‘Getroud met rugby’-aktrise spog eersdaags met pienkvoet

O’Reilly en haar man, Warren, verwag ‘n pienkvoet. (Foto: Jenine O’Reilly/Instagram)

Jenine O’Reilly, ’n aktrise wat die rol van een van Getroud met rugby se gewilde pompom-dansers, Anastasia, vertolk, spog eersdaags met haar eie rugbybul of pompom-dansertjie.

O’Reilly en haar man, Warren, het onlangs in ’n Instagram-plasing die nuus verklap dat hulle een van die dae ’n pienkvoet in die huis gaan hê.

Hoewel hulle die swangerskap beplan het, was hulle steeds verbaas toe dit uiteindelik aan hul deur kom klop het.

“Ek het al vroeg een oggend voor werk geweet; ek moes dit geheim hou. Ek het die aand vir hom ’n paar babaskoentjies gekoop en op sy lessenaar gesit. Ek het vir hom gesê hy moet gaan kyk wat vir hom daar wag.”

Sy vertel skertsend dat sy vermoed dat die werklikheid nog nie heeltemal by hom tuisgekom het nie.

“Ek dink as ons weet wat die geslag is of wanneer my boepie gaan begin wys, gaan dit eers behoorlik insink.”

Die borrelende aktrise is opgewonde om volgende maand die geslag van die babatjie vas te stel.

Die swangerskap is vir O’Reilly ’n seën, en sy beplan om elke oomblik daarvan te geniet, hoewel naarheid in die beginstadiums daarvan haar ’n paar keer ondergekry het.

“Ek is baie opgewonde, dit is vir ons ’n groot seën. Ek wil net die beste hiervan maak. Ek dink dis lekker dat ek dit ook nou bietjie rustiger kan vat en elke oomblik kan inneem.”

Dié egpaar is in Mei 2021 getroud en beskryf die nuwe toevoeging tot hul gesin as “die grootste geskenk van God”.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.