ervaar en waardeer.

Die teater is in 1993 deur dr. Douw Greeff gestig. Die aanvanklike plan was om dié geboue vir kantore in te rig, maar Greeff se seun het sy pa aangeraai om dit eerder te gebruik om iets vir die gemeenskap te doen. Hulle het toe die kantoorplanne by die argitek gekanselleer en dit verander na ʼn teater.

Susan Botha, Marlene Schmidt, Edrien Erasmus en Charlie Mopeli is aan die stuur van dié teater met sitplek vir 220 mense. Vir húlle is die teater ʼn tuiste waar hulle ou vriende kan verwelkom en nuwes kan maak.

“Dit is absoluut ʼn gemeenskapsteater. Daar is nie groot gepofte stoele en ʼn hoë verhoog nie. Daar is gewone stoele en die verhoog is net effens gelig van die gehoor af. Dit is baie persoonlik en intiem, en dit is wat die teater uniek maak,” sê Schmidt.

Edrien, Marlene en Susan (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Schmidt vertel dat daar aanvanklik rottangmeubels in die teater was. Daar was ook ʼn klein tafeltjie tussen twee stoele sodat teatergangers hul drankies daarop kon neersit.

“Ons wil nie té deftig word nie, ons wil die geselligheid van die destydse teater behou. Ons wil nie die bedoeling van die teater verander nie. Maar moenie dink dié teater is net ʼn glorified skoolsaal nie! Ons is ʼn volledige ingerigte en operasionele teater,” sê Erasmus.

“Ons het volledig professionele beligting, ons klank is onlangs oorgedoen én ons het twee kamers agter die verhoog waar die kunstenaars kan aantrek en ontspan,” sê sy.

Hoewel die Centurion-teater al van Suid-Afrika se bekendste kunstenaars soos Steve Hofmeyr, Riana Nel en Chris Chameleon op die verhoog gehad het, wil hulle tog vir minder bekende kunstenaars ook die geleentheid gee om in ʼn teater op te tree.

“Enigiemand kan hier optree. Dit is só ideaal vir iemand wat net ʼn begin nodig het. Hier is al skoolkonserte, CD-bekendstellings, dramageleenthede, korporatiewe gesellighede en prysuitdelings gehou. Die teater is klein genoeg om dit intiem te hou, sodat dit nie net die who’s who is wat hier kan optree nie,” sê Erasmus.

Dié teater het ook al drie troues, ʼn 70ste verjaardagpartytjie en ʼn gedenkdiens gehou. “Die moontlikhede is legio, jy stel dit voor en ons laat dit werk,” sê Schmidt.

Die Centurion-teater se slagspreuk is: “ʼn Tuiste vir die kunste en vermaak.” En dit is presies hoe die bestuurspan die teater wil bemark.

“Dit moet regtig ’n tuiste wees. Wanneer jy by die teater instap moet dit voel of jy by jou ma se huis instap vir Kersfees, of asof jy op ʼn plattelandse dorpie by die slaghuis instap. Ons vier ontvang mense ook self met ʼn glasie sjerrie wanneer hulle by ons ‘huis’ instap,” sê Erasmus.

Schmidt vertel van een geleentheid waartydens Jay du Plessis opgetree het en teatergangers later die stoele na die kante toe geskuif het en in die teater begin langarm het.

Ander herinneringe sluit in toe hulle die teater in ʼn sirkustent omskep het vir ʼn vrou se verjaardag. “Ons het die hele teater drapeer van die dak af, so as jy ingestap het, het dit sowaar gelyk of jy binne in ʼn sirkustent instap.”

Schmidt sê in dié teater kan mense regtig die menslikheid van die kunstenaar raaksien, omdat hulle so naby aan jou optree.

“Jy as teaterganger is deel van die vertoning. Franja en Ruan du Plessis het al vir ons gesê hulle het amper op hul senuwees gevoel omdat hulle so naby aan die gehoor is. Hulle is gewoond om verder weg te wees.”

“Riana Nel is ook baie gemaklik hier. Ons het so ʼn lelike bruin bank wat in die kelder staan, maar elke keer as Riana hier kom, soek sy dáái bruin bank op die verhoog,” sê Schmidt.

Charlie Mopeli werk al vir 16 jaar by die Centurion Teater (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Die kelder is deel van die Centurion-teater se persoonlikheid. Dié vertrek reg langs die teater se ingang is die plek waar gaste hulself kan help aan ʼn glasie wyn voor vertonings. Charlie Mopeli is al 16 jaar lank aan die stuur van dié afdeling.

Die bestuurspan beoog om in die nuwe jaar die teater se moontlikhede nog verder uit te brei, onder meer deur die kelder te gebruik om geleenthede waar wyn, brandewyn en jenewer geproe kan word, aan te bied. Dié akoestiese aande sal met musiekuitvoerings gepaard gaan.

“Dit is so belangrik om die kultuur van teater te laat voortleef. In alle eerlikheid, die lewe ís ernstig en almal stres oor iets. Maar die teater vat jou weg uit jou realiteit, vir daardie uur of halfuur kan jy net wéés, jy kan net lekker lag of lekker huil en bietjie ʼn wegbreek van die werklikheid af,” sê Erasmus.

“En wie weet, as jy hier wegstap, vat jy dalk iets saam met jou huis toe wat jy in jou hart ken bêre. Jy kry dit net nêrens anders nie.”

Schmidt hoop dat mense in die toekoms na die teater sal kom, hul boksterte sal losmaak en lekker sal kuier saam met geliefde oor ʼn glasie wyn.

“Ek wil hê julle moet hierheen kom en kan veilig voel. Ek wil hê julle moet kan sê: ‘Nóú is ek by die huis’.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Juffrou ·

Stem saam. Lekker knus en klein, sonder om die definisie van teater skade aan te doen. Behoort nog méér uit die gemeenskap ondersteun te word.

Trudie ·

Voel altyd tuis daar. Dis so gesellige plek en beslis my gunsteling teater.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.