Brendan leer dames ken in ‘Op my eish!’

Brendan en Katja het mekaar beter leer ken. (Foto: verskaf)

Alhoewel iedereen van Brendan Peyper se 12 gekose dames in die Oos-Vrystaatse koue gestaan en bibber het, het niks hul opgewondenheid om Brendan beter te leer ken, gedemp nie.

In die jongste episode van kykNET se gewilde maatsoekreeks, Op my eish!, daag die 12 vroue wat Brendan in die vorige episode gekies het by die Uitzicht-wildsplaas net buite Fouriesburg op. Alhoewel hulle gelukkig was met hul kamermaats en die geriewe, het die tekort aan kaste vir groot pret en lag gesorg.

Onder dié dames is Rachelle Fourie, Christine Kirkcaldy, Katja Pieters, Janae Stander, Sonel van der Walt, Thelmané Wentzel, Runet van Heerden (wat al die pad van Dubai afgekom het om Brendan te ontmoet), Chaunté de Bruyn, Natasha van Rensburg, Luzaan Marais, Nadia Olivier en Jané Bacher.

Brendan het tussendeur by die dames gekoer en gekuier, en het uiteindelik ʼn beter indruk van elkeen van hulle gekry. Daar was egter meisies, soos Sonel, wat graag meer tyd saam met Brendan sou wou deurbring.

“Ek wil die eerste soen hê, ek doen baie moeite vir daardie soen,” het sy in haar dagboek-opname erken.

Brendan was bekommerd oor Nadia, en het gevra waarom sy so stil is. Nadia het egter maklik erken dat sy nie iemand is wat van groot groepe hou nie, en dat sy veel eerder ʼn persoonlike gesprek met hom wou voer.

Die volgende dag het ʼn interessante uitdaging vir die vroue ingehou: hulle moes ʼn bobaas-pizza aanmekaarslaan. Brendan moes elke pizza proe, en sy ses gunstelinge kies. Luzaan, Rachelle, Nadia, Jané, Katja en Sonel was uiteindelik die wenners, en is genooi om die aand saam met Brendan te braai.

Brendan moes sy ses gunstelinge kies. (Foto: verskaf)

“Rachelle wil ek baie graag bietjie beter leer ken. Ek voel daar is soveel wat sy my wil vra, sy is cute,” het Brendan sy opgewondenheid oor veral Rachelle se teenwoordigheid uitgespreek. Sy was ook die eerste een wat hy gekies het om ʼn paar minute alleen mee te gesels.

“Dit moet ʼn teken wees dat hy haar eerste gevra het. Dalk stel hy meer belang in haar,” het Katja in haar dagboek gesê. Brendan het haar egter tweede gevra om saam met hom van die groep af weg te beweeg.

Brendan en die eerste ses vroue wat genooi is om saam met hom aandete te eet. (Foto: verskaf)

Die derde en laaste vrou wat alleentyd met Brendan kon deurbring, was Jané.

Hy het ʼn hartsgesprek met elkeen van dié vroue gehad, en hoewel hulle later die aand gegloei het, was die ander drie meisies nie eintlik gelukkig nie. Dit was veral Sonel wat haar teleurstelling uitgespreek het. Sy het, volgens Brendan, heelaand lank vir hom “soen-ogies” gemaak.

“Ek weet nie waarom ek hierdie gevoel het dat ek een van dié sou wees wat hy vanaand sou kies nie. En toe was ek nie … dit was teleurstellend gewees,” het Sonel erken.

  • Op my eish! word elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.