Margit bied vanjaar driedubbele dosis KKNK-vermaak

Margit Meyer-Rödenbeck in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Om ʼn komedie oor ʼn ouma van Garries, ʼn interaktiewe teaterervaring oor boeliegedrag én ʼn eenmanstuk oor die oerwonde van trauma by een kunstefees aan te pak, sit nie in enigeen se broek nie.

Maar Margit Meyer-Rödenbeck is as’t ware nie net enigiemand nie, en die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) is vir haar nie net ʼn gewone fees nie – sy het dit immers nog net een jaar misgeloop tydens haar swangerskap in 2009.

“Kyk, ʼn mens moet jou kop laat lees om gelyktydig soveel goed aan te pak, maar die KKNK is immers die moederfees, so jy maak ʼn plan!” sê Margit aan Maroela Media.

As vervaardiger is sy vanjaar verantwoordelik vir drie KKNK-produksies, naamlik Ken jy vir Dewie?, Hoerkind en Ouma is op pad. Vir Hoerkind en Dewie is sy boonop regisseur en in Ouma is op pad klim sy self in ouma se wyse en komiese ortopediese skoene.

“Om voor en agter die verhoog te werk verskil hemelsbreed. As regisseur is al my are oop: Jy moet só fyn waarneem, jy luister en alles observeer – jy is stokflou as jy saans by die huis kom. As aktrise observeer jy ook, maar jy’s bietjie meer selfgesentreerd want jou fokus is op jou spel.

“As vervaardiger werk jy maar net jou bas af,” voeg sy laggend by.

“Ek geniet nie een rol meer as die ander nie, want die ou wat aan die einde die applous op die verhoog kry, deel dit eintlik met sy hele span.”

Hoerkind het verlede jaar sy buiging by die KKNK gemaak en is ʼn eenmanstukverwerking van Herman Lategan se blitsverkoperboek Hoerkind: Die memoires van ʼn randeier.

Geon Nel in “Hoerkind”. (Foto: Verskaf)

Teksverwerking van dié unieke stuk het op die akteur, regisseur en teksskrywer Francois Toerien se skouers gerus, en Geon Nel het in Herman se kleurvolle, byna teatrale, skoene geklim.

“Ja, daar moet mooi op die verhoog wees, maar alles kan nie altyd mooi en goed wees nie. Die boek en verhoogstuk se einde is mooi, en die klem bly dat ʼn mens ten spyte van alles wat met jou gebeur, groot sukses kan maak. Niks wat die moeite werd is, kom maklik nie en Herman het nie ʼn maklike lewe gehad nie,” het sy destyds oor dié produksie aan Maroela Media vertel.

Ouma is op pad is deur Margit se man, Jurgen Human, neergepen en is geskoei op die ouma van haar immergewilde Dowwe Dolla-karakter. Hoewel sy eintlik saam met Dolla einde 2021 “afgetree” het, het ouma klaarblyklik nog ʼn hele paar wyshede om met die jonger garde te deel.

Volgens Margit het dié karakter op aanvraag van Hugo Theart, uitvoerende hoof en kunsdirekteur van die KKNK, haar opwagting vroeër as beplan gemaak.

Margiet op die verhoog as Dowwe Dolla se ouma. (Foto: Verskaf)

“Ek wou juis weens ons besige program nog nie vir Ouma aanpak nie, maar nou open ons by die KKNK en ek glo sy nog die land plat reis daarna. Dis pure, lekker komedie. Die ouer garde gaan hulself in haar sien en die jonger mense gaan dadelik hul ouma of oupa in haar sêgoed herken.”

Coenraad Rall is saam te sien as die “Tokkelaar” op die klavier vir Ouma is op pad.

Met Ken jy vir Dewie? poog Margit en Ilne Fourie, wat saam met haar in Laerskool Noord te sien was, om boeliegedrag en die soeke na aanvaarding op ʼn unieke wyse aan te pak.

Sy verklap nie veel oor die storielyn nie, behalwe dat Dewie swaarkry en sy verhaal en interaksies dien as bewyse van die gevare van stereotipeer.

Robert Hindley, Crystal-Donna Roberts en Joshwin Dyson is saam te sien ‘Ken jy vir Dewie?’. (Foto: Gys Loubser/Verskaf)

Haar hoop is om die produksie later by skole aan te bied.

Crystal-Donna Roberts, Robert Hindley en Joshwin Dyson is in dié interaktiewe verhoogstuk te sien, wat oorspronklik as leesteater by die KKNK se Teksmark in 2023 voorgelê is.

“Op skool lyk dit soms eenvoudig – daai een is die nerd en hierdie een is die boelie – maar elke persoon het verskillende fasette. Kinders word oorlaai met inligting oor boeliegedrag en dit word aangeroer, maar dalk moet ons dit in ons eie lywe deur teater voel om dit beter te verstaan,” verduidelik sy.

“Die gehoor hoef niks te doen nie, maar hul sit ook in ʼn skoolsaal-opset en word deur ʼn ‘juffrou’ ingelei. Álles van jou eie skooldae, en al die herinneringe, kom dan sommer vinnig terug na jou toe.”

Volgens Margit moet die publiek ook eienaarskap van Afrikaanse kunste neem deur feeste soos die KKNK toenemend te ondersteun.

“Afrikaanssprekendes is gebore storievertellers en in die teater staan ons in diens van daardie stories. Die taal is so ryk aan kultuur en ons moet dit beskerm.”

Ook die heimwee en herinneringe van kunstefeeservarings lê haar na aan die hart.

“Ek’s nog altyd mal oor die Karoo en as ek soontoe ry, voel dit asof ek teruggaan na die huis van die kunste toe om van my familielede weer sien – ek het net goeie herinneringe daar. So toe nou mense, lig jou bas, klim in jou kar en kom Karoo toe!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.