kykNET trek nuwe baadjie aan

Die gewilde Afrikaanse televisiekanaal kykNET (DStv-kanaal 144) sal van vandag (Donderdag) af met ʼn splinternuwe voorkoms spog.

Volgens Leo Smit, bemarkingsbestuurder van kykNET, was dit belangrik om die kanaal as premium-handelsmerk te vestig deur die grafika aan te pas om die gehalte van die kanaal se inhoud te weerspieël.

“kykNET is een van die grootste Afrikaanse handelsmerke in Suid-Afrika en ons is werklik trots op die invloed wat die kanaal die afgelope 21 jaar op die Afrikaanse vermaaklikheid-ekosisteem gehad het. kykNET is werklik soveel meer as net televisie,” voeg Smit by.

ʼn Reuseveldtog is van stapel gestuur, wat onder meer ʼn week lange fotosessie deur Willem Botha ingesluit het. Botha het sowat 180 kykNET-persoonlikhede voor sy kamera gehad, elk met twee uitrustings – ʼn formele uitrusting en een wat gepas is vir die program waarvan hulle deel is.

Botha het vier dae op die stel in Johannesburg by Stark Films, waar onder meer die kykNET-sepie Binnelanders geskiet word, bestee, asook drie dae in Kaapstad by Atlantic Studios, die tuiste van programme soos Suidooster, Arendsvlei, Kwêla en Tussen Ons.

“Vir my is dit altyd belangrik om elke persoon voor my lens gemaklik te laat voel. Dit weerspieël dan in die foto’s. Ons land het beslis die mooiste mense in die wêreld,” het Botha gesê.

Hennie van Deventer van Clearwater, die reklame-agentskap wat vir die veldtog verantwoordelik is, sê die kanaal se nuwe voorkoms het ʼn sterk fokus op die mense van kykNET.

“Dis name en persoonlikhede wat ʼn mens elke dag in jou leefkamer verwelkom,” het Van Deventer gesê.

Die veldtog was ʼn enorme produksie met een vervaardiger en produksiebestuurder, ʼn produksie-assistent, drie hare- en grimeerkunstenaars, twee persone wat vir die uitrustings verantwoordelik was en een fotograaf.

Ontwerpers, animeerders, ʼn musikale regisseur, ʼn liedjieskrywer en ʼn stemkunstenaar asook ʼn klankingenieur was deel van die span.

Loki Rothman en James Bassingthwaighte het die liedjie geskryf. Volgens Rothman was dit ʼn groot voorreg om vir kykNET ʼn nuwe klank te gee en om saam met Bassingthwaighte aan die projek te werk.

“Vir my was die grootste uitdaging om liriek te skryf wat op twee verskillende maniere geïnterpreteer kan word. Ons doel was om ʼn liedjie vir die kanaal te skryf wat ook oor die radio kan speel en op sy eie kan staan sonder dat jy eens weet dit is vir kykNET geskryf.

“Ek voel ek en James het die perfekte balans gevind tussen hierdie twee wêrelde. Ons kan nie wag dat almal die liedjie hoor nie.”

Karen Meiring, M-Net-direkteur vir kykNET-kanale, het gesê die kykNET-handelsmerk het oor die afgelope 21 jaar bewys dat hy nie terugstaan vir vernuwing nie.

“Hierdie nuwe voorkoms is verfrissend en in voeling met ons wêreldklas- Afrikaanse vermaak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Debbie ·

Net jammer hulle herhaal elke dag hul programme en die flieks is al deur gekyk op kyknet.

Sandra ·

Hulle kan gerus hul programme ook opknap en minder herhalings hê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.