Bestemming van brugbou-werklikheidsprogram aangekondig

Die Buffeljagsdam naby Swellendam is die bestemming van ‘Die Brug’. (Foto: Verskaf)

Ná ʼn lang en deeglike soektog van drie maande is daar besluit dat die Buffeljagsdam naby Swellendam die ideale plek was om Die Brug, ʼn nuwe Suid-Afrikaanse weergawe van die internasionale werklikheidsprogram, The Bridge, te verfilm.

The Bridge sien hoe vreemdelinge kragte in ʼn afgeleë plek saamsnoer om ’n brug van etlike honderde meter lank na ’n eiland te bou. Hier word ’n kontantprys van R1 miljoen versteek, maar net een deelnemer sal met die prys wegstap en moet besluit om óf dit te deel óf dit alles vir hulself te neem.

Die plaaslike weergawe, Die Brug, bestaande uit elf episodes, is vervaardig deur Red Pepper Pictures, wat ook vir programme soos Wie word ʼn miljoenêr verantwoordelik is.

Die eerste episode word op Donderdag 26 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

“Dit was ’n reuse-spanpoging om die regte plek op te spoor,” sê Freddy Louw, kreatiewe regisseur en vervaardiger van Red Pepper Pictures, oor die soektog na die bestemming.

“Die uitvoerende vervaardiger, Cecil Barry, het in sy motor gespring en elke moontlike dam en reservoir in Limpopo en Mpumalanga besoek terwyl die res van die span Google Earth gebruik het om die land te fynkam. Op die ou einde het ons, met behulp van Google Earth en inwoners van Swellendam, die Buffeljagsdam ontdek. Nadat ons dit drie keer besoek het, het ons besluit dit is die perfekte plek om Die Brug te verfilm.”

Die Buffeljagsdam word gevoed deur twee riviere: die Buffeljags- en die Tradouwrivier. (Foto: Verskaf)

Die Buffeljagsdam word gevoed deur twee riviere: die Buffeljags- en die Tradouwrivier. Dit lê net oos van Suurbraak, ’n klein nedersetting in die Overberg, 19 km oos van Swellendam en aan die voete van die Langeberge.

Volgens die formaat van die program, was daar spesifieke voorwaardes vir die plek waar Die Brug verfilm moet word.

“Dit moet ’n dam of meer hê wat omring is deur ongetemde wildernis sodat dit soos ’n ander wêreld vir die kyker voel,” verduidelik Louw.

“Die ideale plek is ’n omgewing waar daar nog geen moderne tegnologie is nie en waar daar geen stedelike strukture te sien is nie, maar waar daar tog volle logistieke- en noodtoegang tot die filmspan en die deelnemers is.”

Die Buffeljagsdam was dus die perfekte keuse omdat dit aan al hierdie vereistes voldoen.

Ook die Langeberge se “dramatiese agtergrond” en selfs die posisie van die son en die maan was volgens Louw ’n deurslaggewende faktor.

“Die posisie van die Houthuis, waar die deelnemers woon en werk, is gekies omdat ons sulke asemrowende sonsopkoms- en sonsondergangskote kon kry. Die ligging van Umshanti, ’n lodge wat net twee minute per boot weg van die deelnemers was, en die klimaat van die streek – met goeie én stormagtige weer – het ook bygedra tot die finale besluit.”

Maroela Media het vroeër berig dat hierdie die elfde aflewering van dié reeks is en volgens Waldimar Pelser, M-Net se direkteur van kykNET-kanale, is dit die kykNET-werklikheidsprogram waarvoor daar nog die meeste inskrywings ooit ontvang is.

Dit is ’n oorspronklike Banijay-konsep en is reeds in lande soos Australië, Brasilië en die VK uitgesaai.

The Bridge is nie net ʼn program nie, dit is ʼn wêreldwye belewenis wat die belangstelling van kykers regoor die wêreld vasvang. Ons is verheug om die plaaslike weergawe van hierdie trefferreeks te vervaardig, die beste Suid-Afrikaanse talent bymekaar te bring en ons pragtige landskappe ten toon te stel,” het Pelser voorheen oor dié program gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.