Boer Niel en sy Cheréze: ‘Dit was vir ons bestem’

Niel en Cheréze. (Foto: Instagram/Cheréze Maree)

Niel Bruwer en Cheréze Maree van Boer soek ʼn vrou is na afloop van die jongste seisoen beslis een van dié gewilde TV-maatsoekreeks se gunstelingpaartjies.

Boer Niel, wat die meeste briewe gekry het en op die program vir Cheréze ontmoet het, boer tans op ʼn vrugteplaas in Prince Alfred Hamlet in die Warm Bokkeveld. Cheréze, ʼn grimeerkunstenaar van Hopefield, kuier gereeld hier op die plaas by haar donkerkop boer.

Die paartjie wat in April uiteindelik hulle verhouding bekend kon maak nadat die reeks tot ʼn einde gekom het, beleef sedertdien ʼn warrelwind van aandag deur kykers wat wil weet hoe dit met hulle gaan.

Hulle vertel hulle word gereeld op sosiale media en in plekke soos restaurante en lughawens genader deur stoere Boer soek ʼn vrou-kykers wat ʼn geselsie wil aanknoop.

Hoewel hulle sekere aspekte van hul verhouding graag met die publiek deel, kies hulle ook om sekere elemente daarvan privaat te hou.

“Ons besluit saam wat ons met mense wil deel en probeer ʼn balans handhaaf tussen wat ons deel en wat ons privaat hou,” vertel Cheréze aan Maroela Media.

“Dit is nie altyd maklik nie, want mense stel baie belang in ons verhouding en wil graag weet wat volgende gaan gebeur.”

Niel beaam dit. “Op die lughawe in Johannesburg het iemand my trompop geloop en gevra of ek al ʼn ring aan Cheréze se vinger gesteek het. Dit was ʼn bietjie ongemaklik, want ek was in die proses om ʼn motor te huur en die tydsberekening was ʼn bietjie moeilik,” vertel hy met ʼn glimlag.

“Ons gee egter glad nie om wanneer mense ons nader nie, want dit is ons manier om ook vir mense dankie te sê dat hulle na die program gekyk het. Sonder die kykers sou daar nie ʼn program kon wees waar ons mekaar ontmoet het nie. Mense het vir soveel weke ons storie gevolg, so dit is net natuurlik dat hulle sal wil weet wat volgende gaan gebeur.”

Cheréze kuier tans by Niel op die plaas op Prince Alfred Hamlet en verklap dat die gespek om ʼn permanente skuif te maak plaas toe reeds geopper is.

Niel en Cheréze. (Foto: Instagram/Niel Bruwer)

“Ons wil net wag vir die stof van die program om werklik te gaan lê, maar ons het van dag een af vir mekaar gesê ons gaan nie mekaar se tyd mors nie. Ons is egter nog besig om ons voete te vind, maar ek glo dat ek in die toekoms permanent hierdie kant toe sal kom,” sê Cheréze.

“Ons het groot drome vir ons as ʼn paartjie. Ons belê baie tyd in mekaar en is nie net hier vir die lekker jol nie. Ons is baie ernstig oor mekaar en het definitief al gesels oor die volgende stap,” voeg Niel by.

Wanneer hulle saam op die plaas is, geniet hulle dit om saam te oefen, kos te maak en nuwe restaurante en wynplase te ontdek. Hulle het ook onlangs na Gauteng gereis, wat Cheréze se eerste reis na die noorde van die land was.

“Ons geniet ons mooi land en om saam nuwe plekke te ontdek. Die lekkerste ding vir albei van ons is dat ons nie ‘n haas uit ʼn hoed hoef te pluk om ‘n goeie tyd te hê en om mekaar te geniet nie. Om rustig ʼn vuurtjie aan te steek of net saam ʼn koppie koffie te drink, is ook vir ons lekker. Die eenvoudige dinge in die lewe maak alles saam die groter prentjie,” sê Niel.

Hulle beplan steeds om saam die Camino in Spanje te gaan stap – ʼn staptog waarop Niel vir Cheréze genooi het in een van die laaste episodes van die reeks.

