‘BSV’: Volstruisplaas reeds een vrou kwyt

Lizelle het vir Francois gesê sy het iemand anders ontmoet en wou in persoon vir hom sê sy gaan nie op die plaas aanbly nie. (Foto: kykNET)

In Donderdagaand se episode van Boer soek ʼn vrou het die spanning sommer dadelik hoog geloop op boer Francois van Oudtshoorn in die Wes-Kaap se plaas.

Lizelle, een van die vroue wat vir die week op Francois se volstruisplaas sou kuier, het met haar aankoms besluit om kop uit te trek.

“Ek het iemand anders ontmoet voor ek plaas toe gekom het. Ons was voorheen net vriende, en intussen het die verhouding ontwikkel in iets meer,” het Lizelle aan Francois en Marciel Hopkins, aanbieder van die program, verduidelik.

“Uit respek vir jou en myself, asook vir die ander persoon, wou ek graag in persoon vir jou kom sê dat ek besluit het om nie op die plaas aan te bly nie.”

Die ander twee vroue, Lorinda en Vanessa, het egter nie geskroom om die 50-jarige volstruisboer beter te leer ken nie. Lorinda is ʼn tandartsassistent van Mosselbaai en Vanessa ʼn aankoper vir ʼn konstruksiemaatskappy in Johannesburg.

Boer Philru en die vroue op sy plaas het lank grappe gemaak oor braaibroodjies. (Foto: kykNET)

Op ʼn paar van die plase was hoe om die perfekte braaibroodjie te maak telkens ʼn belangrike onderwerp onder bespreking.

Boer Philru se drie besoekers, Sumari, Karla en Lané, het gespot met Sumari wat slegs mayonnaise en kaas op haar braaibroodjies eet. “Myne is gewoonlik die broodjie waarvan twee hoekies afgesny is,” het sy gesê. “Jy kan netsowel al vier hoekies afsny,” het Philru skertsend geantwoord.

Op Hennie se plaas in Morreesburg het Eloïse, Madeleen en Rachelle ook hulself tuisgemaak deur saam met Hennie ʼn slaai en braaibroodjies vir die aand se ete voor te berei.

Louis M en die vroue kuier op sy plaas. (Foto: kykNET)

Dihana, Laurette en Anja het op boer Louis M se plaas gehelp om sy beeste te voer, terwyl Louis B vir Kisha, Rachel en Cherecé touwys gemaak het met die stroper.

Boer soek ʼn vrou is elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nommer 7 ·

quartus, jy vind ook spotprente en blokkiesraaisels in koerante.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.