‘Kokkedoor’ vir internasionale prys benoem; groet nóg deelnemers

Borries se hoenderpote het sy “Kokkedoor”-vuur laat uitbrand. (Foto: verskaf)

Dit is nie net op die kassie waar Kokkedoor Vuur & Vlam aan die brand is nie.

Dié gewilde kykNET-kookprogram is by die TBI Innovation Awards 2023 benoem in die kategorie vir werklikheidsprogram van die jaar. Die wenners van dié kompetisie word in Oktober vanjaar in Cannes, Frankryk, by ʼn handelskou vir die televisiebedryf, International Market of Communications Programmes, bekendgemaak.

Daar is heelwat swaargewigte wat aan dié kompetisie deelneem, met instellings soos YouTube en BBC Studios wat verlede jaar met pryse weggestap het.

“Dit is ʼn groot pluimpie vir Kokkedoor,” het Wilmer Müller, publisiteitsbestuurder van Kokkedoor Vuur & Vlam, aan Maroela Media gesê.

Terug op tuisbodem, is daar 12 oorblywende hoopvolle braaiers wat hul liefde en passie vir kosmaak op die spel gesit het.

“Braai se stiefkind,” soos Bertus Basson dit stel, het vandees week nog twee deelnemers uit Kokkedoor Vuur & Vlam se hoenderhok geskop.

Om ʼn heel hoender, eg Suid-Afrikaanse hoenderpote en ʼn bykos in ʼn skamele twee ure aanmekaar te timmer, het ʼn reuse-uitdaging vir die 12 kokkedore ingehou. Vir kinkelbraaier, Borries, en onthoubraaier, Lara, het dié uitdaging hul kole laat uitbrand.

Alhoewel die atmosfeer in die Kokkedoor-kombuis byna net so warm soos die braaivure was, was daar ʼn hele paar hoenderbraaie wat die beoordelaars van die kompetisie, Bertus Basson en Kobus Botha, beslis beïndruk het.

Kevin en Bertus het die uitdaging gewen. (Foto: verskaf)

Kinkelbraaier, Cindy, en onthoubraaier, Joubert, het ten spyte van ʼn bekommernis oor die standaard van hul hoender, as een van die topspanne geëindig. Dit was veral vir Joubert ʼn emosionele dag in die kombuis.

“Ek kook vir die mense wat nie meer by my is nie,” het ʼn bewoë Joubert sy ma en sy swaer se afsterwe herroep. Hy kon dit byna nie glo toe die beoordelaars bekendmaak dat hy en Cindy een van die topspanne is nie.

“Ek het my naam gehoor, maar dit was ʼn absolute skok,” het hy gesê.

Dit was egter kinkelbraaier, Kevin, en onthoubraaier, Bertus, wat as wenspan by die aand se uitdaging weggestap het. Daar pryk nie net ʼn nuwe titel agter dié twee braaiers se name nie, hulle het elkeen ook ʼn topklas Megamaster-braaier met dié oorwinning losgeslaan.

Dit was so hittete, of Ashley en Nicole was op pad huis toe. Dié braaiers se slaai- en hoendergeregte het die beoordelaars glad nie beïndruk nie, hoewel Ashley ʼn deel van die slaai aan sy dogtertjie gewy het.

Joubert het bewoë geraak nadat Lara huis toe gestuur is. (Foto: verskaf)

Op die einde van die dag was dit Borries en Lara se melerige hoenderpote en smaaklose hoendergereg wat hulle die uittog laat blaas het. Dié braaiers is egter nie heeltemal in sak en as oor die feit dat hulle huiswaarts moes keer nie.

“Hierdie kompetisie het my ʼn sterker mens gemaak; ek het so baie geleer. Dit is nie lekker om huis toe te gaan nie, maar my hart is vol,” het Lara gesê.

Borries is weer verheug dat hy deur sy deelname aan dié program, vir sy kinders kon wys dat die lewe soms snaakse draaie met ʼn mens loop, maar dat ʼn mens nimmer as te nooit moet gaan lê nie.

“Ons het ons beste gedoen, en dit is die belangrikste,” het Borries se afskeidsboodskap gelui.

Dié uittog was nie die laaste interessante gebeurtenis in die Kokkedoor-kombuis nie. Daar is oudergewoonte ʼn paar spanskuiwe gemaak om die braaiers op hul tone te hou.

Die nuwe spanne is Nataan en Cindy, Karen en Kevin, Bertus en Ashley, Nicole en Mandré, en Gert en Joubert.

Die braaiers het in hul noppies by die kombuis uitgestap, elkeen gelukkig met hul nuwe braaimaat. Joubert het reeds ʼn waarskuwing aan die res van die braaiers in die kombuis gerig:

“Ek dink ek en Gert gaan ʼn mean team maak!”

  • Kokkedoor Vuur & Vlam word Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.