Dit ‘klop’ weer in Potchefstroom

Aardklop 2019 (Foto: Verskaf)

Feesaanhangers, stalletjie-entoesiaste en borrelende studente kan hul ore spits en solank hul partytjieskoene aantrek, die Momentum Beleggings Aardklop kom maak binnekort weer ’n Potchefstroomse draai.

Potchefstroom bars vanjaar van 30 September tot 2 Oktober uit sy nate met Aardklop se propvol feeskalender en produksies wat feesgangers nie kan misloop nie.

Feesgangers sal oudergewoonte deur stalletjies kan wandel gedurende die drie feesdae, terwyl vermaakreuse die verhoë oor die studentedorp heen sal deurtrap.

Nataniël, Frank Opperman, Margit Meyer-Rödenbeck, Marion Holm, Charl du Plessis en Rocco de Villiers is maar net ʼn paar van die groot name wat dié naweek in Potchefstroom te siene sal wees. Die Afrikaanse sanger Willem Botha kom loer ook in met sy grimeermeesterklas.

Die feesterrein is vanjaar by die NWU-joolterrein en die ingangsfooi sal R50 per persoon beloop (kinders onder 12 is gratis).

Die reusekos- en kunsmark, jolige musiekverhoog en lekker kuierplek wat feesgangers deur die jare leer ken het, bied vermaak vir die hele gesin.

Daar kan uitgesien word na produksies soos Die Smitstraat Suite deur Nataniël, Laerskool Noord met Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck, Ilne Fourie en Neels Coetzee en Ek wens, ek wens met Frank Opperman.

Die datums en plekke vir Momentum Beleggings Aardklop se opwipfees is soos volg:

Teater- en musiekproduksies, asook ʼn feesterrein vind van 30 September tot 2 Oktober in Potchefstroom plaas.

Pretoria se teaterweek is van 30 September tot 9 Oktober, met ʼn feesterrein van 6 tot 9 Oktober.

Teater- en musiekproduksies in Linden vind van 6 tot 9 Oktober plaas.

  • Besoek die webwerf vir meer inligting en om kaartjies daarvoor te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elma ·

Ek dink nie Potch gaan uit sy nate bars soos ons gewoond is nie. Die feesprogram vir Potch is maar baie afgewater.
Die “vermaakreuse” waarna verwys word, maak beslis nie deel uit van die musiek wat op die feesterrein gaan wees nie – ek ken dalk 2 van die sangers!
Selfs R50 is te veel vir my om dit by te woon. As ek na die tendens kyk van hoe min die organiseerders aanbied en reel vir Potch Aardklop, wat altyd die HART VAN AARDKLOP was, vermoed ek dat die stalletjies ook nie meer dieselfde gaan wees nie.
Ek is DIEP hartseer.

Republikein in die Wes Kaap ·

Kan ons nog “fees vier” terwyl onskuldige mense om ons slagoffers is van misdaad?

Elma ·

Ons kan ja. Die lewe is kort en sekerlik mag ons dit nog geniet?

Jakkie ·

Verseker moet ons aanhou lewe. Die kunste in ons taal moet verder uitgebou word. Mens doen dit verantwoordelik en met die nodige respek. As dit reen gaan speel ek in die poeletjies……..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.