Luister: Riaan Cruywagen-storie inspireer skepper van ‘Blits-Bulletin’

‘Blits-Bulletin’ se Luan Lauw, Pietie Beyers en Pierre Malan in Maroela Media se ateljee. (Foto: Maroela Media)

Die idee vir die AfriForumTV-treffer, Blits-Bulletin, het by die skepper Pierre Malan opgekom toe hy in 2018 die ikoniese Afrikaanse nuusleser, Riaan Cruywagen, in ʼn produksie gebruik het.

Blits-Bulletin is ʼn ensemble-komediereeks wat oor die agter-die-skerms-lewe van ʼn bekende Afrikaanse nuusprogram handel. Pietie Beyers, Augusta Zietsman, Bouwer Bosch, Luan Lauw, Grant Towers en Elma Postma is in dié reeks te sien.

Riaan Cruywagen maak ook ʼn paar spesiale verskynings, waartydens hy as homself vir die hoofkarakter raad gee en moed in praat om sy droom om ʼn nuusleser te word, te bewaarheid.

“Ek het destyds, toe ons aan Die Parkie Movie gewerk het, vir Riaan by die Gautrein-stasie gaan oplaai en terwyl ons gery het, het ek hom gevra hoe hy ʼn nuusleser geword het,” vertel Pierre in Maroela Media se ateljee.

“Hy het vertel hy het op ʼn dag ingestaan vir die ou wat eintlik destyds die nuus gelees het, en toe doen hy dit so goed dat hulle hom aangehou het as die nuusleser. Dit het my geïnspireer om die storie vir Blits-Bulletin te skep, en die hoofkarakter Sebastian Smit, wat daarvan droom om die beste nuusleser in die land te word.”

Blits-Bulletin is deur Claudia van Zyl geskryf en deur Laurika de Kock vervaardig. Die reeks is op verskeie plekke in Pretoria geskiet, onder meer in die AfriForumTV-ateljee, Ivory Manor, Moonshot Café en Pretoria Boys High School.

Hoewel dit hoofsaaklik ʼn komedie is, het Blits-Bulletin ook verskeie teer oomblikke, sê Pietie, wat die hoofrol van Sebastian vertolk.

“Daar is beslis oomblikke wat jou onkant gaan vang. Sebastian is ʼn baie jong en ambisieuse karakter, en hy het heeltyd net amper ʼn voet in die deur, maar daar is heeltyd goed wat in die kantoor gebeur wat verhoed dat hy sy geleentheid kry. Hy is ʼn besonderse, dromerige eksentrieke kêrel met ʼn ernstige klap van die windmeul weg, en sy aartsvyand is Luan se karakter.”

Luan vertolk die rol van die antagonis, Luan Lauwrens. Hy is die seun van Lorraine Blignaut wat deur Elma Postma vertolk word.

“Elma is bekend vir haar rol as Dezi in 7de Laan en sy vertolk gewoonlik rolle waarin sy ʼn goeie geaardheid het. In Blits-Bulletin kan mense ʼn ander sy van haar sien, en sy en Sebastian gaan mekaar fisiek met die vuiste te lyf in gevegstonele, wat ongelooflik was om op die stel te sien.”

Pietie sê hy hoop die kykers gaan net soveel lag soos wat hulle as akteurs op stel gelag het tydens die opnames.

“Dit is regtig die eerste keer dat ons moes ophou skiet omdat die hele span net nie kan ophou lag vir die situasie nie,” vertel Pietie laggend.

Die laaste episode van Blits-Bulletin is Donderdag beskikbaar op AfriForumTV, ʼn gratis aanlyn stromingsplatform. Die volledige reeks is ook hier beskikbaar.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Pierre Malan, Pietie Beyers en Luan Lauw.

Kyk hier na ʼn video van Maroela Media se stelbesoek aan Blits-Bulletin tydens die verfilming:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.