Dowwe Dolla hang stiletto’s op

Dowwe Dolla hang na 25 jaar haar stiletto’s op. (Foto: Robert Hamblin)

Die afgelope 25 jaar vermaak die blondekop komediant Dowwe Dolla die Afrikaanse volk met ʼn suigstokkie in die mond en in hemelhoë stiletto’s aan haar voete.

Margit Meyer-Rödenbeck, wat dié geliefde karakter gestalte gegee het, het egter verlede jaar tydens die pandemie besluit dis tyd vir Dolla om haar stiletto’s op te hang.

Margit het verlede jaar haar 50ste verjaardag gevier en soos wat alles in die lewe in seisoene gebeur, het sy besluit Dolla moet rus sodat sy wat Margit is, tyd kan maak vir ander dinge wat nog op haar emmerskoplysie is.

Een van dié goed op haar lysie is om meer gereeld televisiewerk te doen, wat uiteraard moeilik is om te doen wanneer jy elke kort-kort op die verhoog moet verskyn. As eienaar van Die Boer-teater in Durbanville, Kaapstad, is teater in haar bloed, maar as aktrise wou sy graag haar vlerke sprei en daarvoor moes Dolla se pad tot ʼn einde kom.

Margit het in die laaste seisoen van Die Boekklub die rol van Vera, ʼn rein predikant met baie lae, vertolk. Nou is sy ook te sien in die kykNET-sepie Binnelanders as die gewetenlose Nadine, ʼn madame uit die onderwêreld.

Dié karakter het eers onlangs haar verskyning begin maak, maar krap reeds Binnelanders-kykers om met haar manipulerende houding teenoor Danny, wat vertolk word deur Bradley Olivier.

“Dit is die magic van wat ons doen en die wonder van sepies – dit laat mense uit die werklikheid ontvlug en sepies kan natuurlik nie sonder ʼn slegte ou wees nie,” vertel Margit aan Maroela Media.

“Nadine is Vida, Danny se skurk van ʼn ma, se tweede in bevel en sy is in die Noorde om haarself te vestig. Sy is ʼn wonderlike karakter om te speel, want met ʼn baddie kan jy ander tipe proppe uittrek as aktrise en jy kan anders delf in ʼn donker psige as in ʼn ligte, satiriese karakter soos Dolla.”

Margit Meyer-Rödenbeck teenoor Bradley Olivier in ‘Binnelanders’. (Foto: Verskaf)

Dit is Margit se heel eerste sepierol, aangesien Dolla en ander teaterproduksies haar nie voorheen die geleentheid gebied het om weke aaneen op ʼn sepiestel deur te bring nie.

“Om tyd op die verhoog en tyd op rolprent- en televisiestelle met mekaar te laat trou, is baie moeilik. Ek het besef daar is sekere goed wat ek sal moet laat gaan as ek meer wou doen en by alles wou uitkom wat ek nog op my lysie het. Ek het ook besef so lank as wat ek vir Dolla lewend hou, is daar nie tyd om ander goed te doen nie.”

Sy vertel sy wou verlede jaar tydens die streng inperking weens die Covid-19-pandemie vir Dolla met ʼn aanlyn konsert groet, maar haar man, Jurgen Human, het haar oortuig dat Dolla darem ʼn bietjie meer fanfare as dit verdien.

“Hy het vir my gesê ek het ʼn verantwoordelikheid teenoor Dolla om ordentlik van haar afskeid te neem, op klein dorpe reg oor die land waar sy die laaste 25 jaar haar stempel afgedruk het. Dolla maak dus nou tot 13 Desember vanjaar ʼn laaste draai op groot en klein verhoë met ʼn Koebaaiwaaitoer.

“Mense vra my kan sy nie nóg ʼn bietjie optree nie, maar ek hou voet by stuk – op 13 Desember is Dolla se heel, héél laaste konsert. Ek is baie lief vir Dolla en sy was deur die jare baie goed vir my en het my soveel plekke laat sien, maar dit is tyd om afskeid te neem.”

Dowwe Dolla hang na 25 jaar haar stiletto’s op. (Foto: Robert Hamblin)

Margit is onder meer die vervaardiger van die verhoogstuk Die dinge van ʼn kind, met Cintaine Schutte, en Spertyd, met Sandra Prinsloo. Sy en Alexa Strachan is ook besig om die Marita van der Vyver-roman Grensgeval vir die verhoog te verwerk.

Intussen is sy ook besig met kinderteater en om haar dagboek nog meer oop te maak vir televisie- en rolprentrolle.

“Teater bly egter in my bloed. Daar kry ek onmiddellik my reaksie, dit is my fix. Mense huil en klap hande en al is dit ʼn vlietende ervaring wat jy nie noodwendig kan vasvang nie, bly teater in my are.”

Margit gee toe dat alle Afrikaners nie ewe lief is vir Dolla nie, maar voeg by dat die doel van satiriese komedie juis is om opspraak te wek en dat sy deur die jare op verskeie tone getrap het.

“In die regte lewe is dit tog ook so dat almal nie van almal hou nie en dit is heeltemal oukei. Ek het wel ondervind dat die meeste mense wat nie vir Dolla kan verdra nie, nog nooit ʼn vertoning van haar gekyk het nie. Nou is daar egter hordes ander goed wat ek wil aanpak en om dit reg te kry, moet Dolla haar grappies bêre.”

Dowwe Dolla se Koebaaiwaaitoere vind op die volgende datums plaas:

28 Okt.                 Swellendam – The Teatro at Ten on Main; [email protected]

29, 30 Okt.         Oudtshoorn – Karusa; Quicket

31 Okt.                 Mel’s Place Plettenbergbaai – middagete 14:00; Tixsa

2,3 Nov.              Uitenhage – Barklystraat Teater; 082 809 4272/ [email protected]

4 Nov.                  Port Elizabeth – The Wedding Venue at The Barn, Blommelaan, Groenbossies; Westway Tickets, Hellen (082 487 3118) of Anton (083 760 0609)

5, 6 Nov.              Jeffreysbaai – Potter’s Place;  072 428 2611 of 063 491 6157

18 Nov.                Buffelspoort – Vroulieffees; 014 572 1000/[email protected]

2 Des.                   Fauresmith – Karoohuis; 071 603 7258

3 Des.                   Kimberley – Yonder Hartsfees; 053 841 0537

4, 5 Des               Bloemfontein – Aasvoëlklub; Phoenix pro/079 796 7975/[email protected]

6 Des.                   Welkom – Die Melkkan; 084 517 4699

10-13 Des.           Durbanville – Die Boer-teater se restaurant; 021 979 1911/aanlyn www.dieboer.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

modiglianigirl ·

Aggenee! Baie dankie Magrit vir jou onbaatsugtige bydrae tot die Suid Afrikaanse kuns en kultuur. Ek geniet jou gesonde uitkyk en jy som dit báie raak op met jou opmerking dat die nulle wat jou nie kan waardeer nie, nog nooit een van jou vertonings bygewoon het nie. Onkunde is ‘n lelike ding en soms maar beter om nie uitgestal te word nie. Ek sien wel baie uit na jou nuwe karakter vertolkings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.