Frank Rautenbach terug op SA-kassie ná draai in VSA

Frank Rautenbach vertolk die rol van JP in 'Suidooster'. (Foto: Verskaf)

Frank Rautenbach vertolk die rol van JP in ‘Suidooster’. (Foto: Verskaf)

Frank Rautenbach het in die vroeë 2000’s vir die eerste keer op die Suid-Afrikaanse kassie verskyn as die hartebreker Tiaan Terblanche in die SABC2-sepie 7de Laan.

Ná ʼn lang tydperk wat hy en sy vrou, Leigh, in Los Angeles in die VSA hul potjies gekrap het, is hulle sedert verlede jaar terug op eie bodem en verskyn hy tans in die gewilde Kaapse sepie, Suidooster, op kykNET.

Rautenbach vertolk die rol van JP, die sjarmante skurk wat Carmen (vertolk deur Desiré Gardner) se ekskêrel, wat haar en haar man, Rhafiek (vertolk deur Irshaad Ally), se lewe op Ruiterbosch deurmekaar kom krap.

JP en Carmen was jare gelede in ʼn verhouding en het saam die wêreld plat gereis, maar dit was nie altyd maanskyn en rose nie aangesien JP by talle onderduimse bedrywighede betrokke was. Sy skielike kuiertjie op Ruiterbosch maak Carmen gespanne, want dit is duidelik JP is ʼn man met ʼn missie.

Hy het ʼn houvas op Carmen en plaas druk op haar om Rhafiek te oortuig om met hom sake te doen. Rhafiek en sy onderneming, Atlantic Adrenaline, is perfek vir een van JP se planne en dié sakegeleentheid behels toere na Namibië, maar dit is ʼn front vir JP se smokkelbedryf.

“JP is ʼn misleidende persoon en hoewel Carmen weet sy moes al op dag een van hom ontslae raak, dink ek tog sy het eintlik nog ʼn sagte plekkie vir hom en dat hy haar steeds met sy sjarme oorrompel,” sê Rautenbach oor dié karakter wat hy vir ʼn paar weke vertolk.

Rautenbach lag wanneer hy erken dit is makliker om dié soort karakter te speel as iemand wat ʼn goeie persoon is.

“Dit is baie makliker om in die sondige natuur van die mens toe te gee en dit is vir een of ander rede meer geloofwaardig as om ʼn goeie persoon te speel. Mense is gewoonlik skepties oor iemand wat heeltyd by die reëls hou. Dit is baie pret om die rol van JP te vertolk.”

Desiré Gardner en Frank Rautenbach in 'n toneel uit 'Suidooster'. (Foto: Verskaf)

Desiré Gardner en Frank Rautenbach in ‘n toneel uit ‘Suidooster’. (Foto: Verskaf)

Volgens Rautenbach was sy ervaring op die stel van ʼn sepie dié keer anders omdat hy in die afgelope 15 jaar sedert 7de Laan as mens verander het.

“Toe ek jonger was, het ek dinge baie as vanselfsprekend aanvaar en nie werklik besef watter voorreg dit is om hierdie werk te kan doen, waar jy betaal word om toneel te speel, nie. Nou waardeer ek dit baie meer. My uitgangspunt was meer om te sien hoe ek kan bydra tot die sepie met alles wat ek die laaste 15 jaar geleer het.”

Hy voeg by dit was vir hom belangrik om met ʼn positiewe gesindheid daagliks die stel van Suidooster te betree.

“Dit was vir my uiters belangrik om goed voorberei te wees, want dit laat jou kollegas weet dat jy omgee vir hulle en hulle tyd en werk. Dit het my ʼn dag of twee geneem om weer ateljeefiks te raak in die sepiewêreld. Mense het geen idee teen watter vinnige pas jy moet werk op die stel van ʼn sepie nie. Dit is gewoonlik ʼn dag van 12 uur se werk en vanaand sit jy weer en woorde leer.

“Daar is soveel druk vir tyd, onder skrywers, die wardrobe en die akteurs, want daar is soveel wat gedoen moet word in ʼn kort tyd. Ek het weer respek vir die medium gekry. Toe ek jonger was, het ek gedink flieks is beter as sepies, maar nou het ek geleer dit is net anders.”

Hy gee toe dat hy iemand is met ʼn passie vir avontuur en dat die kort tydperk op die stel van Suidooster hom gepas het. “Ek hou van nuwe dinge en ontdekkings. Ek het dit baie geniet om in Suidooster te wees en wou graag goeie werk doen en in die oomblik leef. Maar vir nou beweeg ek eers weer aan na ander dinge.”

Desiré Gardner en Frank Rautenbach in 'n toneel uit 'Suidooster'. (Foto: Verskaf)

Desiré Gardner en Frank Rautenbach in ‘n toneel uit ‘Suidooster’. (Foto: Verskaf)

Rautenbach vertel hy is nie meer betrokke by RoepTV, Suid-Afrika se eerste Afrikaanse Christelike aanlynplatform, nie. “Ek fokus nou meer daarop om my eie ding te doen,” sê hy.

Hoewel hy nog nie veel kan verklap nie, sê hy dat hy besig is met die skryf van ʼn draaiboek vir ʼn fliek waarin hy ook sal speel. Intussen doen hy ook motiveringspraatjies en bemark hy sy boek, The Vagabond, wat in 2018 gepubliseer is. Dié boek word ook binnekort in die VSA uitgereik.

“Daar kom ʼn tyd dat jy besef hoe en waar jou houding moet verander en ek wou met die draai wat ek op Suidooster se stel as akteur gemaak het, weer vreugde in my eie lewe en ander mense se lewens bring.”

Suidooster is Maandag tot Donderdag om 18:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Krewel ·

Wat bedoel jy met so ‘n kommentaar? Geen respek vir akteurs nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.