‘G.I.L.’ se Tips en Prof ‘vriende voor en agter die kamera’

‘G.I.L.’ se Ruan Wessels en Gershwin Mias. (Foto: kykNET)

As Tips en Prof, die twee bagasiehanteerders in die kykNET-komediereeks G.I.L., vertolk die jong akteurs Ruan Wessels en Gershwin Mias hulle eerste groot komedierolle in ʼn televisiereeks.

Ruan is ʼn 23-jarige Krugersdorper wat in 2011 sy akteursdebuut in die rolprent Hoofmeisie gemaak het. Hy het daarna ook rolle in flieks soos Agent 2000: Die laksman, Dis ek, Anna, Jou Romeo en Kampterrein vertolk.

Hy vertel hy het as leerder aan die Hoërskool Noordheuwel daarvan gedroom om ʼn krieketspeler te word, maar toe word hy “per ongeluk” deur ʼn agentskap raakgesien.

“Ek was onder die indruk dat ek net ʼn agtergrondspeler sou bly, maar die jare het aangestap en nou is ek hier,” sê Ruan.

Die rolverdeling van ‘G.I.L’. Van links na regs is Hendrik Cronjé, Ashley de Lange, Frank Opperman, Gershwin Mias, Ruan Wessels en Vele Manenje. (Foto: kykNET)

Gershwin is 28 jaar oud en is van Eersterivier buite Stellenbosch in die Wes-Kaap. Hy vertel hy het op driejarige ouderdom al ʼn liefde vir toneelspel ontwikkel.

“My oorlede oumagrootjie het my altyd gehelp as ek ʼn kombers om my lyf wil draai of ʼn skouermantel wou maak met ʼn handdoek. Dan het ek myself verwonder aan die wêreld van fiksie en kreatiwiteit. Dit het vir my as kind baie beteken.”

Hy vertel sy eerste liefde is die teater. “My eerste keer voor die kamera was in 2012 toe ek ʼn ekstra was in Die Laaste Tango en daar het my liefde vir die kamera bygekom.”

Kom komedie vir jou natuurlik?

Ruan: My fokus op G.I.L. was nie komedie nie, my fokus was om my karakter so ernstig en eerlik moontlik te speel.

Gershwin: Nee. G.I.L. was die eerste komedie wat ek op skerm gedoen het. Op universiteit moes ons alles doen, van drama tot klug en komedie, maar ek het dit nooit voor die kamera gedoen nie. Dit is anders. Op die verhoog kan jy so groot speel soos jy wil, maar voor die kamera moet jy sagter speel en jou tydsberekening moet reg wees. Dis geheel en al anders as in teater.

Wat het jy uit die vervaardiging van G.I.L. geleer?

Ruan: Hoe lekker dit is om weer te werk. Dit was die eerste produksie waaraan ek gewerk het sedert Covid-19 getref het en dit was lekker om net weer te besef dat jy doen waarvoor jy lief is.

Gershwin: Ek het baie geleer hoe om snaaks te wees sonder om snaaks te wees. Ek het ook geleer om saam met ʼn klein rolverdeling – ons was net agt – te werk. Ons het by mekaar geleer, maar die grootste bonus is die feit dat ek soveel oor komedie voor die kamera geleer het.

Hoe is die karakters Prof en Tips geskep?

Ruan: Ek en Gershwin het ons beste gegee om te wys dat Prof en Tips regtig goeie vriende is. Vir ons kom hulle van kleintyd af saam en het in dieselfde woonbuurt gewoon, maar hulle kom nie uit ryk gesinne nie. Ons het baie tyd geneem om hulle so realisties moontlik te skep in ʼn wêreld wat nie bestaan nie.

Gershwin: Volgens hulle storie ken hulle mekaar van kleintyd af. Ek en Ruan het besluit hulle het mekaar op skool leer ken omdat hulle saam by die skoolhoof in die moeilikheid was. Hulle is die tipiese ‘vriende vir altyd’. Hulle dink nie voor hulle praat of doen nie, maar het altyd goeie bedoelings.

Het julle mekaar vooraf geken? Het julle van die eerste oomblik so gemaklik teenoor mekaar gespeel?

Ruan: Nee, ons het mekaar ontmoet toe ons die eerste keer die teks deurgelees het. Ons is toe daarna Stellenbosch toe vir ʼn bier of twee en het idees bespreek en koppe bymekaar gesit oor die karakters en toe ons weer sien, was ons vriende voor én agter die kameras.

Gershwin: Daar was baie van die spelers en selfs mense op die span wat gevra het: Ken julle mekaar? Het julle saam studeer? Maar nee, ons chemistry het net van die eerste oomblik afgeskop. Ons het gekliek, nie as Prof en Tips nie, maar as Ruan en Gershwin. Toe ons op stel kom, het ons karakters net gewérk. Dit was ʼn plesier om saam met hom te werk. Dit was net so maklik en dit het gevoel of ek hom al jare ken.

Watter planne is daar vir die res van die jaar?

Ruan: Om toneel te speel. Enige geleentheid wat ek kry om voor die kamera of op die verhoog te wees, sal my ongelooflik gelukkig gemaak.

Gershwin: Nog nie eintlik beplan nie, want Covid-19 het dinge so omvergegooi. Ek is tans by Arendsvlei en het onlangs klaargemaak met ʼn opvoedkundige teaterproduksie. Daar is nog baie wat ek vanjaar wil doen – gemeenskapswerk, opvoedkundige teater en hopelik ʼn fliek of twee.

G.I.L. is Maandae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kobus ·

Dis ‘n plesier om na hulle twee én die res van die span te kyk. Lekker spontane, ongeforseerde spel. Wel gedaan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.