‘Groeipyne is tydelik,’ sê Showmax

Showmax se groeipyne is tydelik. (Foto: verskaf)

Die stromingsplatform Showmax het in Januarie vanjaar ʼn migrasie-proses na ʼn nuwe platform begin, en hoewel dié proses met ʼn paar tegniese probleme gepaard gegaan het, beskou hulle dit as blote groeipyne.

“Gegewe die skaal van die veranderinge wat daar tans by Showmax geïmplementeer word, het ons verwag dat daar ʼn paar tegniese uitdagings sou wees,” het Laura Cooke, hoof van kommunikasie by Showmax, aan Maroela Media bevestig. Die nuwe platform is gebou in samewerking met Peacock, die internasionale stromingsplatform.

“Hierdie oorgangsfase mag dalk ongemaklik wees, maar dit gaan Afrikaanse stories lewe gee op ʼn groter en beter Showmax 2.0-platform.

“Ons is dankbaar vir ons kliënte se geduld en begrip tydens die migrasie na die nuwe platform.”

Cooke verduidelik ook dat daar verskeie toestelle is wat nie Showmax ondersteun nie, en dat die tegniese span voortdurend besig is om uit te vind watter toestelle probleme bied. Sy moedig mense aan om enige stromingsprobleme hier aan te meld, sodat die span daaraan aandag kan gee en die kykervaring kan verbeter.

“Ons verstaan dat die migrasie frustrerend vir sommige kliënte is, en ons wil net dankie sê aan iedereen wat by ons gestaan het in die proses,” het Marc Jury, uitvoerende hoof van Showmax, aan Maroela Media gesê.

“Ons is passievol daaroor om Showmax-kliënte die bes moontlike ervaring en diens op die vasteland te gee, en kan nie wag om te sien wat die volgende paar maande inhou nie.”

Inhoud meer, en nie minder nie

Verskeie mense het bekommernisse geopper oor die inhoud op die nuwe platform, en dat dit lyk of sommige programme en flieks nie oorgedra is nie.

Cooke benadruk egter dat Showmax ná die migrasieproses met sowat 18 000 uur se kykgenot gaan spog, en dat die platform ʼn 150% groei in plaaslik vervaardigde inhoud toon. Showmax bied ook internasionale inhoud vanuit die krale van Universal Pictures, NBC, Peacock, Sky, DreamWorks Animation, HBO, Warner Bros., Discovery, Paramount en Sony.

In terme van Afrikaanse inhoud,beplan Showmax en Multichoice ʼn hele paar opwindende programme. Van die jongste Afrikaanse programme op Showmax sluit Wyfie en Trompoppie in.

Cooke verduidelik verder dat sommige internasionale inhoud mettertyd verdwyn weens die uitsaaiperiode wat eindig. Die uitsaairegte van ʼn program of fliek word vir ʼn sekere tydperk aangekoop, en sodra daardie tydperk verstryk het, sal die inhoud nie meer op die platform beskikbaar wees nie. Dit is ook waarom van die inhoud wat op Peacock se oorspronklike platform beskikbaar is, nie op Showmax te sien is nie.

“Showmax hou die app gedurig dop om te verseker dat die verbruikers ʼn bes moontlike kykervaring het. Soos met enige apps, sal Showmax gedurig opgraderings aanbied om die effektiwiteit van die diens te verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet ·

Myne gekanseleer, hulle het DIE kanseleerings proses so moeilik as moontlik gemaak. Klomp skelms!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.