Ansu Visser leef TV-passie uit

Ansu Visser (Foto: Caro Olivier)

Pens en pootjies voor die televisie is dalk waar sy ontspanning vind, maar haar passie vir die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf is wat die borrelende verkleurmannetjie, Ansu Visser, aan die gang hou.

Visser se stem sal eersdaags in Maroela Media se jongste radiodrama, Operasie Umbra, te hoor wees.

’n Liefde vir radio

Visser bieg hoewel sy nou ’n groot liefde vir radiodramas het, het sy in haar grootword- en selfs studentejare nie veel daaroor geweet nie.

“Ek het ná afloop van my studie vir ’n kursus gegaan. Daar het ek iemand ontmoet wat al in een van Leon van Nierop se radiodramas was. Ek het Van Nierop ontmoet en vir ’n oudisie gegaan. Dis toe eers dat ek werklik besef het waaroor dit gaan.”

Die liefde het intussen geblom, Visser is onlangs gekies om die rol van Het te vertolk in die radiodrama, Het van Verlangekraal, wat tans weeksdae om 14:45 op RSG uitgesaai word.

“Teater is uitspattig, dis jou hele lyf. TV is nou weer klein en intiem. Dit was interessant om die medium te ontdek. Nou is ek mal oor radiodrama; jy speel net met jou stem, so jy moet 100% toewyding gee aan dit wat jy doen.”

Sy verduidelik dat die opneem van ’n radiodrama vergelyk kan word met ’n verbeeldingryke speelplek.

“Jy moet sekere goed kan sien wat nie werklik daar is nie; dis vir my lekker.”

Visser glo dat die toekoms van radiodramas nog blink lyk.

“So lank as wat daar radio is, sal daar radiodramas wees.”

’n Lang pad kassie toe

Hoewel haar stem deesdae weerklink in radiodramas, is haar gesig bekend om ’n ander rede.

Sy is elke aand op die kassie te sien as Lulu Malherbe in die gewilde kykNET-sepie, Getroud met rugby.

(Caro Olivier)

Sy is ook een van die skrywers van die sepie, iets wat heel toevallig oor haar pad gekom het.

Aan die einde van haar studie in 2014, het sy voor ’n kruispad in haar loopbaan gestaan.

“Dis nie soos enige ander werk wat jy maar net jou CV kan rondstuur om ’n werk te kry nie. Dit gaan oor oudisies, wat daar nie altyd is nie. Jy kry ook nie elke rol waarvoor jy ’n oudisie doen nie.”

Ná ’n jaar as videoredigeerder vir ’n trou-sakeonderneming in Pretoria, Visser se grootword-stad, het ’n advertensie van Getroud met rugby onder Visser se aandag gekom.

“Ek het nie die werk dadelik gekry nie. Hulle het my eers ’n paar maande later genader om vir vier maande deel van die span te word.”

Sy vertel borrelend hoe haar buurman in daardie stadium gewerk het aan storielyne vir Getroud met rugby en dat hul kuiers dikwels langdurige gesprekke oor die pad van sekere karakters en storielyne ingesluit het.

“Ek het geweet wat in die storie aangaan en ek het hier en daar vir hom gesê wat ek dink. Toe hy die dag vir my vra of ek betrokke wil raak, het ek byna onmiddellik ingestem.”

Sy bieg dat sy op daardie oomblik ook benoud geraak het oor werk, aangesien haar aanvanklike kontrak van vier maande by die sepie byna klaar was.

“Ek het begin bid, ek het geweet dat my kontrak amper klaarmaak. Ek wou ook nog altyd skryf, ek het dit as deel van my honneursjaar ook gedoen.”

Sy vertel dat sy noukeurig geleenthede dopgehou het en dat sy haar hand ywerig opgesteek het wanneer iets aan haar deur kom klop het.

Visser is ook iemand wat bereid is om nuwe vaardighede aan te leer.

“Ek kan vinnig verveeld raak, ek skuif ook maklik my kamer rond,” het sy skertsend vertel.

Visser se plek in die sepiewêreld

“Ek het ’n groter liefde vir sepies ontwikkel, aangesien ek nog altyd iemand was wat van sepies gehou het. Ek was die een wat altyd 7de Laan en Egoli gekyk het. Ná Egoli het ek my gesin altyd gedwing om Engels in die huis te praat.”

