Persoonlikhede bots, bloed spat in 1ste episode van ‘Plaasjapie’

Noubees (die groen span) hard aan die werk om hooibeddens te maak. (Foto: Verskaf)

Die eerste episode van kykNET se splinternuwe werklikheidsreeks Plaasjapie het Donderdagaand reeds trane, drama en selfs beserings opgelewer.

Terwyl een span ʼn lid kwyt was nog voor die eerste groepuitdaging kon plaasvind, het ʼn lid uit die ander groep steke nodig gehad nadat hy sy bylkap-vaardighede effens onderskat het.

Skynbaar maklike plaastake het ook spanlede, wat onder andere ʼn model, musikant, tuisteskepper en selfs ʼn weermaglid insluit, se groot en dikwels botsende persoonlikhede dadelik begin beklemtoon.

In die nuwe reeks verruil dié 18 deelnemers hul gemaklike stadsnessies vir ʼn primitiewe plaasbestaan vir ʼn kans om R1 miljoen te wen.

Dié stadsjapies, wie se ouderdom tussen 23 en 56 wissel, word in groepe verdeel en moet verskeie uitdagings en take aanpak terwyl hulle hul “plaas” onderhou. In elke episode sal ʼn lid uit die verloorspan die trekpas kry en in die finale uitsending sal daar twee deelnemers wees wat sake vir die miljoen rand uitspook.

Deelnemers is met hul aankoms deur aanbieder en “baas van die plaas” Ewan Strydom in een van twee spanne gedeel, naamlik Noubees (die groen span) óf Soetmelksvlei (die rooi span).

Soetmelksvlei (die rooi span) trek lootjies om te sien wie die kaptein gaan wees. (Foto: Verskaf)

Deelnemers het dag een gebruik om kennis met hul nuwe spanmaats én tuiste te maak op ʼn oop stuk grond van vyf hektaar op ʼn plaas buite Philadelphia in die Swartland aan die Weskus. Dié tuiste was natuurlik twee afsonderlike skure met absoluut geen geriewe soos beddens, lopende water of krag nie. Spanne het egter ʼn dammetjie en “luukse” buitetoilet tot hul beskikking, asook 10 skape en twee varkies om voor te sorg.

Dit blyk egter dat die plaaslewe reeds met die intrapslag ʼn skok vir party deelnemers se sisteem was.

Fiksheidfundi’s uit die groenspan was nie té beïndruk met hul eerste plaasmaaltyd – wat uit boeliebief en boontjies bestaan het – se voedingswaarde nie.

“Ek is gewoond aan 3 000 kalorieë per dag, so toe ons net die boeliebief en bone vir middagete kry, toe weet ek dit gaan nie genoeg wees nie, so ek gaan nou gewoond moet raak aan heelwat minder eet. Met dié soort kos gaan die badkamer my dalk ook ʼn paar keer per dag sien,” het Roché, ʼn skoonheidsmodel van Kaapstad, geskerts.

Soetmelksvlei se Kayla, ʼn kranige 24-jarige liggaamsbouer van Vereeniging, is in ʼn onverwagse wending ná ʼn mediese konsultasie aangemoedig om die plaas te verlaat weens uitdagings met haar kroniese medikasie.

“Dit is ʼn jammerte dat iets soos dít haar terughou om aan die kompetisie deel te neem,” het ʼn besorgde en tranerige medespanmaat, Suzette, gesê toe die jong rooikop die plaas verlaat het.

Noubees vergader nadat hulle die eerste uitdaging gewen het. (Foto: Verskaf)

Soetmelksvlei en Noubees het ook in die eerste episode teen mekaar te staan gekom om te kyk wie eerste 25 stewige bakstene uit water, hooi, klei en beesmis kon maak. Hoewel die spanne aanvanklik kort op mekaar se hakke was, het Noubees uiteindelik koning gekraai.

Die dag is afgesluit met ʼn vurige nabetragting by die verloorspan, waartydens Soetmelksvlei-kaptein Gerda klaarblyklik die groep se foute, en veral dié van medespanlid Arthur, uitgewys het.

Deon, ʼn 29-jarige van Saldanha en skynbare stil deelnemer se besluit om vir Arthur in die bresse te tree en Gerda se “gebrek aan leierskap” uit te wys, het nie byval by die span se eerste kaptein gevind nie. “Die feit dat Deon vir my ‘gegaan’ het, sê vir my hy is ʼn opponent,” het die 56-jarige oor haar jonger spanmaat gesê.

Roché nadat hy sy voet beseer het. (Foto: Verskaf)

ʼn Uitdagende houtstomp het ook ʼn effense demper op Noubees se oorwinning geplaas toe spanmaat Roché homself met ʼn byl beseer het en hospitaal toe moes gaan vir steke.

“Ek weet nie wat dit met mans is nie. Óf dis ʼn ego-ding dat hulle hul krag moet bewys, óf hulle vergeet maar net dat hulle soms steeds versigtig moet wees,” het 46-jarige Laurika van Kleinmond oor haar spanmaat se bylongeluk gesê.

Kykers sal in die volgende episode sien of die model wel ʼn terugkeer na die kompetisie maak.

Plaasjapie word Donderdag om 20:00 op kykNET uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.