Video: Sandra, David takel dood met diepte, humor

David Viviers en Sandra Prinsloo in Oudtshoorn tydens vanjaar se KKNK. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Om die humor in alles raak te sien, selfs in die dood, is volgens die aktrise Sandra Prinsloo deel van die genesing- en aanvaardingsproses van sterflikheid.

In Henque Heymans se verhoogstuk Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die  dood oorgeslaan vind Sandra se karakter, Nora, uit, ná ʼn donker komiese reis deur die onderwêreld, dat die hiernamaals toe baie minder deftig is as wat ons gedink het.

Die onderwêreld word nie as heilig, hartseer of selfs eens depressief nie voorgestel nie, maar word eerder as baie se lewende hel uitgebeeld – ʼn staatsdiensopset soortgelyk aan dié van die departement van binnelandse sake.

Nora het 40 jaar gelede ʼn man en kind aan die dood afgestaan, maar glo nie dat sy nou self ook gesterf het nie.

Met die hulp van ʼn rits kleurvolle karakters, almal vertolk deur die Binnelanders-akteur David Viviers, moet Nora nou haar doodstatus betwis en leer wat die gevolge is van ʼn lewe lei wat vasgevang is in die verlede.

“Daar word ook natuurlik interessante vrae gevra oor wat vir ons na die dood voorlê en wie of wat nou eintlik die waarde van ons lewens bepaal. Ek dink omdat ons in Westerse kulture nie soveel kennis met die dood maak terwyl ons lewe nie en dit half eenkant hou, is dit vir ons soms moeiliker om te verwerk,” vertel Sandra tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) aan Maroela Media.

“Dis ook wat so lekker is van hierdie stuk, ons kan na die dood kyk op ʼn ander manier. Miskien is dit alles net administratiewe rompslomp,” voeg sy laggend by.

Styx is een van 27 nuwe produksies wat vanjaar hul buiging op die KKNK gemaak het en sal volgens David gehoorlede laat nadink oor die lewe, maar terselfdertyd ook lekker laat lag.

“Die dood is iets wat oor baie mense kan hang, maar dié stuk vat die dood se swaarmoedigheid weg. Ek dink humor is veral nodig wanneer dit kom by dié soort onderwerp. Die dood is maar baie depressief as ons nie ʼn manier vind om soms daaroor te lag nie.”

Om blitsig en soomloos in meer as vyf verskillende karakters, insluitend ʼn nuuskierige ou tannie, ʼn militaristiese mitologiese figuur en ʼn breiende administratiewe klerk, se skoene te klim, was volgens David ʼn lekker uitdaging.

“Ek moes net mooi kophou – ek het in een repetisie per ongeluk die verkeerde karakter laat brei,” skerts hy.

Om teenoor Sandra te speel is volgens David ook al lank op sy emmerskoplys.

“Ek leer so baie by haar. Sy herinner my ook dikwels aan die egtheid en waarheid wat daar moet wees in die wyse waarop ons lewe aan hierdie karakters gee. Sy is nie sonder rede ʼn ikoon nie.”

  • Styx is op 26 en 27 April op die planke op die Suidoosterfees in Kaapstad.
  • Kyk hier na die volledige onderhoud met Sandra en David:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.