Room van teater by KKNK te sien

Marion Holm.

Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) het vandag (Dinsdag) weer oudergewoonte in Oudtshoorn afgeskop en sal tot Sondag 3 April die room van die Afrikaanse musiek- en teaterbedryf ten toon stel.

Boek- en teatergesprekke, ʼn diskoersreeks en kinderteater is ook vanjaar op die tafel en feesgangers kan uitsien na die werk van ʼn keur van die land se beste skrywers, akteurs en sangers.

Talle produksies debuteer vanjaar op die planke by dié gewilde fees, wat vir die eerste keer weer in sy volle glorie aangebied word sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie in 2020.

Agulhasvlakte, met Kay Smith, René Cloete en Wilhelm van der Walt, vertel die verhaal van twee susters, Milly en Amy, en ondersoek op ʼn eerlike en menslike manier die kwessie van identiteit en geboortegrond.

Bientang: bloedspoor/!nau is ʼn verwerking van die bekroonde digter Jolyn Phillips se tweede digbundel, Bientang. Charlton George, Frazer Barry, Jolyn Phillips en Deniel Barry is in die produksie te sien.

Dit kyk na die legende van ʼn vrou, Bientang, wat in Hermanus in ʼn grot gewoon het. Haar geskrewe geskiedenis word op die agterkant van ʼn plaaslike restaurantspyskaart saamgevat as “Die laaste Strandloper”.

Die vertellers verken en gebruik deurlopend verskillende elemente van storievertel en musiek. Dié produksie ondersoek die ervaring van historiese en kontemporêre inheemswees: Hoe word ʼn mens ʼn laaste?

Die halwe huis met Marlo Minnaar, Drie kaalkoppe kuier tesame met Dana Snyman, Koos Kombuis en Erns Grundling, Ek, Anna van Wyk met Tinarie van Wyk Loots, Dawid Minnaar, Albert Pretorius, Carlo Daniels, Wilhelm van der Walt, Geon Nel, Gideon Lombard en René Cloete, Karatara met Dean Balie, Shaun Oelf en Grant van Ster, Shadow Boxing met Daniel Newton en Terminaal 3 met Edwin van der Walt, Carla Smith, Stian Bam, Anna-Mart van der Merwe en André Roothman maak ook vanjaar hul debuut op die planke by die KKNK.

Produksies soos Die dinge van ʼn kind met Cintaine Schutte, Ek wens, ek wens met Frank Opperman, Kameras, konserte en kleedkamers met Lizz Meiring, en Holmruggery met Marion Holm is ook op die fees te sien.

‘Holmruggery’ is ʼn samestelling van Marion Holm se beste stories uit haar vertonings van die afgelope 16 jaar.

Holmruggery is ʼn samestelling van Holm se beste stories uit haar vertonings van die afgelope 16 jaar. Die aktrise het onlangs aan Maroela Media vertel dat sy slegs een doel voor oë het met dié vertoning, en dit is om die gehoor te laat skater.

“Kort voor die inperking het ek ʼn ander vertoning getiteld Marion Holm geskryf en gerepeteer – die kostuums en plakkate was reeds gemaak. Nadat die pandemie ons getref het, het ek egter gevoel dié vertoning is nie gepas vir wat gehore vandag nodig het nie. Daarom het ek besluit om die beste stories uit my laaste klomp vertonings saam te stel sodat mense net agteroor kan sit en uit hul mae uit lag,” het Holm vertel.

Volgens Holm is Holmruggery ʼn aanbieding vir diegene wat al haar produksies gesien het en wat lief is vir haar manier van storievertel.

“Ons almal ervaar baie hartseer en dit gaan werklik swaar met sommige mense, op ʼn emosionele en geldelike vlak. Ek het hierdie vertoning aanmekaargesit met alles wat ek kon vind wat snaaks is. As mense wil kom sit en ordentlik wees, is die vertoning nie vir hulle nie – ek wil hê hulle moet onbeskof en lelik kom lag.”

Holmruggery is op 31 Maart om 14:00, 1 April om 10:00 en 2 April om 10:00 by die kykNET Hoërskoolsaal te sien.

Kaartjies kos tussen R180 en R200 en is aanlyn of by die deur beskikbaar.

Vir meer inligting oor die fees, besoek die webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.