‘Dit voel soos familie’, sê Anel oor terugkeer na ‘Binnelanders’

Anel Alexander klim na 17 jaar terug in ‘Nina’ se skoene. (Foto: Verskaf)

Daar het dalk baie voor én agter die kamera verander in die 17 jaar sedert Anel Alexander se karakter, “Nina”, amok in Binnelanders gemaak het, maar volgens haar het dié groot tydsverloop haar nie minder tuis op hierdie gewilde Afrikaanse sepiestel laat voel nie.

“Inteendeel, dit het nie eintlik soos werk gevoel nie, maar eerder asof ek weer saam met van my ou vriende en kollegas kon speel. Dis ʼn familie. Die groot verskil is dat ek nou deel is van die ‘ouer garde’,” vertel sy skertsend aan Maroela Media.

Anel en haar man, James Alexander, is al byna ʼn jaar terug op eie bodem nadat hulle in 2016 Suid-Afrika vir die VSA verruil het. Maroela Media het vroeër berig dat die akteurspaar ook verlede jaar hul Amerikaanse burgerskap ontvang het om reismoontlikhede tussen die VSA en hul tuisland te vergemaklik.

James was in 2005 deel van Binnelanders se oorspronklike rolverdeling toe die reeks nog ʼn weeklikse drama was. Dit was ook hier waar dié akteur, wie se ouers van Skotland afkomstig is, sy Afrikaanse taalvaardighede behoorlik geslyp het.

“Deesdae praat James beter Afrikaans as wat ek doen. Vir vyf jaar was dit ons geheime taal waarin ons oor mense in die buiteland kon skinder. Ons moet onself kort-kort herinner daaraan dat mense ons weer kan verstaan,” terg Anel.

Gaby (Maude Sandham) en Nina (Anel Alexander) op die stel van ‘Binnelanders’. (Foto: Verskaf)

Haar karakter, Nina, was die destydse meisie van James se karakter, dr. Rico Maartens. Dít was ook die eerste keer wat die akteurspaar teenoor mekaar op televisie gespeel het.

“Sy was toe ʼn lekker moeilikheidmaker. Sy het Rico by haar partytjieleefstyl as ʼn high flying bemarkingsbeampte ingesleep en hom amper sy werk as dokter gekos.”

Nina se terugkeer het volgens Anel “per toeval” gebeur.

“Ek het by ʼn kollega se verjaarsdagpartytjie ʼn bietjie met van die skrywers opgevang en hulle het erken dat dit met tye moeilik is om meer ‘volwasse’ vrouekarakters op die kassie te kry. Ek het hand opgesteek en dinge het daarna net vanself stelselmatig in plek geval.”

Weens haar stormagtige geskiedenis het Nina se onverwagse verskyning veral opslae by Lindie Stander se karakter, Elise, veroorsaak. “Ek dink Lindie se karakter is omtrent al persoon in Binneland wat Nina nog herken,” skerts Anel.

“Maar ek glo tog dat kykers verras gaan wees om te sien hoe Nina se storielyn ontvou. Daar het beslis karaktergroei plaasgevind. Sy moet nou bewys dat sy verander het en nie meer droog sal maak nie.”

Lindie Stander se karakter, ‘Elise’, is effens verdag oor Nina se terugkeer na Binneland. (Foto: Verskaf)

Om na byna twee dekades terug op die stel te wees, het ook baie herinneringe vir dié gewilde rooikop-aktrise herroep.

“Toe ek laas op Binnelanders was, het ons nog daar in die Johannesburgse-middestad verfilm en van daardie tegnici werk vandag steeds op die stel. Ek en Erik Holm (wat die sakeman Rian Malherbe speel) ken mekaar ook van ons studentedae op Tukkies af, so die hele ervaring was regtig soos ʼn ‘trip down memory lane’.”

Anel bieg dat sy wel weer ingeoefen moes raak met die pas waarteen sepies geskiet moet word, en dit ook geniet het om saam met die nuwe generasie Binnelanders-akteurs te werk.

“Ek en Lindie spot, want ons sit nog saam op die bank en leer ons woorde met ons uitgedrukte teks en glimpen terwyl die jonges sommer alles op hulle fone doen. Dán voel mens oud.”

Sy sê beide sy en James is op ʼn punt in hul lewens en loopbane waar hulle genot uit hul werk wil put en positiewe werksomgewings prioritiseer.

Anel en Erik Holm, wat die sakeman Rian Malherbe speel, ken mekaar sedert hul studentedae. (Foto: Verskaf)

“Ek dink as mens jonger is, het jy daardie angsgevoel om die heeltyd te beïndruk en alles wat jy maak moet ‘kuns’ wees. Maar deesdae voel ek ʼn rol moet my werklik uitdaag, óf die mense en omgewing moet ʼn lekker groep wees om mee saam te werk. Dis moeilik genoeg om te doen wat ons doen, so jy moet jou werk geniet.”

Dit is wel nie eerste keer wat Anel in ʼn ou karakter se skoene terugklim nie.

Sy het onlangs die rol van Sophie Ferreira in Klein Karoo 2 hervat en werk tans ook hard aan die opvolg van haar en James se 2012 lokettreffer, Semi-Soet.

Nuus oor dié langverwagte opvolg is in 2019 bekendgemaak, maar produksie is weens die Covid-19-pandemie en uitdagings met die rolverdeling se beskikbaarheid aanvanklik uitgestel.

Sandra Vaughn, medeskrywer van Semi-Soet wat ook die rol van Karla Jordaan vertolk het, het destyds bevestig dat sy saam met Anel, Nico Panagio, Diaan Lawrenson, Louw Venter en Paul du Toit hul ou rolle in Semi-Soet 2 sal hervat.

“Al wat ek vir nou hieroor kan verklap is dat Nina se rooi kapsel dalk binnekort ʼn gedaanteverwisseling sal moet ondergaan om plek te maak vir nog een van my vorige karakters,” sê Anel met verwysing na haar Semi-Soet-karakter, Jacqui, wat blonde hare in die eerste film gehad het.

Binnelanders is Maandae tot Vrydae op kykNET (Kanaal 144 op DStv) om 19:30 te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.