“Aanvanklik sou ek as enkellopende die staptog saam met vriende aangedurf het, maar Cheréze sal beslis nou as my stapmaat aansluit. Covid-19 het ons beplanning vir die staptog effe in die wiele gery, maar ons beplan steeds om die staptog aan te pak.”

Niel vertel buiten dat hy liefde gevind het op die program, het die vriendskappe wat hy met die ander boere gesmee het ook tot die ervaring bygedra.

“Ek het goeie vriende gemaak deur die proses, veral met Richann, Déan en Albert. Ek het ook deur die proses ongelooflik baie van myself geleer en het soveel gegroei, want ek was heeltemal uit my gemaksone. Ek kon my waardestelsel in die proses toets en dit was baie spesiaal.”

Niel en Cheréze. (Foto: Instagram/Cheréze Maree)

Cheréze sê die ervaring het haar ook die geleentheid gebied om plekke te leer ken waar sy nog nooit voorheen was nie. “Ek sou byvoorbeeld dalk nooit die Lanzerac-wynlandgoed in Stellenbosch of die Addo-olifantpark in die Oos-Kaap besoek het as dit nie vir die program was nie. Om nuwe mense en plekke te leer ken, was baie spesiaal.”

En hulle raad vir toekomstige boere en deelnemers van Boer soek ʼn vrou? “Jy moenie hierdie situasie nie te veel oordink nie,” sê Niel.

“Waag die kans, want jy gaan beslis verbaas word deur hoe wonderlik die proses is. Moenie inskryf as jy nie inskryf vir die suiwerste redes van die program – en dit is om liefde te vind – nie. Ek is super dankbaar en gelukkig dat ek en Cheréze albei dié skoot in donker afgevuur het, want as jy kyk na ons albei se lewensreis tot nou, was dit presies vir ons bestem en uitgelê dat ons mekaar tydens die program moes ontmoet. Neem net jou pen en skryf in.”

Cheréze stem saam. “As jy inskryf moet jy onthou dat dit daaroor gaan om liefde te vind en nie om jouself of jou plaas te bemark nie. Dis as jy vir die verkeerde redes inskryf is wanneer die teleurstelling in kom. As jou hart op die regte plek is, is die kanse goed dat dinge vir jou kan uitwerk.”

Nuwe reeks

Hubare, Suid-Afrikaanse boere of plaasbestuurders, manlik of vroulik, kan deelneem aan die 14de seisoen. Dié reeks sal in Januarie volgende jaar uitgesaai word.

Boere kan op die volgende maniere inskryf:

  • Besoek www.kyknet.tv waar jy óf aanlyn kan inskryf óf ’n inskryfvorm kan aflaai;
  • Bel Marche Media by 079 335 5137;
  • Stuur ’n e-pos na [email protected] (let wel .media en nie .com / .co.za nie)

Belangrike inligting:

  • Foto’s en afskrifte van identiteitsdokumente moet inskrywings vergesel.
  • Diegene wat wil deelneem, moet ongetroud en ouer as 21 jaar wees.
  • Inskrywings moet die vervaardigers voor middernag op 13 Mei 2021 bereik.
  • Hou kykNET se sosialemediaplatforms of die media dop vir die aankondiging oor 2022 se top-tien-boere. Moontlike pasmaats sal dan hul beurt kry om vir dié boere briewe te skryf.
  • Hou Maroela Media dop vir nog opwindende Boer soek ʼn vrou-nuus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gato ·

Ouboet, dit is ‘n bitter oulike vrou daai. Jy moet vasklou en ‘n ring aan haar vinger kry.
Mag julle ‘n lang en gelukkige pad saam vorentoe hê.

SomeOne ·

pragtig, pragtige redenasies wat julle ook het, moenie net weghol nie, oordink alles mooi, dis ‘n lang tyd vorentoe en as dit die Here se wil is, sal jul verhouding slaag, sterkte altwee van julle

Kattebol ·

Ek het ook liefde gevind op ‘n anderste manier. Geniet julle liefde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.