‘BSV’: Boere, vroue flankeer, leer mekaar ken

Boer Louis M kuier saam met die drie vroue op sy plaas in Bela-Bela. (Foto: kykNET)

Vandeesweek het die boere van die gewilde kykNET-maatsoekreeks Boer soek ʼn vrou, die vroue wat plaas toe genooi is, behoorlik leer ken.

Die vroue het saam met boere Louis B, Louis M, Philru, Hennie en Francois die omliggende dele van die plase verken en is vermaak met opwindende aktiwiteite.

Hoewel die vyf manne nog nie met hulle harte op die mou loop nie, het hulle erken dat daar tog hier en daar ʼn vrou is wat hulle aandag trek.

“Ek hou van iemand wat weet wat hulle wil hê en wat in sekere opsigte dieselfde dink as ek. Daar is beslis een van hulle wat uitstaan, en twee van wie ek baie hou,” het Louis B, van Ottosdal in Noordwes, gesê.

Lané, wat op Philru se plaas op Petrus Steyn in die Vrystaat kuier, het gesê sy kan sien daar is ʼn konneksie tussen Philru en Sumari.

Philru en die vroue het saam ʼn perderit geniet. Hy het ook erken daar is ʼn vonkel in sy oog vir ʼn spesifieke vrou.

“Daar is een van hulle wat vir my uitstaan, want ons gesprekke vloei gemaklik,” het Philru gesê.

Francois wou sien of Vanessa (middel) en Lorinda van diere hou. (Foto: kykNET)

Francois, wat verlede week saam met net twee vroue op die plaas agtergebly het nadat Lizelle met die intrapslag kop uitgetrek het, het ook erken dat een van die twee vroue sy oog vang.

“Dit is vir my interessant dat hulle uitvra oor die administratiewe sy van my boerdery,” het die volstruisboer van Oudtshoorn in die Wes-Kaap gesê.

“Ek is hier vir die regte rede,” het die blondekop Lorinda gesê. “Ek is hier vir Francois.”

Louis M, van Bela-Bela in Limpopo, het die drie vroue op sy plaas bederf met koffie en beskuit agter op sy bakkie in die veld voordat hulle ʼn paar olifante van naderby leer ken het.

“Hier en daar is ʼn teken dat hulle belang stel in my,” het hy gesê nadat Laurette sy rug vir hom gekrap het.

“As jy maatjies maak is dit ʼn bonus, maar dit is nie waarvoor ons hier is nie. Ons is nie hier om maatjies te maak nie,” het Laurette gesê.

Philru en die drie vroue op sy plaas kuier saam. (Foto: kykNET)

Louis M, wat skaamteloos met die vroue flankeer het, het ook gesê hy kan sien dat daar wrywing tussen die vroue op sy plaas kan ontstaan.

“Hulle almal is ongelooflik en dit maak dit baie lekker, maar ook verskriklik moeilik,” het hy gesê.

Volgens die donkerkop Anja kan sy haarself saam met Louis M sien. “Van my kant af is daar beslis iets meer [as vriendskap].”

Hennie het die vroue op sy plaas in Moorreesburg bederf met ʼn heerlike wynproesessie, waarna hulle vlytig geraak het met blaas- en keramiekkuns.

“’n Mens kan nie nou al sê hoe hulle voel nie,” het Hennie oor die vroue gesê.

Boer soek ʼn vrou is elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.