Eric Nobbs se kykNET-karakter leef voort

Wyle Eric Nobbs as ‘Lui maar op, Belinda’ se Frans. (Foto: verskaf)

Die gewilde akteur, Chris van Niekerk, sal in die derde seisoen van die kykNET-komediereeks, Lui maar op, Belinda, die leisels by wyle Eric Nobbs oorneem.

Eric, wat tydens die produksie van die reeks op 23 Oktober 2022 gesterf het, het toe reeds drie episodes as Frans, ’n geliefde karakter in die reeks, se skoene voltooi.

Kykers sal Chris, wat nou die rol van Frans vertolk, onthou vir rolle soos dié van Oom Francois in die SABC 2-sepie, 7de Laan, Godfrey Martens in kykNET se Arendsvlei en Stef van die dramareeks, Die Boekklub.

“Eric se vrou Desré het beaam dat dit ook Eric se wens sou wees dat Frans as karakter moes voortleef,” sê Wilmer Müller, publisiteitsbestuurder van Lui maar op, Belinda.

Eric sal dus in die eerste drie episodes van die seisoen te sien wees, met Chris wat daarna by hom sal oorneem. Daar sal ná die drie episodes hulde aan Eric gebring word.

Chris van Niekerk neem die leisels by Eric Nobbs oor. (Foto: verskaf)

“Dit was bitter moeilik om terug te keer stel toe, maar almal wou dit ter nagedagtenis aan Eric doen. Eric was ’n baie gedissiplineerde akteur en het soveel toewyding gehad – niks het hom as akteur laat struikel nie – en hy sou beslis gesê het ‘the show must go on’,” het Ben Heyns, regisseur van die reeks, gesê.

Brümilda van Rensburg as Belinda en Annelisa Weiland, Duncan Johnson, Wian Taljaard en Carmen Maarman het ook elkeen na hul karakters teruggekeer.

Verskeie bekende akteurs soos Karli Heine, Albert Maritz, Richard van der Westhuizen, Eckard Rabe, Wilhelm van der Walt en Helene Truter gaan in die reeks te sien wees. Kykers kan ook uitsien na die sangeres, Sonja Herholdt, se verskyning in die reeks.

Dit sal die eerste keer wees dat Brümilda en Eckard weer teenoor mekaar in ’n TV-reeks speel nadat hulle laas onderskeidelik as Louwna en Chris Edwards in die bekende M-Net-sepie, Egoli, verskyn het.

(Foto: verskaf)

Aan die einde van die vorige seisoen van Lui maar op, Belinda, wat in 2021 uitgesaai is, het Belinda ontdek dat sy borskanker het. Volgens Ben gaan Brümilda in die opkomende episodes kykers op ’n tuimeltrein van emosies neem oor die manier waarop sy Belinda se moeilike reis uitbeeld.

“Ons gaan saam met haar lag, maar ons gaan ook ordentlik saam met haar huil. Ons sien ook uiteindelik ’n sagter kant van die reeks se feeks, Maggie, en sy behoort in almal se harte in te kruip.

“En glo dit of nie, maar Belinda en Annetjie se paaie het reeds in hulle jonger dae gekruis en ons sien presies wat daardie dag gebeur het. Daar sal dus in een van die episodes ’n terugflits na hul jong dae wees,” onthul hy.

Die jonger weergawes van Belinda, Annatjie en Frans word onderskeidelik deur Ilse-Lee van Niekerk (Troukoors), Augusta Zietsman (Dinge van ’n kind) en Adriaan Havenga (Die Byl en Fraksie) vertolk.

  • Die derde seisoen van Lui maar op, Belinda begin op Maandag 3 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.