Video: ‘De Kleine Griet’ span sy seile by spoggerige première

Akteurs en aanhangers van De Kleine Griet. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Kykers kan uiteindelik saam met die onkonvensionele VOC-kaptein Wim van der Vaart en sy eksentrieke bemanning oor vreemde waters na onontdekte eilande reis en dít boonop in Afrikaans en in die gemak van hul eie huis.

Woensdagaand is die rooi tapyt uitgerol en die seile gespan tydens die première van Forum Films se splinternuwe aanlyn Afrikaanse komediereeks De Kleine Griet wat voor ʼn uitgesoekte gehoor by die AfriForum Teater sy debuut gemaak het.

Dié unieke reeks handel oor kaptein Wim van der Vaart, kaptein van die VOC-skip De Kleine Griet, wat voorheen as een van die mees belowende kapteins en werknemers van die VOC gereken is, maar wie se ambisie en onder-die-tafel-manier van dinge doen hom gereeld in die sop laat beland.

Elrich Yssel en Luan Lauw by die première. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

ʼn Klomp eksentrieke karakters vergesel hom op sy reise, soos Bas Boudewijn, Wim se regterhand op die skip en sy grootste ondersteuner, Vinkie, ʼn jong meisie wat met behulp van haar ryk pa ʼn gapingsjaar op die skip neem, Costa, die eksotiese skeepskok met ʼn passie vir mooi vroue en kos maak, en Hans Kraaij, ʼn ou man wat nooit praat nie, maar besonders mooi sing.

Luan Lauw, skrywer van De Kleine Griet, het die konsep en tekste van die storie saam met regisseur Elrich Yssel ontwikkel. Yssel wou aanvanklik ʼn reeks oor seerowers maak, maar Jan van Riebeeck en die VOC het later die reeks geïnspireer.

Die reeks is in die styl van The Office en ander sogenaamde mokumentêr-reekse geskryf en bestaan uit agt episodes, waarvan vier tans gratis op AfriForumTV – wat ook hierdie week bekendgestel is – gestroom kan word.

Dit is natuurlik uiters uitdagend om ʼn reeks wat op ʼn VOC-skip plaasvind in Pretoria en met ʼn beperkte begroting te verfilm. Maroela Media het vroeër op die stel van die reeks gekuier waar ʼn kreatiewe produksiespan Melrose‑huis in VOC-kantore omskep het, ʼn Mauritius-vlooimark by die Pretoriase Boeremark opgetower het en ʼn bebosde deel van die Groenkloof-natuurreservaat ʼn onontdekte eiland geword het.

Die kerse is aangesteek en die seile gespan by die spoggerige geleentheid. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Lauw en Yssel vertel dat die afwagting van die première senutergend was, maar dat die ys vir albei van hulle gebreek is toe die gehoor binne oomblikke van die eerste episode se vertoning begin skaterlag het.

“Dit is die lekkerste gevoel om mense te hoor lag en iets waarin jy jou hele hart en siel ingestort het, werklik geniet. Ons het ʼn fantastiese span op hierdie produksie gehad en mense se genot is die vrugte wat ons uiteindelik kan pluk,” sê Yssel.

“Dit is enige skrywer se droom om karakters wat hy of sy neergepen het, lewe te sien kry. Ek sou nie vir ʼn beter ‘lewende’ weergawe as dié wat die akteurs op hierdie produksie vertolk het, kon opdroom nie.”

Die rolverdeling bestaan uit akteurs Charlie Bouguenon as kaptein Wim van der Vaart, Tiaan Slabbert as Bas Boudewijn, David Steyn as Arnoud Schoonbeeck, JP du Plessis as Costa Almada, Deoudoné van der Merwe as Vinkie Weilburg, Leán van den Bergh as Helena van Leeuwen en Jurgen Hellberg as Hans Kraaij.

Bekendes soos Chris Chameleon, in die rol van Jan van Riebeeck, en Tertius Meintjes maak ook ʼn draai in die reeks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.