Hollywood: Babanuus vir glanspaartjie, oudpresident wen Emmy

Tobias Menzies as prins Philip en Olivia Colman as koningin Elizabeth II in ‘The Crown’. (Foto: Facebook/The Crown)

Maroela Media bied jou ’n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Verfilming van ‘The Crown’ onderbreek

Die verfilming van die vyfde seisoen van The Crown, die Netflix-dramareeks gebaseer op die Britse koninklikes se lewens, sal na verwagting ’n pouse neem.

Dit kom na die aankondiging dat koningin Elizabeth II Donderdag dood is.

The Crown is ’n liefdesbrief aan haar [wyle koningin Elizabeth II]. Ek het niks om nou daarby te voeg nie, net stilte en respek. Ek verwag dat ons uit respek voorlopig met verfilming gaan ophou,” lui die e-pos wat Peter Morgan, die skrywer van die reeks, aan die nuuswebwerf Dateline gestuur het.

Justin Bieber kanselleer wêreldtoer

Die popster Justin Bieber wat binnekort ’n Suid-Afrikaanse draai sou maak, het weens gesondheidsprobleme besluit om voorlopig sy wêreldtoer uit te stel.

Bieber het in Junie vanjaar onthul dat Ramsay Hunt-sindroom by hom gediagnoseer is. Dié sindroom het gesigsverlamming by die 28-jarige sanger veroorsaak.

Skermgreep uit ‘n video waar Justin Bieber vir aanhangers wys hoe sy gesigvserlamming lyk. (Video: Justin Bieber/Instagram)

Ná die diagnose het hy ’n blaaskans van sy Justice-wêreldtoer geneem en die res van sy vertonings in die VSA uitgestel.

Hy het egter teruggekeer verhoog toe vir die Europese been van sy toer, hoewel hy ná slegs ʼn maand besef het dat hy nog rus nodig het.

Bieber het die aankondiging in ʼn Instagram-plasing gemaak.

“Nadat ek gerus het en met my dokters, familie en span beraadslaag het, is ek Europa toe in ’n poging om die toer te voltooi.

“Ek het ses vertonings gedoen, wat sy tol geëis het. Verlede naweek het ek by Rock in Rio opgetree en alles gegee wat ek in my gehad het vir die mense in Brasilië,” het die plasing gelui.

ʼn Moegheid het die popster glo na afloop van dié vertoning oorval en hy het besef dat ’n blaaskans nie meer onderhandelbaar is nie.

“Dankie vir julle gebede en ondersteuning deur alles! Ek is lief vir julle!”

Babanuus vir Adam Levine en Behati Prinsloo

Die glansegpaar Behati Prinsloo en Adam Levine verwag hul derde kind.

Prinsloo (34) het koppe laat draai toe sy vroeër vandeesmaand met ’n groeiende bababoep saam met haar man in Kalifornië, VSA, gewaar is.

Die egpaar het reeds twee kleuterdogters, die vyfjarige Dusty Rose en die vierjarige Gio Grace.

Prinsloo het in November 2021 aan Entertainment Tonight gesê dat sy en die Maroon 5-sanger graag vyf kinders wil hê.

“Jy moet nooit nooit sê nie. Ons wil ’n groot familie hê, wat sal gebeur gaan gebeur.”

Nuwe Olivia Wilde-rolprent het wêreld aan die gons

’n Splinternuwe rolprent wat vandeesmaand op die Venesiese rolprentfees draai, het sosialemediagebruikers op hol.

Dié misterieuse riller, Don’t Worry Darling, spog met ’n span akteurs wat onder andere uit Harry Styles, Florence Pugh en Chris Pine bestaan. Die gewilde aktrise Olivia Wilde het die regie van die rolprent behartig.

Florence Pugh tydens die Venesiese rolprentfees. (Foto: Tiziana Fabi/AFP)

Die fliek speel in die 1950’s af en handel oor ’n gemeenskap wat op sy kop gedraai word wanneer iemand se vrou verdwyn.

Hoewel die gehoor op die fees positief oor die fliek gereageer het, is die gehalte van die rolprent nie die kwessie wat tans in die kollig is nie.

Nie net het Pugh, wat die hoofrol vertolk, glad nie onderhoude oor die rolprent in die afgelope paar maande toegestaan nie, haar afwesigheid tydens die paneelbespreking op die rolprentfees was opmerklik.

Styles, met wie Wilde in ’n verhouding is, het tydens onderhoude talle onsinnighede kwytgeraak. “Wat ek hou van die rolprent is dat dit soos ’n rolprent voel,” het hy gesê.

Die ongemaklike interaksies wat die span tydens die fees gehad het, het sosialemediagebruikers laat wonder oor wat werklik agter die skerms aangegaan het.

Don’t Worry Darling beloof egter steeds om kykers te boei en sal op 23 September vanjaar die silwerskerm wêreldwyd tref.

Barack Obama wen Emmy-toekenning

Barack Obama

Barack Obama. (Foto: AP Photo/Pablo Martinez Monsivais)

Die voormalige Amerikaanse president Barack Obama het vroeër vandeesmaand sy eerste Emmy-toekenning ontvang.

Obama het die prys vir sy aanbieding van die Netflix-dokumentêre reeks Our Great National Parks gekry.

Die oudpresident spog dus nou met ’n Nobel-prys vir vrede wat hy in 2009 ontvang het, twee Grammy-toekennings vir sy twee stemalbums, The Audacity of Hope: Thoughts on Reclaiming the American Dream en Dreams from my Father én ’n Emmy.

Jennifer Lawrence gesels oor miskrame

Die aktrise Jennifer Lawrence wat bekend is vir haar rolle in rolprente soos The Hunger Games, Silver Linings Playbook en Mother, het in ’n onlangse indiepte profielartikel aan die tydskrif Vogue onthul dat sy twee miskrame in haar 20’s gehad het.

Jennifer Lawrence (Foto: Richard Shotwell/Invision/AP)

Lawrence, wat nou die ma van ’n babaseuntjie, Cy, is, vertel dat sy haar eerste miskraam in haar vroeë 20’s alleen in Montreal gehad het, en haar tweede tydens die verfilming van die opspraakwekkende Netflix-rolprent Don’t Look Up.

Sy praat vandag egter trots oor haar moederskap en die goeie ervaring wat sy met haar derde swangerskap gehad het.

“Die oggend nadat ek geboorte geskenk het, het dit gevoel asof my hele lewe oor begin het. Ek was so verlief, ek het net na hom gestaar.”

Miljoene kykers skakel in vir ‘Rings of Power’

(Argieffoto)

Meer as 25 miljoen kykers het voor die kassie vir die eerste twee episodes van die lankverwagte reeks The Rings of Power ingeskuif.

Die reeks, wat op die stromingsdiens Amazon Prime beskikbaar is, speel in JRR Tolkien se Lord of the Rings-wêreld af.

Dit was die grootste première wat ’n Amazon Prime-produksie nóg gehad het. Dit oortref ook die tien miljoen kykers wat vir die eerste episode van House of the Dragon, die voorvolg van Game of Thrones, ingeskakel het.

Bronne: BBC, People, HollywoodLife, NPR, Hollywood Reporter, Vogue, Forbes

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.