Leah weer op reis om hoop te skep op klein dorpe

Leah. (Foto: Verskaf)

Die blondekop-sangeres en televisiepersoonlikheid, Leah, dra eersdaags weer haar aanbiedershoed  vir die splinternuwe kykNET-program, Lottoland help ʼn dorp.

In dié sustersprogram van Dankie, Lottoland kies Leah koers na 13 dorpe regoor Suid-Afrika om gemeenskappe se drome te help bewaarheid, en ontmoet inwoners wat ʼn plan of ʼn droom het om hul gemeenskap te verbeter.

Wanneer Leah, wat ook voorheen Boer Soek ’n Vrou aangebied het, die gekose dorpe besoek, lei sy hulle aanvanklik om die bos: Terwyl die betrokke organiseerders dink hulle is deel van die oudisie-rondes, is hulle eintlik reeds gekies om deel van Lottoland help ’n dorp te wees.

Leah het van Cradock na Clanwilliam, van Beaufort-Wes na Philippolis in die Vrystaat, en na nog nege ander dorpie gereis. Vir sommige was daar ’n pragtige park op die wenslys, vir ander die opknapping van ’n ikoniese toeristebestemming in die Klein Karoo. En vir die Kalahari-mense van Dibeng gaan dinge eersdaags baie anders lyk.

Hoe werk die proses?

Leah leer die dorp en sy mense ken en vind meer uit oor watter projekte hulle graag sal wil aanpak tot voordeel van die dorp.

“Ons kuier by elke dorp, ontmoet die mense wat hand opgesteek het om die dorp te verteenwoordig en bereid is om binne ’n maand hulle droomprojek aan te pak, en verras hulle met ’n koevert van Lottoland,” vertel Leah.

Die doel van Lottoland help ’n dorp is nie net om geld te gee nie, maar ook om teenprestasie vanuit die gemeenskap te ontlok. Daarom word die inwoners vier weke grasie gegun om hul kant te bring met die geld wat beskikbaar gestel is.

Daarna besoek Leah weer die dorp om die vordering te sien. As dit nog nie klaar is nie, spring sy sommer self in om saam met die gemeenskap die projek af te handel.

“Hierdie is moontlik een van die heel beste produksies waarop ek al gewerk het. Die span is fantasties, die dorpe is lieflik en dít wat die program doen is regtig uitsonderlik. My hart loop oor van hoop en my siel is verryk. Ek geniet elke oomblik,” vertel Leah.

Die inwoners van Hofmeyr in die Oos-Kaap was die eerste om in die nuwe reeks ’n Lottoland help ’n Dorp-vlag te kry.

Vir Leah was haar besoeke aan die kleiner dorpies ook ’n openbaring.

“Ek het geleer dat hierdie mense soveel hart het en onbaatsugtig bereid is om hul eie dorpe te help. Jy kan staatmaak op klein dorpies en daar is baie trots. Dit vat regtig net een klein gebaar om ’n groot verandering teweeg te kan bring. Mense is steeds bereid om bo hul omstandighede in hul dorpe uit te styg,” sê sy.

Natuurlik moes sy die land deurkruis na elkeen van die 13 bestemmings, sommige waarvan min mense al gehoor het of weet hoe om die naam uit te spreek.

Leah kan nie uitgepraat raak oor wat hierdie ervaring vir haar beteken nie.

“Dit is regtig sielsverrykend. Dit wys net weer watter bitter mooi land ons het en hoe ons mense regtig kan saamstaan en saamwerk. Kykers sal met elke episode verras wees met die veranderinge. Hierdie program sal vir jou hoop gee.”

Lottoland help ’n dorp begin op 11 Oktober om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) of stroom dit op DStv Stream.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Niklaas ·

Dit klink na ‘n oulike TV program daardie ! Heelwat dorpe gaan baat daarby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.