Luister: ‘Binnelanders’ se Germandt spog met eie musiek

Germandt Geldenhuys (Foto: verskaf)

Sy gesig is elke weeksaand op die kassie te sien as Louis Koster in die immergewilde sepie, Binnelanders, maar Germandt Geldenhuys spog eersdaags ook nog met sy eerste oorspronklike enkelsnit.

“Dít was seker my mees senutergende projek. Dit is iets waaroor ek lankal droom; ek wou nog altyd my eie oorspronklike musiek uitgereik het.”

Hy erken dat hy onseker en effe bang was om hierdie nuwe fase in sy lewe te betree.

“Ek is gewoond daaraan om ander mense se liedjies te sing. Dis ook baie makliker, glo my. Weens omstandighede word ek toe gedwing om hierdie liedjie te skryf.”

Geldenhuys het besluit om die bul by die horings te pak. Hy het met ʼn vriend, wat ook ʼn musiekvervaardiger is, gaan gesels en die bal aan die rol gesit. Hy het ingestem om hand by te sit, ʼn besluit wat groot vrug vir Geldenhuys afgewerp het.

“Daar is soveel mense wat my op sosiale media en in inkopiesentrums gevra het of ek die liedjie gaan uitreik, en ek het besluit ek gaan. Ek is só opgewonde om my eerste oorspronklike enkelsnit te kan uitreik.”

ʼn Deel van die lied is ook in Binnelanders gebruik.

Geldenhuys het ʼn ruk geworstel met die liedjie – nie net moes dit van toepassing gewees het op sy karakter se storielyn nie, maar dit moes ook iets vir Geldenhuys op ʼn persoonlike vlak beteken.

Hy het aan Maroela Media gesê hy beoog om hom voortaan meer op musiek toe te spits. Musiek verg egter harde werk, veral om iets soos ʼn vollengte-album te kan uitreik, iets wat vir hom ʼn groot droom is.

“Uiteraard is ek besig met Binnelanders en so aan, maar miskien kan ek ʼn paar enkelsnitte nou bekendstel.”

Geldenhuys erken dat hy homself gedurende die skryf en opneem van die liedjie verras het.

“Dit was ʼn lekker, interessante en opvoedkundige ervaring.”

Geldenhuys het al sy lyf sepie-, fliek- en verhoogakteur gehou. Hy het ook al ʼn paar keer agter die mikrofoon ingeklim.

Hy en sy vrou op die kassie, Je-ani Swiegelaar, het ʼn paar jaar gelede ʼn teaterproduksie, KeelVol, op die planke gebring. Hiermee het hulle Suid-Afrika en Namibië platgetoer en dié produksie al meer as 70 keer opgevoer.

Hulle beplan om vanjaar aan te hou toer met die produksie, en het reeds ʼn string vertonings wat vir hulle voorlê.

“Ons wou ʼn produksie na mense toe vat. Baie mense in kleiner dorpies en gemeenskappe het nie noodwendig toegang tot teaters en so nie. Hulle woon dalk op ʼn plaas of ʼn dorpie waar daar nie regtig ʼn teaterkultuur is nie. Ons het vir mekaar gesê selfs al moet ons in kroeë, stadsale of skoolsale optree – en glo my, ons het al op vreemde plekke opgetree – wil ons beslis teater na die mense toe bring.”

  • Luister na die podsending boaan die berig om meer te wete te kom oor Geldenhuys se jongste projek en om te hoor hoe sy snit “In geval” klink.
  • Geldenhuys se snit “In geval” is van Vrydag af beskikbaar op alle digitale musiekplatforms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.