Dié paartjie volgende in die Bridgerton-kollig

Die geheim oor die nuwe Bridgerton-paartjie is tydens ʼn Netflix-paneelbespreking verklap. (Foto: Charley Gallay/Getty Images via AFP)

Dit blyk dat lady Whistledown uiteindelik liefde gaan vind in die volgende seisoen van die Netflix-trefferreeks Bridgerton.

Die Ierse aktrise Nicola Coughlan, wat die rol van Penelope Featherington (ook bekend as lady Whistledown) in die stromingsreus se Regency-era-romanse vertolk, het dié geheim Sondagaand tydens ʼn Netflix-paneelbespreking verklap.

“Nes lady Whistledown, hou ek dit al ‘n geruime tyd ‘n geheim en ek kan uiteindelik alles aan julle bevestig. Seisoen drie gaan Colin en Penelope se liefdesverhaal wees. Ek het daardie wending geheim gehou sedert die eerste twee weke van seisoen twee! Dit is die eerste keer dat ek dit nou kan sê,” het die 35-jarige gesê.

Die eerste en tweede seisoen van dié reeks – wat geskoei is op Julia Quinn se boekereeks van dieselfde naam – het rekords van die begin af laat spat.

Die Ierse aktrise Nicola Coughlan, wat die rol van Penelope Featherington vertolk. (Foto: Charley Gallay/Getty Images via AFP)

Maroela Media het vroeër berig dat 82 miljoen huishoudings wêreldwyd na die eerste seisoen van Bridgerton gekyk het in die eerste 28 dae nadat dit op Kersdag 2020 uitgereik is. Die tweede seisoen het ook altesaam 251,75 miljoen uur se kykgenot verskaf in die eerste week wat dit uitgereik is, naamlik van 28 Maart tot 3 April 2022.

Die eerste seisoen het hoofsaaklik op die liefdeslewe van Daphne Bridgerton, vertolk deur Phoebe Dynevor, gefokus, terwyl die tweede seisoen oor die oudste broer, Anthony – gespeel deur Jonathan Bailey – gehandel het.

Die derde reeks is egter die eerste een om van die boeke se volgorde af te wyk en sal fokus op die derde oudste Bridgerton-seun, Colin, se liefdesreis met Penelope Featherington. In die derde boek van Quinn se reeks is die kunssinnige Bridgerton-broer, Benedict, se liefdeslewe in die kollig.

Aan die einde van die tweede seisoen sien kykers hoe Penelope haar rol as die misterieuse skinderbladskrywer lady Whistledown wil prysgee nadat dit haar gehegte vriendskap met Eloise Bridgerton belemmer. Nadat sy Eloise se broer Colin, in wie sy al jare lank belangstel, hoor sê dat hy nooit met iemand soos sy sal trou nie, blyk dit egter dat sy nog nie gereed is om lady Whistledown se veerpen heeltemal te laat opdroog nie.

Daar is egter nog geen datum vir die uitreiking van die jongste aflewering nie, so kykers sal geduldig moet wees.

Die nuwe seisoen bring ook ander veranderings vir Netflix se suksesvolste Engelse reeks teweeg. Chris van Dusen, skepper van dié reeks, het in Maart vanjaar aangekondig dat hy uittree en slegs as ʼn vervaardiger aanbly om op ander projekte te fokus. Inventing Anna-skrywer Jess Brownell neem die leisels by hom oor.

Netflix het verlede week ook aangekondig dat die Anatomy of a Scandal-aktrise Hannah Dodd vir Ruby Stokes as Francesca Bridgerton sal vervang nadat die 21-jarige ‘n hoofrol in ‘n ander Netflix-program gekry het.

Bronne: Netflix, Variety

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.