Netflix kondig 70 nuwe rolprente vir 2021 aan

Argieffoto.

Netflix het Dinsdag ʼn voorskou aangebied van 70 splinternuwe sterbelaaide rolprente wat in 2021 uitgereik sal word.

Dié voorskou is ongewoon vir die stromingsreus, wat voorheen die nuus van nuwe uitreikings een fliek op ʼn slag aangekondig het.

Byna elke genre, van drama, komedie, wetenskapsfiksie, gruwelprente en Westerns, sal vanjaar te sien wees, met sommige uitreikings wat die potensiaal het om te wedywer om gesogte toekennings.

Lankverwagte rolprente sluit in onder meer Don’t Look Up deur rolprentmaker Adam McKay van The Big Short– en Vice-faam, met Leonardo DiCaprio in die hoofrol.

The Harder They Fall, ʼn Western met Jay-Z as medevervaardiger en ʼn hoofsaaklik swart rolverdeling wat Regina King en Idris Elba insluit, is ook ʼn uitreiking om dop te hou.

Die lys het egter premièredatums vir slegs tien van die titels, van vroeg Januarie tot middel Maart, bekend gemaak.

Johnson, Gadot en Reynolds sal verskyn in ‘Red Notice’.

Die aankondiging is gemaak in ʼn brosjure op die stroomdienste se webwerf en ʼn kort video aangebied deur Wonder Woman-ster Gal Gadot, Jumanji-hoofspeler Dwayne Johnson en Deadpool-akteur Ryan Reynolds.

Oscar-wenners Regina King, Adrien Brody, Meryl Streep, Sandra Bullock, Octavia Spencer, Jeremy Irons, Leonardo DiCaprio en Jennifer Lawrence is ook in die video te sien.

Johnson, Gadot en Reynolds sal verskyn in Red Notice, ʼn aksierolprent met ʼn begroting van $160 miljoen (sowat R2,4 miljard).

Netflix het nie op ʼn navraag deur AFP gereageer oor of enige van vanjaar se rolprente in rolprentteaters ook te sien sal wees nie.

Warner Bros. het intussen ook sy lys rolprente vir 2021 bekend gemaak en het onthul dat 17 van dié rolprente gelyktydig in teaters en op HBO Max uitgereik sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter ·

Ooee! Nou is Netflix in die moeilikheid, hulle het noggie enige SA flieks genoem nie ;-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.