Geskiedkundige oomblik toe veterane ‘Die Kaplyn’ kyk

Die akteurs en produksiespan van ‘Die Kaplyn’ saam met die veterane wat die vertoning bygewoon het. (Foto: verskaf)

Deftig getooi in ’n uniform wat hul titels, diens en militêre toewyding gestand doen, was ’n groep voormalige valskermsoldate slaggereed vir ’n nostalgiese teater-ervaring by die AfriForum Teater in die ooste van Pretoria.

ʼn Ervaring wat hulle teruggeneem het na ʼn era van basiese opleiding, ’n blik vol Dear Johnny-briewe en kospakkies sorgvuldig gepak deur ’n ma wat wonder of sy haar seun weer lewendig gaan sien.

Die Kaplyn, ’n musiekblyspel wat teen die agtergrond van die grensoorlog in die 1980’s afspeel, vertel ’n verhaal van familie, vergifnis en die grootste prys wat jong mans moes betaal.

“Dit neem kykers op ’n tuimeltreinrit van emosies,” het Annelize Brits, die woordvoeder van die Valskerm Veterane Organisasie (PVO) gesê.

“Die veterane, of soos hulle in die volksmond bekend staan, “parabats”, het ’n jong, maar trotse geskiedenis. Deur die jare het baie jong manne probeer om die gesogte vleuels te verwerf, maar net die beste van die bestes kon dit regkry.”

En die manne wat die vertoning bygewoon het, is dit eens: “Dit was fantasties.”

Die Kaplyn se storie is fyn verweef met dié van die gehoor. Vir ma, ouma, oupa, pa en oom is dit maklik om hulself skielik weer op die grens, in die kombuis te bevind, besig om beskuit vir die troepe te bak, of selfs by ’n begrafnis van ’n jong soldaat te wees.

Die trane lê vlak, en volgens die groep veterane wat hulself in die gehoor Sondag bevind het, is die trane eg.

“Alhoewel die ’n teateropvoering is, het die besoekers dadelik klein details opgelet wat die vervaardigers reg weergee. Die manne voel tevrede en trots dat die vertoning goed verteenwoordigend is van hoe dit was,” het Annelize gesê.

“Dit is juis die fynere detail wat die vertoning so geloofwaardig maak. Tannie Mossie, oftewel Joan Abrahams (vertolk deur Zoricke Snyman), word onthou – sy was soos ’n ma vir die parabats.”

Lt.kol. Ronnie Claassen, stigterslid van ’n valskermbataljon wat op 1 April 1961 gestig is en “pa van die parabats”, soos wat veterane vandag na hom verwys, was ook in die gehoor. Koos Moorcroft, stigterslid van die verkenningskommando (Recces), het ook deel van die groep trotse veterane uitgemaak.

Ronnie en Koos het nie met leë hande by die teater opgedaag nie, hulle het ná die afloop van die vertoning vir elkeen van die akteurs en lede van die produksiespan ’n roos met ’n Tannie Mossie-kaartjie gegee om hulle te bedank.

‘n Versamelstuk is aan die AfriForum Teater oorhandig. (Foto: verskaf)

Willoughby Brits (president van die PVO) en Chris Pohl (voorsitter van Pretoria Canopy) het aan AfriForum teater, die Pro Patria-museum, Johan Vorster en Jannes Erasmus elk ’n versamelaarsafdruk oorhandig, terwyl Jacomien de Wet ’n ruiker ontvang het.

Dié vertoning het voortgegaan ten spyte daarvan dat Ilán van Staden, wat een van die hoofkarakters, Ben Joubert Jr., vertolk Saterdag gesondheidsprobleme ervaar het. Ilán se hart het buitengewoon vinnig geklop tydens die pouse van een van die vertonings, waarna die groep akteurs en toe later die gehoor vir hom gebid het.

“Hul reaksie was verstommend en ek haal my hoed af vir die menslikheid van die gehoor. Een man het selfs opgestaan en gevra of die gehoor vir Ilán kan bid. Die hele gehoor het saam gebid. Ek het nog nooit só iets in my loopbaan teëgekom nie,” het Jannes Erasmus, regisseur en skrywer van Die Kaplyn Sondag aan Maroela Media gesê.

Een van die naweekvertonings is weens dié noodgeval gekanselleer en gehoorlede sal op ’n ander geleentheid genooi word om die vollengte vertoning te kyk.

Daar is ook onlangs aangekondig dat die speelvlak van die musiekspel tot 4 Junie verleng is. Koop jou kaartjies hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.