Natasja Jacobs groet ‘GMR’, opgewonde oor nuwe uitdagings

Natasja Jacobs. (Foto: Natasja Jacobs/Instagram)

Op ’n dag het Natasja Jacobs in die aantrekkamer ingeloop wat vir drie jaar ’n tweede tuiste was. Voorheen het dit haar min gepla, maar daardie dag het sy besef dat sy die geliefde stel binnekort moet groet.

Jacobs wat bekend is vir haar rol as die vurige Amanda in die sepie Getroud met rugby, beskryf die einde van dié program as bittersoet.

Haar hart hunker steeds na die lewenslange vriendskappe wat sy tydens die sepie gesmee het, tog weet sy dat nuwe uitdagings soos ’n briesie vars lug is.

Met die laaste dag van Getroud met rugby se verfilming erken sy dat ’n swaarmoedigheid en hartseer haar oorval het, iets wat sy glad nie verwag het nie.

“Dit was ’n tweede tuiste, nie net ’n werk nie. Die laaste paar weke van verfilming was eintlik rof gewees,” vertel Jacobs.

“Daardie laaste dag was ek bewus van alles wat laastes sou wees, van die grimeerstoel tot waar ons geskiet het.”

Sy vertel skertsend dat sy dit nie oor haar hart kon kry om die rok wat sy in die laaste toneel aangehad het weer terug te gee nie. Hierdie rok hang nou in haar eie kas.

Hoewel dit vir haar ’n skok was om te hoor dat die sepie tot ’n einde kom, bly sy glo dat alles in die lewe met ’n rede gebeur.

Sy erken dat sy ’n fout gemaak het deur gemaklik te raak met die maandelikse salaris wat die werk gebied het.

“In hierdie bedryf moet jy altyd soveel moontlik inkomstestrome hê. Wanneer iets deur die mat val, dan weet jy, jy het iets om op terug te val.”

Jacobs, wat nou met ’n kapsel bruin hare spog, anders as haar karakter se blonde hare,  is stelselmatig besig om ’n baadjie van vernuwing aan te trek. Sy is veral opgewonde om op ’n herontdekkingsreis te gaan om die talente waarvan sy vergeet het, weer op te diep.

“Dis ’n groot kopskuif. Vir byna drie jaar was daar ’n vaste werk, nou moet ek weer my vryskuthoed opsit,” sê Jacobs aan Maroela Media.

“Dit was vreeslik vreesaanjaend toe ek dit eers besef het, in ’n mate is dit nog steeds. Ek het my hele lewe lank vryskut gedoen, met dié rol het ek vir die eerste keer in my lewe ’n salaris gekry – ek het dit nie geken nie.”

Dit is egter nie net vriende en ’n vaste inkomste wat sy agterlaat nie, die karakter, Amanda, het deur die jare ook nes in Jacobs se hart geskop.

Dit was vir haar moeilik, vertel Jacobs, om Amanda af te begin skud, juis omdat sy so ’n noue band met die karakter deur die jare gevorm het.

Hoewel Amanda se gedrag, keuses en houding dikwels veroorsaak het dat sy nie Getroud met rugby-kykers se gunstelingkarakter was nie, het Jacobs steeds ’n diep waardering vir die feeks van ʼn karakter gehad.

“Daar is hierdie reis waarop jy gaan saam met hierdie karakter, wat naderhand soos ’n familielid word. Die lewe boots ook dikwels kuns na. Dit waardeur Amanda gegaan het, was dikwels ’n spieëlbeeld van wat in my eie lewe aan die gang was.”

Jacobs voel ook Amanda het vir haar ’n groeigeleentheid gebied, aangesien baie van die gebeure in die karakter se lewe haar gedwing het om sekere dinge in haar eie lewe aan te pak. Dinge wat sy liefs onder die mat in wou skop.

Natasja Jacobs en haar seuntjie. (Foto: Natasja Jacobs/Instagram)

Jacobs vertel dat entoesiastiese sepiekykers haar dikwels in die openbaar uitgejou het juis oor die soort karakter wat Amanda was. Van swetsende kommentaar op sosiale media tot kykers wat haar in die openbaar wil aanval; sy moes kommentaar van alle kante afweer.

“Iemand het al vir my gesê dat ek een van dié lelikste vroue op TV is. Mense was verskriklik gewees,” vertel Jacobs.

Sy erken dat sy selfbewus oor die een deel van haar gesig is en dat dit juis iets is waarop mense gereeld kommentaar lewer.

“Ek was in ’n ongeluk gewees, ek kan dit nie verander nie.”

“Ek het op ’n punt gekom waar ek besef het dat ek weet wie ek is. Dat ek net die beste ma vir my seuntjie wil wees.

“Hy dink dat ek die beste ding sedert gesnyde kaas is. Wat maak enigiemand anders se opinie nou eintlik saak?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hannelie ·

Jy het jou rol uitstekend gespeel Natasja. En is vir my ‘n baie baie mooi vrou. Sterkte met jou toekoms.

Anna84 ·

So ‘n mooi vrou met soveel talent. Mense wat fout vind met iemand anders se persoonlikheid en voorkoms is gewoonlik die wat geen selfbeeld het nie. Skud daardie negatiewiteit af wanneer dit jou kant toe kom.

Skim ·

Ek verstaan gladnie hoekom GMR tot ‘n einde kom nie. Ek het elke episode geniet, en ek wens al die akteurs voorspoed toe vir die toekoms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.