‘Koer’ met ‘Boer soek ’n Vrou’ op Afrikaanse maatsoekapp

Wat kry ʼn mens as jy ʼn eg Afrikaanse maatsoekapp met een van die land se gewildste Afrikaanse maatsoektelevisieprogramme kombineer?

Die perfekte pasmaats.

Diegene wat vanjaar ʼn kans op plattelandse liefde wil waag, kan sommer hul slimfone gebruik en direk op die Koer-app vir een van Boer soek ʼn vrou se toptien‑boere inskryf.

Koer –  ʼn app wat vir Afrikaanssprekendes die geleentheid bied om in hul moedertaal vlerk te sleep –  is in 2020 deur die akteur Armand Aucamp saam met die ontwerper Dewald van Zyl, kopieskrywer Marteni Burger en tegniese ontwikkelaar Jacques Engelbrecht, van stapel gestuur.

Vandag spog hul reeds met meer as 170 000 gebruikers wat aanlyn kan “koer” of “koes” om liefde te vind.

“Ons het regtig van die heel begin af al gedink dat dit lekker sal wees om hande met Boer soek ʼn vrou te vat en iets oulik te doen, maar Koer was in die begin te klein om werklik iets te bied. Nou is ons byna deel van die volksmond as dié plek om te gaan wanneer dit kom by liefde in Afrikaans soek,” sê Armand aan Maroela Media.

“Ons het natuurlik nie geweet ‘koer’ en ‘boer’ gaan perfek rym toe ons dit geloods het nie, maar kyk nou net,” skerts hy.

Belangstellendes wat nog nie Koer het nie, kan die app gratis aflaai en ʼn paar vinnige en eenvoudige stappe volg om hul profiel te skep.

Koer gee dan aan verbruikers die geleentheid om ander profiele in die “Koerwoud” deeglik deur te trap en die kat behoorlik uit die boom te kyk voordat hul op die “koer” of “koes” knoppie swiep.

Verbruikers sal egter tot einde November ʼn nuwe toevoeging genaamd “koer ʼn boer” op die app se tuisblad sien. Hier word jy na die “boerwoud” gelei waar al tien die kykNET-boere gelys is en jy vinnig en maklik kan inskryf deur ʼn briefie te skryf.

Daarna reik die kykNET-span uit met verdere stappe.

Volgens Armand is die boerwoud omtrent aan die gons, met meer as 600 inskrywings wat binne die eerste drie dae van November via die app ingestuur is.

Armand Aucamp. (Foto: Verskaf)

“Dit is baie opwindend en vir beide handelsmerke ʼn geleentheid om na nuwe teikenmarkte uit te reik. Ons het Engelse verbruikers op Koer wat dalk nog nooit eens van Boer soek ʼn vrou gehoor het nie, maar nou is hulle belangstelling geprikkel. Die jonger Afrikaanse garde het dalk ook nie almal DStv nie, so nou reik ons op só manier ook weer na hulle uit.”

Hy glo dat Koer en Boer soek ʼn vrou juis die perfekte pasmaats is omdat hulle dieselfde waardes deel rondom egte konneksies bou.

“Ons app is ingestel op opregte en ware liefde vind, nie vinnige en oppervlakkige verhoudings nie. Ons wil ware konneksies bewerkstellig, en ek dink dit is iets wat Boer soek ʼn vrou die afgelope 16 seisoene ook so goed reggekry het. Beide se sukses lê in die feit dat ons in ware liefde glo en vir mense die geleentheid wil bied om dit te vind.”

Volgens Armand moet enkellopendes ook hul skaamte oor pasmaatapps en -programme laat staan.

“Liefde is die universele tema van ons almal se lewens, dit is hoekom ons hier is. Daar is niks meer ongelooflik as om mense te help om pasmaats te vind nie, en mense wat daaroor skaam is, moet onthou dat almal op die app én televisieprogram in dieselfde bootjie is. Julle vat dieselfde kans, so moenie bang wees nie.”

  • Klik hier om vanjaar se tien boere te sien.
  • Besoek Koer se webblad hier.
  • Belangstellendes kan ook die vervaardigers, Wolflight, by 079 614 2229 skakel of ’n e-pos na [email protected]
  • Skandeer die QR-kode om vinnig en direk die app af te laai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

latie ·

kan nie wwerk met piesang vs piesang en appels vs appels nee dankie nie tyd om te mors nie

Kirst ·

Ek het my vrou ontmoet op ‘n pasmaat webwerf. Ons is nou al 16 jaar saam en 14 jaar getroud.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.