kykNET skuif aandskedule

‘Suidooster’ se Lee-Ann en Tyron. (Foto: kykNET)

Voordat jy voor die kassie inskuif, gereed om jou gunsteling-sepie of -telenovelle te kyk, moet jy weet van skuiwe in kykNET, DStv-kanaal 144, se spitskyktydskedule.

Kykers kan van Maandag 3 Oktober af uitsien na die gewilde sepie, Suidooster, wat nou om 18:00 op die kassie sal wees, gevolg deur kykNET se splinternuwe telenovelle, Diepe Waters, om 18:30.

Met hierdie skuif kry DStv-premium-intekenare ’n groter keuse van Afrikaanse programme om te geniet in elke tydgleuf op kykNET en kykNET&kie.

“Die nuwe gleuf vir Suidooster en die bekendstelling van Diepe Waters differensieer die aanbod op die twee kykNET-kanale en bou voort op ons strategie om albei kanale se unieke aanbod te laat groei. kykNET bly verbind daartoe om vir al ons kykers die beste kykervaring te bied,” het Waldimar Pelser, M-Net Direkteur vir kykNET-kanale, gesê.

Suidooster het in 2015 die skerms getref, oorspronklik met slegs drie episodes ’n week. Dit is later verander om kykers vyf episodes ’n week te bied.

Dié nuwe telenovelle beloof om net soveel drama soos ’n daaglikse sepie in te hou, maar volgens Nicola van Niekerk, senior bestuurder van teksgedrewe inhoud en feitelike vermaak by M-Net, is daar wel ’n verskil tussen die twee.

“Tradisioneel het ’n sepie meer uitgerekte stories en geskied dit binnenshuis in ’n ateljee. ’n Telenovelle is ’n melodramatiese reeks wat eintlik ’n beduidende einde moet hê. Uiteindelik bestaan telenovelles uit 156 tot 208 episodes, waarna dit óf tot ’n einde kom óf hernu word,” het sy tydens die bekendstelling van die nuwe telenovelle gesê.

Dié spanningsvolle verhaal sluit gewilde akteurs soos Justin Strydom, Sandi Schultz, Lea Vivier, Altus Theart, Werner Coetser, Nadia Valvekens, Lizz Meiring, Eloise Cupido, Neels van Jaarsveld en Stephanie Baartman in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Piet 6 ·

kykNET is nou op die afdraande pad na nuwe bestuur in Februarie begin het.

Witbaard ·

Betaal deur jou nek om Afrikaanse vermaak te kyk, maar word deesdae gepeper met oorsese oorgeklankte “CRAP”.

Eugene ·

Ek stem saam oor die oorgeklankte gemors… maar jy is bewus dat die telenovelle waarna hier verwys word nie oorgeklank is nie…?

Piet 6 ·

Ons moet 2 ure per dag plus 2 ure per dag herhalings na oorgeklankte goed kyk en dan nog 8 ure herhalings op Saterdae. Dit kon gebruik geword het vir 4 plaaslike reekse en GMR kon nog voortgaan en daardeur baie werk vir plaaslike aktreurs geskep word, maar nou word die geld aan buitelandse reekse gespandeer.

Nou word ń plaaslike reeksvan 5 uitsendings per week geskrap en vervang met ń plaaslike reeks wat slegs 4 dae per week uitsaai.

piet ·

Ek het meer as ‘n jaar laas tv gekyk en selfs toe was die kykery uiters beperk met omtrent net die nuus wat gekyk is . Dis verbasend hoeveel beter dinge jy kan doen met jou tyd (alhoewel ek baie tyd op die rekenaar spandeer). Ek mis glad nie tv nie. Ek kyk so nou en dan tv reekse (wat op netflix is/was en so aan) op die rekenaar maar selfs dit gebeur maar selde. TV kyk (en veral sepies) is regtig tydmors.

Alta Alleman ·

Ek is meer bekommerd oor die Engelse advertensies wat ek op my Afrikaanse kanaal forseer word om te kyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.