Een bly, nóg twee gly in ‘OME!’

Brendan en Rachelle het alleentyd gehad. (Foto: verskaf)

Die vrede op die Uitzicht-wildsplaas net buite Fouriesburg is versteur met die opwagting van twee nuwe meisies in hierdie week se episode van Op My Eish!.

Dié twee buiteperddeelnemers, Mariska Jacobs en Jonelle Spammer, is deur Brendan se ouma vir die program gekies. Die aankoms van Mariska en Jonelle het nie net die meisies verbaas nie, maar vir Brendan ook.

“Ek het net gister totsiens gesê vir twee meisies, en nou stap daar twee nuwes in. Wat gaan hier aan?” het Brendan, wat verlede week vir Jané en Nadia huis toe gestuur het, verdwaas gevra.

Direk ná hul aankoms, is Mariska, Jonelle, Rachelle, Chaunté en Sonel gekies om saam met Brendan op ʼn afspraak gegaan. Die dames moes soos wafferse skerpskutters ʼn baan vol teikens aandurf, wat hulle so akkuraat en vinnig moontlik met ʼn verfbalgeweer moes raakskiet. Uiteindelik was dit Sonel wat die uitdaging, en ʼn alleenafspraak met Brendan, los geskiet het.

Dié afspraak het goed gegaan, hoewel Sonel nie die fisieke aanraking gekry het waarna sy gesmag het nie. Brendan het in sy eie dagboeksessie erken dat hy haar eintlik net moes soen, maar dat sy vorige afspraak en soen met Janae in sy gedagtes bly spook het.

Ná die afspraak, het Brendan besluit om Rachelle, Natasha, Luzaan en Mariska op ʼn stap-afspraak te nooi. Alhoewel dit aanvanklik soos ʼn positiewe kuier gelyk het, het dit vinnig geblyk dat Brendan weer iemand huis toe moes stuur.

Die twee nuwelinge, Jonelle en Mariska. (Foto: verskaf)

Hy het aanvanklik vir Mariska en Natasha genooi om eenkant saam met hom te gaan sit, maar het ná ʼn vraag of twee eerder besluit om Natasha nog ʼn kans te gee. Mariska was egter nie so gelukkig nie. Hy het haar skaars ontmoet toe hy haar vra om maar eerder weer haar tasse te pak.

“Mariska, ek dink ek gaan jou moet groet vandag,” het Brendan aan die twee vroue gesê. “Ons het nog nie genoeg tyd gehad om mekaar beter te leer ken nie, maar ek wens vir jou die beste toe. Jy verdien regtig iemand wat alles waarna jy op soek is, vir jou te gee. Baie sterkte met alles vorentoe.”

Mariska het ʼn traan gepink tydens haar laaste dagboeksessie.

“Ek voel net hy kon my meer tyd gegee het,” het ʼn hartseer Mariska gesê. “Jy moet eers gemaklik raak met iemand voordat jy jou ware kleure kan wys. Ek voel nie hy het daardie tyd vir my gegee nie.”

Nadat hy saam met Natasha na die ander twee vroue teruggekeer het, het hy nie op hom laat wag om Luzaan vir ʼn alleenkuier te nooi nie. Dit was egter nie om haar beter te leer ken nie.

“Hierdie raak nie vir my makliker nie. Dit is nie vir my lekker nie. Die rede waarom ek alleen met jou wou gesels het, is om vir jou te sê dat daar nog nie van my kant af ʼn sterk konneksie is nie,” het hy vir Luzaan gesê.

“Ek dink dat ek nie myself oop genoeg maak teenoor mense nie,” het Luzaan tydens haar dagboeksessie gesê. “Ek plaas myself nie in ʼn posisie om seer te kry nie.”

Sonel het ‘n afspraak saam met Brendan gewen. (Foto: verskaf)

Met sy aankoms by Rachelle en Natasha, weer sonder die meisie waarmee hy gaan gesels het, het Natasha aangebied om vir ʼn rukkie te gaan stap sodat Brendan en Rachelle bietjie alleen kon kuier.

“Daar is net iets aan Rachelle wat my laat gemaklik voel,” het Brendan, wat ook gewik en weeg het om haar te soen, gesê. Hy het uiteindelik besluit om hul eerste soen vir later te hou.

  • Op my eish! word elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Riana ·

Ek hou baie van Rachelle. Ek hoop regtig hy kies haar. Sy is so opreg en n baie mooi mensie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.