‘OME!’: Ongelukkigheid heers oor Christine se voorspellings

Brendan en Runet. (Foto: verskaf)

Dit was ʼn opwindende paar dae in die Vrystaat vir Brendan Peyper en die vroue wat veg om sy hart te verower.

In die jongste aflewering van kykNET se maatsoekprogram Op my eish! het dié 27-jarige sanger weer nie geskroom om ʼn soen of twee uit te deel nie. Die een meisie wat egter gesmag het na ʼn soen, Sonel, moes die Vrystaat verlaat sonder dat dié droom ooit bewaarheid is.

Die episode het afgeskop met Jo wat by die dames gaan kuier het om te hoor of daar waarheid steek in Natasha se bewerings dat iemand in die huis vir haar gesê dat sy volgende huis toe sou gaan. Kort voor lank is Christine as die skuldige uitgewys, met Chaunte wat luidkeels verkondig dat sy glo die volgende een in Christine se visier was.

“Christine, een van die meisies het vir my gesê dat jy vir die res sê ek is volgende op die lys om huis toe te gaan,” het Chaunte tydens die sessie met Jo gesê. “Ek wil net weet op gronde van wat jy dit sê en hoekom jy so voel.”

Christine het haarself verdedig en gesê dat Natasha en Chaunte aanvanklik gesê het dat hulle nie ʼn konneksie met Brendan voel nie, en dat dit net ʼn aanname was dat Brendan hulle moontlik volgende gaan huis toe stuur.

Sy het ook benadruk dat sy bloot gespekuleer het, en dat sy nie enige lelike bybedoelings daarmee gehad het nie.

“Ons leef in ʼn tyd waar ons kan sê wat ons wil, maar ons leef ook in ʼn tyd waar ons kan kies om ons woorde te gebruik om nie ander te verkleineer voor ander nie,” was Chaunte se antwoord. Christine het later in haar dagboeksessie gebieg sy is die een wat verneder en verkleineer voel deur Chaunte se woorde.

Thelmané, met wie Christine vriendinne geword het, het in haar eie dagboeksessie gesê dat sy sukkel om Chaunte op te som.

“Ek dink sy is dalk nog bietjie jonk,” het sy gesê.

Brendan hoop die meisies “soen soos wat hul dans”

Ná die onplesierige oggend, is Thelmané, Katja, Runet en Chaunte genooi om saam met Brendan op ʼn afspraak te gaan.

Die groep moes tydens die afspraak verskeie danse aanleer, hoewel Brendan gedurig net teruggeval het op wat vir hom bekend is – sokkie.

Ná ʼn prettige afspraak, het hy Runet genooi om saam met hom op ʼn alleenafspraak te gaan. Brendan het egter ʼn voetfout begaan toe hy nie kon onthou waar Runet grootgeword het nie.

Brendan en die vier dames wat saam met hom op die eerste afspraak gegaan het. (Foto: verskaf)

Runet het later tydens haar dagboeksessie erken dat daar min dinge is wat haar so pla soos wanneer mense nie kan onthou wat jy voorheen vir hulle vertel het nie. Sy het toe ook genoem dat sy iemand is wat baie waarde daaraan heg om mooi na mense te luister sodat sy nie in die toekoms weer dieselfde vrae hoef te vra nie.

Ná die afspraak het nie sy of Brendan eintlik geweet waar hulle met mekaar staan nie.

Swem vissies, swem

Die tweede groepafspraak was met Sonel, Christine, Janae en Jonelle. Brendan het die vroue gevat om hul visvangvernuf te toets.

Hy het met elke vrou alleen gesels, met die meeste van die gesprekke wat goed afgeloop het. Hy kon Jonelle, wat ʼn wyle gelede as buiteperd deel van die groep geword het, beter leer ken.

Brendan het ook van die geleentheid gebruik gemaak om die onplesierigheid met Christine op te klaar. Ná haar verduideliking, het hy gesê dat hy so iets vermoed het, en dat sy vir hom ʼn baie oulike persoonlikheid het.

Sonel is huis toe gestuur. (Foto: verskaf)

Dit was egter Janae wat die Brendan se oog gevang het, en ná ʼn kort rit op ʼn trapboot is die soene opnuut uitgedeel. Alhoewel hulle gedink het dat niemand hulle kan sien nie, kon die res van die meisies duidelik sien dat hulle besig was om te soen.

Dié soenery het Sonel veral ontstel. Sy het reeds vroeg in die reeks al gesê dat sy Brendan graag wil soen. Dié droom het egter gesneuwel toe hy tydens hul alleensessie besluit het om haar eerder huis toe te stuur.

“Dit is nie lekker om reject te word nie, veral nie deur Brendan Peyper nie,” het Sonel in ʼn dagboeksessie gesê.

“Dit is ʼn klippie in my pad, en ek glo nog steeds 100% in liefde. Ek het my idee van wat liefde is, en ek glo dat ek dit gaan kry eendag.”

  • Op my eish! word elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leeubekkie ·

Brendan, Brendan, Brendan!! Oopkop bly asb. Moenie die verkeerde meisies daar hou nie. Blond is nie alles nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.