Jürgen Hellberg: Van Drakensberg tot die grens, reg in ‘Suidooster’

Jürgen Hellberg. (Foto: verskaf)

Jürgen Hellberg was maar 11 jaar oud toe hy besef het dat sy toekoms in die vermaakbedryf lê. Nimmer as te nooit sou hy egter kon raai watter interessante wendings dié pad vir hom sou inhou nie.

Jürgen is veral bekend vir sy rolle in reekse en rolprente soos Binnelanders, Suidooster, Die val, Getroud met rugby, Skeem saam en Mia and the Lion. Sy liefde vir die vermaakbedryf, waarin hy al dekades werksaam is, het in sy kinderdae reeds begin blom.

“Ek is in 1972 as 11-jarige seuntjie gekies om deel van die Drakensberg-seunskoor te wees,” vertel Jürgen aan Maroela Media. “Ek was toe reeds lief vir sang, musiek en toneelspel. Ek het geweet dat ek op die verhoog wil staan om mense te vermaak.”

Ná skool is Jürgen weermag toe, en hoewel hy dit vandag steeds as ʼn “donker tydperk” in sy lewe beskryf, was dit die begin van sy professionele loopbaan.

Hy onthou vandag steeds hoe hy geskop het teen die idee van oorlog toe gaan, en dat hy vreeslik na sy diensplig opgesien het. Sy pa het egter destyds vir hom drie opsies voorgelê: ʼn paar jaar in die tronk, ʼn paar jaar in die buiteland of om bloot vas te byt en die beste uit sy twee jaar lange diensplig te put.

Met ʼn swaar gevoel in sy hart, is hy toe maar oorlog toe. Hy is en was immers nog altyd iemand wat eerder die positiewe in enige omstandighede sien, vertel hy.

“Ná ʼn jaar het ek aansoek gedoen om na die vermaaklikheidskorps oorgeplaas te word. Daar het ek onder leiding van onder meer Jurie Ferreira, oftewel ‘oom Jurie’, soos wat ons na hom verwys het, en El Debbo gewerk.

“Ek het daar ook besluit om ná my diensplig drama in Pretoria te gaan studeer.”

Jürgen as Kitte in “Binnelanders”. (Foto: IMDb)

Hy beskryf dié wending in sy lewe en loopbaan as die silwerrandjie om twee donker jare. Dit het ook gelei tot die eenmanstuk, Blind Dog Fourie, wat later uit sy pen gevloei het.

Jürgen onthou hoe hy op ʼn dag ʼn bedelaar in Johannesburg raakgeloop het. Hy was genoop om ʼn gesprek met die man te begin, en het uiteindelik uitgevind dat die man staan en bedel om geld in te samel om ʼn album op te neem.

Dié ontmoeting het Jürgen geïnspireer om sy skrywerspen af te stof en Blind Dog Fourie te skryf. Hy het dieper in sy eie lewe en geskiedenis gedelf, en het inspirasie geput uit sy dae in die weermag en sy kinderdae in Noord-Natal, waar hy in ʼn Duitse gemeenskap grootgeword het.

Jürgen is vandag die pa van twee kinders, ʼn 27-jarige dogter wat as vermaakjoernalis vir ʼn nuusblad in die VSA werk, en ʼn matriekseun wat waarskynlik ook koers gaan kry kunste toe. Hy het sy vrou in 1982 in die klas ontmoet, en ná vier of vyf maande se gekoer agter die universiteitsbanke, het hul verhouding vlamgevat.

“En die verhouding het ook nooit gestop nie,” vertel Jürgen oor hul liefdesband wat vandag reeds oor meer as vier dekades strek.

Jürgen en sy gesin is vandag in Johannesburg woonagtig, en wanneer hy moet reis vir werk, is dit juis sy familie waarna hy die meeste smag. Dit was presies wat gebeur het toe hy verlede jaar vir sowat agt weke in Kaapstad aan die sepie, Suidooster, geskiet het.

“Dit was ʼn wonderlike ervaring, en die mense is ongelooflik,” onthou Jürgen, wat vir ʼn paar weke ʼn verskyning in die dagdrama gemaak het.

“Al wat nie lekker was nie, is dat my gesin nie by my was nie. Ek het vreeslik na my vrou en kinders verlang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

OW ·

Ek onthou hom as “Nortier” jare gelede in een van die reekse,waarin hy verskyn het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.