Video: Aangrypende oorlogsverhaal op die planke vertel in ‘Die Kaplyn’

‘Die Kaplyn’ is Woensdag amptelik bekend gestel. (Foto: verskaf)

Die Kaplyn is ʼn musiekblyspel wat nie net die aangrypende verhaal van een van die grootste gebeurtenisse van ʼn generasie vertel nie, maar ook van vergifnis, familie en versoening.

Die amptelike bekendstelling van dié produksie, wat tydens die grensoorlog in die 1980’s afspeel, het Woensdag by die AfriForum Teater in Pretoria plaasgevind.

Bekendes soos Rina Hugo, Sonja Herholdt, Steve Hofmeyr, Gretha Wiid, Sean Else, Kaz McFadden, Germandt Geldenhuys en Je-ani Swiegelaar het die bekendstelling bygewoon.

“Dit was beslis ’n eye-opener vir ons jong klomp gewees,” het Je-ani na die afloop van die vertoning aan Maroela Media gesê.

“Ons besef nie altyd wat die mense vir ons land opgeoffer het, die lewens wat op die lyn, of eerder die kaplyn, gesit is nie.”

Vir Steve is dit ’n produksie wat hom nostalgies aan sy eie dae in die grensoorlog laat terugdink het. Die Kaplyn speel af sowat drie jaar voordat hy self grens toe is.

“Dit is dieselfde tydperk, dieselfde musiek, dieselfde haarstyle, dieselfde bell bottom-broeke – lekker hoog opgetrek,” het hy skertsend aan Maroela Media vertel.

“Maar ook dieselfde onskuld en naïwiteit.”

Hy erken dat hy destyds nooit gedink het aan die vroue wat tuis doenig was met kospakkies en briewe vir die soldate op die grens nie.

Die musiekblyspel het hom egter maklik laat terug dink aan die kospakkies wat sy ma al te dikwels vir hom gepak het, die liefdesbriewe wat sy meisie vir hom geskryf het.

“Die produksie bring beslis ’n paar herinneringe terug. Ek het gedink dat dit sou moeilik wees, maar dit is eintlik lekker om te kyk. Dit is ’n baie belangrike era van ons lewe.”

Die span agter ‘Die Kaplyn’. (Foto: verskaf)

Dit was veral vir Jackie ’n hoogtepunt om te hoor dat Sonja Herholdt in die gehoor gesit het terwyl sy Sonja se ikoniese “Ek verlang na jou” in die produksie gesing het.

“Ek sou nie die liedjie kon sing as ek geweet het dat sy hier was nie,” erken Jackie.

“Ek kan nie wag om my ma hiervan te vertel nie!”

Abel Knobel, wat die rol van Ruan Joubert vertolk, nooi mense met ope arms uit om na die produksie te kom kyk.

“Ons bid voor elke liewe vertoning dat daar salwing sal plaasvind, dat die Here mense in die gehoor se harte sal sag maak en dat Hy hulle sal genees van die seer,” het hy vertel.

“Daar is wonderlike goed wat gebeur in die gehoor. Ons wil net hê dat mense hul harte terug na God toe moet draai.”

  • Die Kaplyn is tot Sondag 21 Mei by die AfriForum Teater in Pretoria op die planke. Koop jou kaartjies hier.
  • Kyk ’n video van die bekendstelling hier: 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

skurweberg ·

Ek was ‘n oud-weermag-loteling wat vir 13 jaar, elke jaar kampe gedoen het. Vandag is ek ‘n staatsdiens-persionaris wat oorleef. Geniet die vertonings vir die wat bevoorreg is om dit te gaan kyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.