Foto’s: Akteurs deel beste ‘Dinge van ʼn kind’-herinneringe

Mienke Ehlers, Melissa Myburg en Augusta Zietsman in ‘Dinge van ‘n kind’. (Foto: kykNET)

Kykers het gisteraand (Dinsdag) vir oulaas voor die kassie ingeskuif vir die kykNET-reeks Dinge van ʼn kind.

Die reeks, wat op Marita van der Vyver se gelyknamige roman gegrond is, het Mart Vermaak se lewe van haar tienerjare tot in haar vroeë sestigs gevolg. Verskeie are in die Suid-Afrikaanse verlede is raakgeboor soos die skande van tienerswangerskap, verpligte diensplig in ʼn Suid-Afrika wat veel anders as vandag lyk en hoe enige sielkundige kwessies eerder onder die mat gevee is as om daaroor te praat.

Só sê akteurs

Susan Beyers, wat die rol van die ouer Mart Vermaak gespeel het, beskou dit as ʼn voorreg om deel van die reeks te kon wees.

“Dit was ʼn voorreg om aan ʼn goeie, deurdagte teks saam met uitstekende akteurs en regisseurs te werk en ʼn produksie te skep waarop ʼn mens trots kan wees. Dit kom nie sommer op jou pad as akteur nie.”

Melissa Myburg het in die skoene van Mart in haar tienerjare gestaan. Myburg sê haar beste herinnering was dat sy weer soos ʼn kind gevoel het.

“Vir ’n oomblik in tyd kon ek weer ʼn kind wees. My wildste drome het voor my oë afgespeel en ek sal altyd vir Mart soos ʼn hangertjie om my nek, naby my hart, hou. Soos ʼn verdwaalde kind het ek ʼn familie opgetel. Mart, Dalena, Pierre en Simon. Ek hoop almal is so lief vir die verlore kinders soos ek is.”

Die rol van die 30-jarige Mart is deur Cintaine Schutte vertolk en sy sê sy is dankbaar dat haar reis saam met Mart so kon eindig.

Cintaine Schutte in ‘Dinge van ‘n kind’. (Foto: kykNET)

“Ek is dankbaar dat ek my reis met Mart kon voltooi en ʼn vol sirkel kon maak. Daar is ʼn Mart in elkeen van ons, ons moet haar net gaan soek.”

Volgens Jana Kruger, wat in die rol van Marlene, Mart se ma, in die sewentigs te sien was, was dit van die begin af asof alles net mooi in plek geval het.

“Sekere projekte voel van die begin af op ʼn sekere manier. Dinge van ’n kind was een van daardie jobs. Soos wat dit ontvou het, het my trots en dankbaarheid om deel te kon wees gegroei.”

Kykers sal Mienke Ehlers herken as Mart se avontuurlustige vriendin Dalena van Vuuren. Ehlers sê haar vertolking van Dalena was ʼn wipwarit.

“Dalena het my hart gebreek en hom self weer heel kom maak. Sy was beslis die grootste avontuur van my lewe en sy sal altyd naby bly. Die ‘verlore kinders’, soos Mari Conradie [hoof van grimering en kostuums] ons noem: Ben, Andahr en Melis het vriende geword vir ’n leeftyd.

“Ek hoop die reeks kon Suid-Afrika lekker laat lag, dat die storie wonde genees het en mense herinner het dat ons al ʼn ver pad gestap het. Look how far we have come. En Dalena hoop julle het fun gehad langs die pad.”

In die rol van Pierre O’Brien was Ludwig Binge. Hy meen dit is ʼn groot verantwoordelikheid om deel van ʼn reeks te wees waar die teks op ʼn bekende en geliefde boek gegrond is.

“Om dan die bestaande storie verder te ontwikkel sodat dit kommentaar op die oorspronklike gebeure lewer, is dapper en uitdagend.

“Ons moes almal hard werk om die reeks op ʼn plek te kry waar ons voel die proses is geloofwaardig en dit met integriteit voltooi. Dis daardie intense samewerking wat ek die meeste geniet het en sal mis.”

Kim Syster in ‘Dinge van ‘n kind’. (Foto: kykNET)

Kim Syster, wat die rol van Janine O’Brien gespeel het, sê bo en behalwe dat sy trots op die eindproduk is, was die harde werk wat almal ingesit het duidelik op skerm te sien.

“Ek is so trots op elkeen se bydrae tot hierdie reeks. Toe ek die eindproduk sien, kon ek elke persoon wat agter die skerms gewerk het se hande- én harde werk sien, veral met die tonele wat in die verlede afspeel.”

Maak seker jy mis nie Maroela Media se video-onderhoud met Myburg, Schutte en Beyers nie. Hulle het oor hulle vertolking van Mart in Dinge van ʼn kind gesels, ervarings van die verfilmingsproses gedeel en gesê waarom die storie vandag steeds relevant is.

Só sê kykers

“My hart was sommer seer vir al die arme ou meisies wat deur die jare deur hulle verstokte ouers gedwing is om na tehuise te gaan om hulle babas weg te gee; wat jare later steeds oor hulle kinders treur. Daar is soveel kinders wat met verwerping wroeg as gevolg daarvan,” het Anne-Marie Pool op kykNET se Facebook-blad geskryf.

Quanita Adams in ‘Dinge van ‘n kind’. (Foto: kykNET)

“Hartroerend mooi,” was Liezl Barnard du Randt se kommentaar en Deana Bosch het geskryf: “Wat ʼn fantastiese verhaal. Die werklikheid van die denkpatrone van daardie tyd gee my stof tot nadenke”.

Nog ʼn kyker, Peet Bothma, sê: “Ek was in 1977 in matriek en daarna diensplig. Die reeks is skokkend realisties. Dit help nie mens probeer dit weg wens met sedestories nie. Dis jou keuse om in feetjieland te lewe of die werklikheid te aanvaar.”

Dinge van ’n kind was ’n reeks soos geen ander nie. Onverskrokke, vol waagmoed en dit het nie geskroom om moeilike kwessies vierkantig in die oë te kyk nie. Boonop is kykers aan die uitsonderlike talent van ’n groep jong spelers voorgestel wat beslis nog diep spore in die vermaakbedryf gaan trap.

Tydens die verfilming van ‘Dinge van ‘n kind’. (Foto: Petri Schoeman)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.