Luister: Dié slimkop-‘trouvrou’ lag al die pad bank toe

Nastassja Ras kuier in die Maroela Media-ateljee.

Hoewel die etiket-ghoeroe Emsie Schoeman aanvanklik afkeurend oor die borrelende blondekop Nastassja Ras se aansteeklike lag gepraat het, is dit dié klipharde skaterlag wat nou al die pad bank toe weerklink.

Nastassja (37) is Woensdagaand aangewys as die eerste wenner van die VIA-werklikheidsreeks Houvrou of trouvrou, waarin agt vroue mekaar die stryd aangesê het vir ʼn kontantprys van R500 000.

Dié entrepreneur en model van Pretoria het in die finale ronde teen Dané (26), ʼn aktrise van Pretoria, en Kedeshia (26), ʼn entrepreneur van Oos-Londen, te staan gekom.

Die program het ʼn unieke konsep wat die vraag vra: Hoe lyk die moderne trouvrou? Die deelnemers moes deurentyd aan uitdagings deelneem wat hulle staal as trouvrouens toets. Van die uitdagings het koekversiering, die vaswerk van ʼn knopie, die omruil van ʼn motorband en ʼn modeparade ingesluit.

Die vroue moes selfs ʼn vis skoon maak, en dít, sê Nastassja in die Maroela Media-ateljee, het haar amper oor die randjie van die afgrond gestoot.

Haar kenmerkende lag klingel in die ateljee. “Dit het my amper gebreek. Dit was ʼn massiewe uitdaging. Die koekversiering en om kos te kook was net so erg!”

Nastassja Ras. (Foto: VIA)

Dit was haar geloof wat haar laat vasbyt het tot die einde, al was sy in die laaste episode “all over the place”.

“Toe ek ingeskryf het, het ek vir almal gesê ek gaan inskryf en ek gaan wen. Dit is die verskil tussen my en die ander deelnemers: Hulle het ingestap met die hoop om te wen, maar ek het ingestap met die geloof om te wen.”

Tannie Emsie – soos die deelnemers en aanbieder, Christi Panagio, na die bekende etiket-ghoeroe verwys – het saam met die voormalige Mnr. SA-finalis Bauke Hanekom en die pittige radio-persoonlikheid Sherlin Barends die agt vrouedeelnemers se plekke op die punteleer bepaal.

Sy het van die begin af geweet die titel behoort aan haar, sê Nastassja. “In my hart het ek geweet ek kan dit doen. Toe hulle my naam uitroep as die wenner, het dit onwerklik gevoel, want ek het myself soveel keer betwyfel tydens die kompetisie. Ek het egter van die begin af ingestap met die verwagting om te wen.”

Van die totale prysgeld word net R430 000 in haar bankrekening oorbetaal nadat sy besluit het om vir elkeen van haar mededeelnemers R10 000 te gee.

Sy beplan egter nie om die prysgeld te blaas nie, en beoog om die geld in ʼn nuwe sakeonderneming te belê.

“Ek is ʼn entrepreneur en wil die geld vermeerder. Dit moet groei.”

Hoewel sy in ʼn oogwink dié strawwe dog prettige kompetisie weer sou doen, was daar ook vurige en emosionele oomblikke wat blitsvinnig tussen die vroue ontlont moes word.

Dit was veral vir haar moeilik toe een van haar kamermaats, die 31-jarige Mary-Jane van Kaapstad, haar daarvan beskuldig het dat sy ʼn skinderbek is.

Dané, Kedeshia en Nastassja het die topdrie van die kompetisie gehaal. (Foto: Facebook/Nastassja Ras)

“Ons selfone en rekenaars is met ons aankoms van ons af weggeneem en ons het nie ʼn televisie gehad nie. Aangesien ons geen vermaak of afleiding gehad het nie, het ons elke aand gelê en lag oor die dag se dinge. Komaan, watter girls doen dit nie?

“Ons het nie lelik oor mense gepraat nie, ons het net gelag oor sekere situasies. Ons humor is verkeerd geïnterpreteer as skinder.”

As mede-eienaar van ʼn spa in Waverley, Pretoria, model en aktrise wat al in ʼn rits advertensies verskyn het, was dié slimkop gereed om haar lewe “na die volgende vlak te neem”.

“Ek was gereed vir iets nuuts. Ek wou ʼn uitdaging aanvaar en my lewe op ander vlakke toets. Ek het besluit om voluit te gaan vir ʼn geleentheid soos dié.”

  • Houvrou of trouvrou is op Showmax te sien.
  • Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met Nastassja Ras.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kiewiet ·

Baie geluk meisiekind jy is so pragtig enige man wat jou trou is gelukkig jy is n yster..jammer v Dané sy was ook een v my gunstelinge maar ja jy sal beslis ook ‘n goeie trou vrou uitmaak. Ek het die reeks baie geniet op showmax

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.