Luister: Oudrugbyspeler sê hoe hy ‘Die Brug’ aanpak, wen

Robert Kruger het oor ‘Die Brug’ gestap. (Foto: verskaf)

Toe Robert Kruger maande gelede besluit het om vir kykNET se “groot avontuur” in te skryf, het hy nimmer as te nooit gedink dat hy uiteindelik as die wenner oor ʼn selfgemaakte brug sou stap nie.

“Mense kan gaan kyk hoe kykNET die program bemark het. Dit was alles of niks, jy moes net avontuurlustig wees – en dit is waarvoor ek aanvanklik ingeskryf het,” vertel dié 35-jarige oudrugbyspeler in Maroela Media se ateljee.

Die Brug is oorspronklik bemark as ʼn geheimsinnige, avontuurbelaaide werklikheidsprogram, en die deelnemers het eers ná hul aankoms by die houthuis uitgevind wat presies die taak sou behels.

Robert het egter, ongeag van die feit dat hy nie geweet het wat op hom wag nie, besluit dat daar twee goed is wat hom sterk sal hou gedurende die uitdaging: sy geloof in die Here en sy liefde vir sy gesin.

Hy erken egter maklik dat dit hom glad nie lank geneem het om te besluit wat hy sou doen indien sy medespelers hom sou kies om uiteindelik oor die brug te stap nie.

“Ek het van die begin af geweet dat ek nie gaan deel nie, dit is deels waarom ek so emosioneel geraak het aan die einde. Ek het geweet wat my besluit sou wees, ek het eintlik gewens dat dit William was wat daardie moeilike besluit moes maak.”

Altesaam 12 vreemdelinge het maande gelede op ʼn plaas in Swellendam in die Wes-Kaap byeengekom om ʼn onbekende reuse-uitdaging aan te pak. Hulle het, ten spyte van die onsekere omstandighede, saamgewerk om ʼn brug binne 20 dae te bou.

Talle deelnemers is deur die loop van die program uitgestem. Onder dié is Arnold, Marna, Avril, Nonnie, Larry, Melanie en Jamie. Twee buiteperdspelers, onder wie Jacques en Melanie, het deur die loop van die uitdaging by die groep aangesluit.

Uiteindelik was daar net sewe spelers oor: Geo, Sam, Iana, Tina, Robert, Jacques en William – en nadat hulle die brug kaalhand voltooi het, moes hulle besluit watter een van hulle oor daardie brug sou stap. Dié persoon sou dan ook ʼn keuse moes maak: hou of deel hulle die geld? Robert het uiteindelik besluit om die geld vir homself te hou, maar het wel R50 000 met William gedeel.

Robert Kruger. (Foto: verskaf)

Daar was uiteindelik net R800 000 van die R1 miljoen in die skatkis oor, aangesien Robert en Geo vroeg in die spel al R100 000 “gesteel” het, en Larry en Melanie het ook elkeen met R50 000 weggestap. Dit was juis Robert se “gesteelde” R50 000 wat hy uiteindelik met William gedeel het.

“Die hele ervaring was vir my positief,” sê Robert. “Baie spelers het gedurende die reeks gesê dat dit maklik is om in ʼn fantasiewêreld, oftewel ‘feetjieland’, te verval. Dit is mooi en perfek daar, en die mense is oulik. Tog is dit ook ʼn spel – daar is mense uitgestem.

“Die vriendskappe wat ek daar gemaak het, was opreg, en ek het goeie konneksies met mense gemaak. Vir my was dit altyd ʼn spel en dit was moeilik om nie meegevoer te raak in hierdie feetjieland nie. Wat vir my ʼn deurslaggewende wake up call was, was die oproep met my gesin.”

Dié oproep het Robert ook herinner waarom hy vir die program ingeskryf het, en het sy besluit om uiteindelik die geld vir homself te hou bloot versterk.

Deur die loop van die program het Robert herhaaldelik gesê dat hy graag ʼn spel van integriteit wil speel, en dat hy ʼn voorbeeld vir sy kinders wil wees. Vandag, maande nadat die spel geëindig het, staan hy sterk in die feit dat hy dié behoefte verwesenlik het.

“Integriteit beteken vir baie mense baie dinge. As jy besluit wat vir jou belangrik is, en vir wie jy dit doen, en jy hou daaraan vas, is dit die belangrikste. Ek moes uiteindelik ʼn baie moeilike besluit neem: om te deel of nie te deel nie.

“Die maklike uitweg was dalk om te deel. Ek het besluit om die moeilike ding te doen deur te weet: dit is nie waarom ek ingeskryf het nie.

“Ek het gekry wat ek wou gehad het uit hierdie reis. Baie mense wat my ken, weet dat ek ʼn introvert is en dat hierdie heeltemal buite my gemaksone is. Jy stel jouself aan soveel dinge bloot – mense wat jou op TV sien, mense wat jou oordeel en jou karakter bevraagteken. Die groei wat ek daaruit gekry het, was egter vir my genoeg.”

  • Luister boaan die berig na die volledige klankonderhoud met Robert Kruger.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Nommer 7 ·

Ek vind dit net vreemd dat sommige van die deelnemers nie belang gestel het in die R100,000.00 elk wat William hulle aanbied het, indien hulle vir hom as wenner sou stem nie.

Ore ·

Teleurgested in sy besluit. As rugbyspeler is jy veronderstel om ‘n spanmens te wees en die soet en die suur met die span te deel. Die span het hom gedra, maar op die einde was hy nie meer deel van die span nie. Alhoewel William die ondernemeing van die geld deel gemaak het, het die span steeds nie vir hom gestem nie. Sterkte.

Ronél ·

@Ore, Robert en sy gesin het vir ‘n jaar lank nie ‘n inkomste gehad nie, loop ‘n myl in sy skoene…..?….. nee jy het nie daardie deursettingsvermoë nie!!!!!!!!!!!!!!!!!

Elsie ·

@Ronél Ag Asseblief. Hy het gekies om “af te tree” en dis nie asof rugby min betaal nie. So waar is daai geld? En hoekom het hy in ‘n jaar nie probeer om iets te doen nie en toe gekies om nie eers die mens wat saam brug bou elk tien duisend te gee nie?

Niemand het verwag dat hy dit gelykop moet deel nie, maar moenie verwag dat ons ‘n slapgat wat te sleg is om te werk en boonop suinig is jammer kry nie.

Die 800K gaan ook maar vinnig uit wees as ek die saak so kyk – want mens het ‘n ruggraat en wil om te werk nodig as jy êrens wil kom.

ameli ·

Sies Elsie om te sê iemand is slapgat as jy hom of sy omstandighede nie ken nie. Gooi jy die 1ste klip. Mooi mens v binne jy neh. Mag God jou hart aanraak

Annelie ·

Ja dit is ‘n spel, maar al wat ek nie verstaan nie is: Hoe kan jy sê jy het “‘n spel van integriteit” met integriteit gespeel as jy die mense wat saam met jou in die spel is ‘n rat voor die oë draai?

Colombo ·

As jy inhalig is dan vlieg integriteit by die venster uit.Dat hy alles sou neem was vir my die grootste teleurstelling van die reeks.

Tokkel ·

Dit sou nie skade gewees het aan sy som geld om vir sy spanlede wat hom gehelp het elk R5000.00 te gee nie…..Spansport het hom laat wen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.