Parel Vallei se tienertoneel wéér bobaas

Hoërskool Parel Vallei van Somerset-Wes is die nasionale wenner van vanjaar se ATKV-Tienertoneelkompetisie met die produksie ‘mAaNmAaTs’. (Foto: Nardus Engelbrecht)

Hoërskool Parel Vallei van Somerset-Wes is vir die tweede agtereenvolgende jaar as die nasionale wenner van die ATKV-Tienertoneelkompetisie gekroon met die produksie mAaNmAaTs.

Hiervoor ontvang hulle R30 000 aan prysgeld en die ATKV-Tienertoneelwisseltrofee.

Die skool het ook die prys vir beste ensemblewerk ingeoes en hulle ontvang die prys vir beste media-en-bemarkingsportefeulje vir hulle volgehoue bemarking van die produksies 5678, (kant)LYNSTAAN, Die susterskap en mAaNmAaTs.

Hoërskool Jan van Riebeeck van Kaapstad is as die naaswenner aangewys en ontvang R20 000 aan prysgeld vir Wat die water weet. Helpmekaar Kollege in Johannesburg se ʼn Einde het in die derde plek geëindig en die produksie ontvang R10 000 aan prysgeld.

Benewens hierdie kontantpryse kry die drie topproduksies ook volgende jaar ʼn speelvak op die Suidoosterfees en die wenproduksie, mAaNmAaTs, is op 10 en 11 Oktober by die Toyota US Woordfees te sien.

Meer as 3 000 tieners van reg oor Suid-Afrika het vanjaar aan die ATKV-Tienertoneelkompetisie deelgeneem. Die topproduksies, waaronder die eerste twee produksies in die slegs-leerderskategorie, het van 5 tot 8 Oktober meegeding in die eindronde wat by die Kunstekaap in Kaapstad plaasgevind het.

Die musiekgroepe Rooksein en Droomsindroom het die gehoor vermaak en die akteur en komediant Solomon Cupido was die pittige seremoniemeester by die geleentheid.

Hoërskool Jan van Riebeeck van Kaapstad is as die naaswenner aangewys vir ‘Wat die water weet’. (Foto: Nardus Engelbrecht)

ʼn Swaargewig‑beoordelaarspaneel moes behoorlik kopkrap om die wenners van dié gesogte tienertoneelkompetisie aan te wys danksy dapper tieners wat met hul passie die verhoog aan die brand gespeel het.

Jacques Bessenger, Mari Molefe van Heerden, Pietie Beyers, Marijda Kamper, Zenobia Kloppers en Wilhelm van der Walt was op die paneel en hulle is dit eens dat die 12 topproduksies kreatiewe baanbrekerswerk gedoen het. Die paneel sê verder dat die toekoms van die teater met sulke talent en innovasie kerngesond is.

Hier volg ʼn volledige lys met wenners in vanjaar se ATKV-Tienertoneelkompetisie:

  • Beste verhoogbestuurder: Christine Cockett van Hoërskool Parel Vallei met mAaNmAaTs.
  • Beste klankoperateur: Nel Rohland van Hoërskool Tygerberg met Die wêreld is ons woning nie.
  • Beste beligtingsoperateur: Megan Payne van Helpmekaar Kollege met ʼn Einde.
  • Beste hantering van tegniese aspekte: Hoërskool Eldoraigne met Sad girl musiek.
  • Mees belowende spel in ʼn rol: Caylee Ray van Hoërskool Jan van Riebeeck as Jana in Wat die water weet.
  • Beste akteur in ʼn ondersteunende rol: Dade Jason van Hoërskool Tygerberg as “Tiger” Abrahams in Die wêreld is ons woning nie.
  • Beste aktrise in ʼn ondersteunende rol: Corrine-Marie van Hoogdalem van Hoërskool Noordheuwel as “Ma” in Na ʼn ander aarde.
  • Beste akteur in ʼn hoofrol: Paul Strydom van Hoërskool Parel Vallei as “Paul” in mAaNmAaTs en Vian Singleton van Helpmekaar Kollege as “Benjamin” in ʼn Einde.
  • Beste aktrise in ʼn hoofrol: Zonika de Vries van Helpmekaar Kollege as “Amy” in ʼn Einde.
  • Beste regisseur: Darryl Spijkers van Hoërskool Parel Vallei met Die susterskap.
  • Beste slegs-leerdersproduksie, wat ʼn kontantprys van R10 000 ontvang: Hoërskool Zwartkop met Oberon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.