‘Plaasjapie’ se Dian: ‘Mense vergeet soms dis net ’n speletjie’

Die kunstenaar en Plaasjapie-deelnemer Dian Louw. (Foto: Verskaf)

“Daar word gesê ʼn boer maak ʼn plan, maar ek glo ʼn kunstenaar maak sommer twee.”

Só sê die kunstenaar en Plaasjapie-deelnemer Dian Louw skertsend oor sy reis tot dusver op dié kykNET-televisiereeks waarin ʼn groep stadsjapies die plaaslewe op ʼn primitiewe manier moet aanpak vir ʼn kans om R1 miljoen te wen.

Dian, ʼn voormalige onderwyser en voltydse kunstenaar van Pretoria, het Plaasjapie-kykers ontstel toe dit aan die lig gekom het dat hy vir sy voormalige Noubees-spanlid Roché Killian tydens verlede week se koöperasie-kuier gestem het.

Maroela Media het vroeër berig dat Noubees verlede week onverwags koöperasie-kuier toe genooi is ondanks die feit dat hulle die boeresport-kompetisie gewen het. Kort nadat Soetmelksvlei se Gerda huis toe gestuur is, het al die oorblywende deelnemers van albei spanne vir die eerste keer die geleentheid gehad om enigiemand van enige span huis toe te stuur.

Kykers én deelnemers het amper van hulle stoele af geval toe Roché, ʼn model en persoonlike afrigter van Kaapstad, se naam uitgeroep is.

Esteban is vir nou ‘n permanente lid van Soetmelksvlei. (Foto: Verskaf)

Dian het in Donderdagaand se episode erken dat dit inderdaad hy was wat uit sy Noubees-maat se soutbeker geskep het, maar sê hy besef nou eers met die uitsending watter groot opslae dié besluit veroorsaak het.

Die 29-jarige het aan Maroela Media vertel dat hy ook begrip vir kykers se ontsteltenis het, veral omdat hy, Roché en die MMA-vegter Esteban ʼn bondgenootskap in die eerste paar episodes gevorm het.

“Roché is ʼn baie vriendelike en aangename ou, so ek kan verstaan hoekom hy ʼn gunsteling onder kykers was. Ek dink net mense vergeet soms dat dit ʼn speletjie en nie die regte lewe is nie. Almal op die plaas weet alles word in goeie gees gedoen en dat die doelwit tog bly om te wen.”

Dian sê hy het drie stappe vooruitgedink toe die geleentheid skielik opduik om enige deelnemer van enige span uit te stem.

“Ek het vermoed dat Soetmelksvlei moontlik weer een of selfs twee mense uit ons span sou kon kies omdat die getalle tussen hulle en ons reeds ongelyk was. As hulle dan Roché sowel as Esteban sou kies, sou ons ook in groot moeilikheid gewees het. Ek het ook geweet dat Roché later in die spel net sterker kompetisie sou word en nie sommer deur Noubees uitgestem sou word nie. Ek het besluit om ʼn kans te vat.”

Hy het beplan om die blaam na Soetmelksvlei te verskuif indien net hy Roché se naam gekies het.

“Tot my verbasing het iemand uit Soetmelksvlei óók vir hom gestem en toe word hy huis toe gestuur. Glo my, ek was net so geskok.”

Dian Louw. (Foto: Verskaf)

Dit blyk egter uit Donderdagaand se episode dat Noubees-lid Leo-Nene vir Roché se trekpas verdink word eerder as Dian, maar die plaasjapies moes vinnig aanpas en voortgaan met hul werk op die plaas.

Kykers is egter nie so vergewensgesind teenoor Dian nie. Hy word sedert verlede week se episode aanlyn én in persoon deur mense gekonfronteer.

“Ek stal gereeld my kunswerke by markte uit en mense het my onlangs in die verbyloop sommer gevloek en ʼn verraaier genoem.

“ʼn Ander persoon het vir my in my gesig kom sê ek’s useless, toe lag ek maar net en sê vir hulle dat ʼn boer met geen kennis van kuns net so nutteloos in my kunsgalery sal wees soos wat ek op ʼn plaas is.”

Dié kunstenaar is egter glad nie ʼn klakous nie en verstaan dat mense hulself in televisiereekse inleef. Hy hoop egter dat kykers hom die geleentheid sal gun om te wys wat in hom steek en nie in Roché se trekpas sal vaskyk nie.

“Die mooi ding van Plaasjapie is dat ons sulke uiteenlopende karakters is en baie van ons sou nooit kon dink dat ons op ʼn plaas tussen vreemde mense sou aard nie. Hier is jy meer as net jou beroep, hier breek ons almal die stereotipiese beelde en boksies af waarin ons voor dié kompetisie geplaas is.”

Noubees het die hooibaal-uitdaging gewen. (Foto: Verskaf)

Boonop het van die Gautengse deelnemers, onder meer Leo-Nene, Esteban en selfs Soetmelksvlei-lede soos Suzette I, Billy en Stephan, al van Dian se kunsuitstallings bygewoon.

Daar is verder geen kwade gevoelens tussen hom en Roché nie. “Ek verstaan natuurlik dat dit net ʼn speletjie is en dat mense kies om dit op verskillende maniere te takel. Dit gaan beslis nie net oor wie die sterkste is nie, maar wie die beste strategie het,” het die model voorheen aan Maroela Media gesê.

Daar is nou slegs nege deelnemers oor op die plaas nadat Suzette I, wat die laaste vroulike deelnemer in Soetmelksvlei was – Donderdagaand die trekpas gekry het.

Die spanne moes onder meer hooibale maak en mielies oes en dit blyk dat die Soetmelksvlei-manne se werktempo die 30-jarige Suzette effens frustreer het.

Soetmelksvlei se Suzette het die trekpas gekry. (Foto: Verskaf)

Esteban het ook weer by dié groep aangesluit weens ongelyke getalle, maar dié keer was die skuif ʼn permanente een.

“Ek gaan natuurlik die mense in my span mis, maar ek sien hierdie ook as ʼn vars begin en ʼn kans om die spel op ʼn nuwe manier te takel,” het die 24-jarige oor dié wending gesê.

Boer Ewan het die oorblywende Soetmelksvlei-lede by die koöperasie-kuier gewaarsku dat konkelry en verhoudings nie hul plaaswerk moet oorskadu nie, veral omdat die werkslading nou meer word soos die plaasjapies minder word.

Plaasjapie word Donderdae om 20:00 op kykNET uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kobus ·

Ag en daar speel Suzette ook die ” almal pik op my want ek is vrou” Sommer van kanaal verwissel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.