‘Boer soek ʼn vrou’ se Damian, Hentie gee raad vir nuwe span TV-boere

Boer Hentie. (Foto: kykNET)

In die laaste seisoen van die kykNET-werklikheidsreeks Boer soek ʼn vrou het Kupido se boog vir boer Hentie en sy Hantie in die kol getref terwyl die liefde nog nie vir boer Damian beskore was nie.

Hoewel dié twee boere kykers om verskillende redes voor die kassie vasgenael gehou het, is albei dit eens dat dit ʼn wonderlike ervaring was om aan die program deel te neem.

Boer Hentie (52) se raad vir die nuwe seisoen se deelnemers is eenvoudig: “Wees oopkop en gryp die kans aan om liefde te vind, want dit is ʼn wonderlike geleentheid. Wees jouself en geniet dit net. Dit is die belangrikste, want dit is ʼn baie lekker reis.”

Kykers het hom leer ken as bestuurder van die Elandsberg-teeverwerkingsaanleg op ʼn rooibosteeplaas op Clanwilliam in die Wes-Kaap, maar hy is tans werksaam as bemarker van organiese Blomfontein-rooibostee in die noordelike dele van die land en hoofsaaklik in Pretoria.

Hantie het in Desember verlede jaar die skuif van Pretoria na die rooibosteeplaas op Clanwilliam gemaak, maar sy was skaars ʼn paar maande op die plaas toe die landwye inperkingstydperk in Maart ingestel is weens die wêreldwye koronaviruspandemie.

Hantie is onlangs weer sak en pak terug Pretoria toe om by Hentie te wees en het weer in ʼn nuwe betrekking in die stad begin werk terwyl Hentie tot kort ná Kersfees bestekopname gedoen het van sy lewe op Clanwilliam voordat hy weer Pretoria toe is.

Boer Hentie en sy Hantie. (Foto: Verskaf)

Hentie het kykers op die punte van hulle stoele gehad toe hy prontuit teenoor Leah, destyds die aanbieder van die program, erken het dat hy vir Hester, ʼn onderwyseres van Johannesburg, sou kies – dit nadat sy self besluit het om die plaas te verlaat.

Ten spyte van dié erkenning het Hantie (49) kykers ʼn sug van verligting laat slaak toe sy vir Hentie nog ʼn kans gegee het en vandag is dié paartjie nog dolgelukkig.

“Ondanks die logistieke uitdagings gaan dit baie goed met my en Hantie. Daar is geen probleme nie. Dit was nie ideaal om nie oor Kerstyd by mekaar te wees nie, maar ons het geen ander keuse gehad nie. Die positiewe kant hiervan is dat ons 2021 saam begin het.”

Damian (38) verklap intussen aan Maroela Media dat hy steeds enkellopend is en sê die inperking weens die Covid-19-pandemie het ʼn groot rol hierin gespeel.

“Om ingeperk te wees is egter soort van ʼn normale ding vir my aangesien ek as boer baie afgesonder op die plaas woon en ver van die stad af is,” sê Damian, wat met beeste en skape in die Bapsfontein-omgewing in Gauteng boer.

Damian vertel hy het hard gewoeker tydens die inperking om sy inkomste aan te vul. “Ek verkoop ook plaastoerusting; verkope het die afgelope paar maande weer toegeneem, so ek het vreeslik rondgehardloop en baie hard gewerk.”

Hy boer nog steeds en vertel die goeie reën wat hulle die afgelope tyd op die plaas gehad het, voorspel ʼn geseënde tydperk vorentoe.

“Ek het die enkellopende lewe vir eers aanvaar vir wat dit is, maar in die nuwe jaar sal ek weer uitreik en ʼn koffieafspraak of twee inwerk.”

Boer Damian. (Foto: kykNET)

Damian het opslae gemaak toe hy aangekondig is as die eerste Boer soek ʼn vrou-deelnemer wat ʼn manspasmaat soek. Hy het vir Andrew, Arno en Ivan na sy plaas genooi en uiteindelik het Andrew sy aandag getrek. Ten spyte hiervan het Andrew nie saam met Damian by die reünie opgedaag nie.

Hy sê Boer soek ʼn vrou-kykers herken hom steeds wanneer hy die dag in die stad is of ʼn winkelsentrum besoek. “Soms kan jy uit die hoek van jou oog sien hoe ʼn tannie die oom langs haar in die ribbes pomp met ʼn elmboog en in jou rigting wys, maar hulle is nie seker waarvandaan hulle jou herken nie,” lag hy.

Sy enigste raad aan die deelnemers van die 13de seisoen, wat eersdaags op die kassie begin uitsaai, is om elke oomblik te geniet.

“Kalmeer en geniet die proses. Ek was baie gestres en as ek nou terugdink, wens ek ek het meer ontspan en dit net geniet. Dit help nie om te bekommerd te wees oor of jy alles reg sê en doen en of jou huis perfek lyk nie. Die kykers en die ander deelnemers wil eintlik maar net vir jou as mens leer ken,” sê Damian.

Die 13de seisoen van Boer soek ʼn vrou begin Donderdag 21 Januarie 2021 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitsaai. Marciel Hopkins is die aanbieder van dié seisoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.