Egpaar vier Afrika se groot katte met talle natuurlewe-flieks

Dereck en Beverley Joubert besig met verfliming (Foto: Wildlife Films)

Die groot katte van Suid-Afrika word vandeesmaand behoorlik ten toon gestel in National Geographic Wild se 11de jaarlikse Big Cat Month.

Dié geleentheid, wat reeds op 5 Februarie afgeskop het, is ʼn maand wat propvol vreesaanjaende en majestueuse wilde katte gaan wees.

Die kollig is vanjaar op wêreldbekende en bekroonde plaaslike fliekmakers Dereck en Beverley Joubert. Dié egpaar het hul lewens gewy aan die bewaring en ten toonstelling van wilde diere. Deur hul merkwaardige loopbaan het hulle al meer as 35 flieks gemaak en 12 boeke en ʼn halfdosyn wetenskaplike artikels het uit hul spreekwoordelike pen verskyn. Boonop het hulle al agt Emmys en talle benoemings vir hul werk ontvang. Hulle het ook al oudpres. Barack Obama tydens ʼn bespreking oor ivoorhandel ontmoet.

Die egpaar se flieks is hierdie maand aan die orde van die dag op die TV-netwerk National Geographic Wild. Die flieks wat hulle in die verlede gemaak het, word vertoon, waarvan sommiges weer deur ʼn lopie visuele versorging gesit is.

Die egpaar het ʼn leeftyd se besonderse ervarings op hul kapstok. Tydens die bekendstelling van Big Cat Month het hulle uitgebrei oor hoe van die rolprente gemaak is, en wat hulle beleef het.

The Eye of the Leopard vertel die verhaal van Legadema, ʼn luiperd wat die egpaar dopgehou en afgeneem het sedert sy agt dae oud was. Hulle het soveel tyd met die luiperd deurgebring, dat hulle selfs na afloop van die proses kon getuig dat sy 840 kolle het.

“Ons was soos haar aanneemouers,” vertel Beverley.

Die egpaar het deur die jare besef dat wildbewaring die kern van hul loopbane is. “Ons het by die vier van wilde diere begin, en het by aktivisme vir die bewaring van daardie einste diere geëindig,” sê Dereck.

Daar is al ʼn hele paar legendariese oomblikke wat deur dié twee vasgevang is. In ʼn videogreep wat al meer as 20 miljoen keer op YouTube gekyk is, ontferm ʼn luiperd haar oor die kleintjie van ʼn bobbejaan wat as haar prooi opgeëindig het. Dié greep kom uit een van die egpaar se rolprente, The Eye of the Leopard. 

Tydens die verfilming van Ultimate Enemies het hulle ontstellende bewyse gekry dat selfs olifante nie te veel vir leeus is nie. In een van die tonele word ʼn dramatiese stryd tussen tien leeus en ʼn volwasse olifantkoei uitgebeeld. Die olifant het die aanval oorleef, die toneel was egter opspraakwekkend in die wetenskaplike wêreld – aangesien so iets voorheen ongesiens was.

Die lewenspad wat dié twee lewenslustige mense gekies het is allermins ʼn normale een. Dereck vertel dat hy al 21 keer gesteek is deur ʼn skerpioen, 18 keer malaria moes trotseer, vier olifante gehad het wat op hom afgestorm het, drie buffels wat met hom wou afreken en drie slange wat hom gepik het.

Een van die onlangse onderonsies was in 2017 met ʼn buffel – ʼn geval wat Beverley laat les opsê het. ʼn Beseerde buffel het op hulle afgestorm terwyl hulle in hul tent was. Hierdie gebeurtenis het veroorsaak dat Beverley vir drie maande die hospitaal huis moes noem, en gesorg het vir agt maande se rehabilitasie. Sy het, onder meer 20 gebreekte bene ná die voorval gehad.

Die egpaar het egter kort nadat sy weer op die been was teruggekeer na die kampterrein waar die traumatiese voorval gebeur het. Hulle het daarop aangedring dat die buffel nie geskiet moet word nie, aangesien hulle in sy omgewing was – nie andersom nie.

Hulle benadruk dat hulle bewus is van die feit dat hulle die indringers is. Daar is ʼn verhouding van respek tussen die egpaar en die wilde diere wat hulle afneem, en die goue reël tussen die twee is dat daar ten alle tye oë op die diere gehou moet word – veral wanneer hulle met katte werk.

“Ons probeer iets nuuts by elke kat wat ons afneem te leer.”

Om Beverley en Dereck se legendariese en bekroonde flieks te sien, kan lesers deur die loop van Februarie inskakel op kanaal 182 op DStv.

Vir meer inligting besoek die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Twallie ·

Hul flieks is asemrowend. Ek is ‘n groot aanhanger van hul werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.