Visser saam met Melissa Massyn en Claudia Jones. (Foto: verskaf)

Hierdie liefde het gegroei met Visser se betrokkenheid agter en voor die skerms.

“Ek dink sommige mense in die bedryf kyk neer op sepies. Ek het nog altyd gedroom daaroor om deel te word van ’n sepie. Jy vertel soveel verskillende stories. Wanneer jy deel word van ’n rolprent of reeks, loop jou karakter net een pad. Jou karakter in ’n sepie vertel tien verskillende stories, dit is ’n aanhoudende groeiproses.”

Getroud met rugby, wat sedert 2016 op die kassie as sepie is, het in Februarie vanjaar aangekondig dat dit in September tot ’n einde kom.

Hierdie gebeurtenis is vir Ansu bittersoet.

“Tot ’n mate hou almal daarvan, jy sal nie noodwendig self loop nie. Dit was maar ’n manier om uit die nessie geskop te word. Jy gaan nou maar weer moet vlieg. Dis ook maar die bedryf, ons weet dat kontrakte nie vir altyd is nie.”

Ansu Visser as Lulu in ‘Getroud met rugby’. (Foto: Skermgreep)

Visser meen dit was ook ’n manier vir haar om uit haar eie gemaksone te kom.

“Ek was nog altyd beloon wanneer ek bietjie uit my gemaksone ontsnap het. Om totsiens te sê is nooit lekker nie, al weet jy dat dit goed sal wees vir jou.

“Ek wou Paarl toe getrek het omdat my verloofde daar bly. Ek het vir myself gesê indien daar iets met die kontrak sou gebeur, is dit ’n definitiewe teken dat ek die skuif moet maak.”

Hoewel sy opgewonde is oor die trek wat vir haar voorlê, gaan dit moeilik wees om aan haar familie, wat steeds in Pretoria woonagtig is, totsiens te sê.

“Jy moet ook daardie gevoelens ervaar. Dis ’n bittersoet einde van ’n seisoen.”

’n Liefde vir die kassie

Hoewel Visser self by die vervaardiging van TV-inhoud betrokke is, is dit steeds vir haar ’n lafenis om voor die televisie uit te span.

“Ek is mal daaroor om TV te kyk, en mense moet weet dat ek dit sommer in my nagklere doen.”

Sy bieg dat sy nie werklik stokperdjies het nie.

“Ek hekel soms, maar ek gaan eerlik wees, voor die TV is waar jy my gaan kry. Ek kyk meestal werklikheidsreekse soos Selling Sunset, Love is Blind en Is it Cake?.

Die trouklokke is aan’t lui

“Sy was al baie meer verloof as wat ek ooit was, hoewel dit my grootste droom was om verloof te wees,” vertel Visser laggend oor die ooreenkomste tussen haar en haar sepiekarakter, Lulu.

Ansu Visser en haar verloofde, Wilhelm van der Sluys. (Foto: The Geldenhuyse)

Die trouklokke is uiteindelik aan die lui vir die borrelende aktrise nadat sy tydens Paasnaweek vanjaar aan Wilhelm van der Sluys verloof geraak het.

“Daar is 10 000 klein stappies voordat jy by die eindproduk uitkom.”

Dis juis die stres van troubeplanning wat die paartjie ernstig laat gesels het oor ’n vinnige troue.

“Ek het besef dat ek selfs ’n elopement gaan moet beplan.”

Die paartjie het reeds op ’n troudatum besluit en het die beplanning ook reeds grootliks afgehandel.

“Nou kan ons by die lekker dele soos die dekor en my rok uitkom,” het die aktrise verklap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hannelie ·

Wel ek glo dat als wat Ansu aanpak ‘n sukses sal wees. Ek meen haar toneelspel in GMR is regtig uitstekend!!! Van so dat ek elke keer saam met “Lulu” huil. Haar hartseer is so so rou, ek het dit nog nooit by enige ander akteur, behalwe Karen Retief , beleef nie. Sterkte met jou loopbaan vorentoe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.