‘Plaasjapie’: Skok toe dié gewilde deelnemer groet

Die plaasjapies het aan boeresport deelgeneem. (Foto: Verskaf)

Die mat is behoorlik onder deelnemers, én kykers, uitgeruk in Donderdagaand se episode van die kykNET-reeks Plaasjapie.

Hoewel dié episode met ʼn gesellige ete en belofte van prettige boeresportkompetisie begin het, het dit weens ʼn paar kinkels en ʼn skokkende “koöperasiekuier” geëindig met die Plaasjapie-gunsteling, Roché Killian, wat onverwags sy tassies moes pak.

Soetmelksvlei se Gerda is aanvanklik uitgestem toe haar span dié week se uitdaging verloor het, desondanks die feit dat Noubees-lid en MMA-vegter Esteban weens onewe spangetalle by hulle moes aansluit vir die boeresportkompetisie.

Esteban het teen sy Noubees-spanmaats, onder wie Roché – met wie hy sedert die eerste dag op die plaas ʼn hegte band gevorm het – in dié uitdagings te staan gekom. Boonop het hy ook die gevaar geloop om saam met Soetmelksvlei na die “koöperasiekuier” gestuur te word.

Daar was egter geen kwade gevoelens tussen “Esteché” – soos hul Noubees-spanlid, Dian, dié twee gedoop het – nie, selfs nadat die MMA-vegter sy spanlid in die kussinggeveg reggesien het.

Noubees het uiteindelik as wenner uit die stryd getree, maar kon egter skaars die oorwinning ordentlik vier, wat ʼn boereworsbraai en luukse slaapplek vir een nag ingesluit het. Die baas van die plaas, Ewan, het daar opgedaag en die wenspan óók koöperasiekuier toe genooi kort ná Soetmelksvlei se Gerda uitgestem is.

Esteban en Roché moes teen mekaar in die boeresport meeding. (Foto: Verskaf)

Hier het al die oorblywende deelnemers van albei spanne vir die eerste keer die geleentheid gehad om enigiemand van enige span huis toe te stuur.

Kykers het amper van hul stoele afgeval toe Killian, een van Noubees se sterkste deelnemers, se naam uitgeroep is.

Dié Kaapse model en persoonlike afrigter het aan Maroela Media erken dat hy self ook stomgeslaan oor dié wending was.

Hy vertel dat sy grootste bekommernis aanvanklik by Esteban gelê het omdat Soetmelksvlei hom moontlik by dié koöperasiekuier “op ʼn onregverdige wyse” huis toe kon stuur.

“Ek was skoon emosioneel, want dit sou aaklig gewees het as hy só uit die stryd moes tree. Ek het begin dink hoe ek my bondgenootskappe sou moes aanpas en het besluit dat ek die spel tot sy eer verder sou speel indien hy uitgestem word.”

Killian sê dié koöperasiekuier het almal nóg verder onkant betrap omdat hulle juis net begin ontspan het. “Alles het so vinnig gebeur. Een oomblik staan en kuier ons voor ʼn lekker vuurtjie en die volgende oomblik word ek huis toe gestuur …”

Soetmelksvlei se Gerda is ook huis toe gestuur. (Foto: Verskaf)

Tot Killian én kykers se verbasing blyk dit dat daar egter meer Noubees-lede was wat uit sy soutbeker die aand geskep het en die Kaapse model erken dat hy in daardie oomblik verraai gevoel het.

“Ek het daardie aand vir Suzette gestem, want dit was volgens my bondgenootskap die ooreenkoms gewees; ek het veral nie gedink dat my eie span my sou uitstem nie.”

Killian vermoed sy naam is gekies omdat sy spanlede bang was dat hy té ver in die spel sou vorder, daarom was sy strategie juis om van die begin af sy sagter en meer kwesbare kant vir mense te wys.

“Ek het geweet mense gaan my opsom sonder dat ek ʼn woord hoef te sê. Hulle gaan dink ek is sterk en gaan goed vaar in fisieke uitdagings en dat hulle versigtig vir my moet wees. Daarom wou ek graag by mense aanklank vind deur eerlik te wees en te wys ek is net ʼn gewone mens met foute en vrese.”

Sy grootste doelwit was om ʼn moontlike samesmeltingsgeleentheid in dié spel te kon ervaar.

“Ek volg nou die program saam met die kykers, so ek weet glad nie wat daar vir die ander deelnemers nog voorlê nie. Maar indien daar ʼn spanskommeling of meer individuele uitdagings in aantog is, is ek spyt dat ek dit misloop.”

Die eenvoud, samesyn en skoonheid van die plaaslewe was volgens die 31-jarige – wat gereeld die wêreld vol reis – die hoogtepunte van sy Plaasjapie-ervaring.

Roché het nie verwag dat hy sy tassies dié week sou moes pak nie. (Foto: Verskaf)

“Om snags onder ʼn helder sterrenag te kon sit en stories met mense om ʼn vuur uit te ruil, en dit boonop in Afrikaans, was só ʼn besonderse ervaring. Ons kon saam swaarkry én saam lag, dit was net ongelooflik.”

As hy kon kies, sou hy wou hê dat Esteban die R1 miljoen in sy sak moet steek. “Hy speel dié spel op ʼn vreeslik eerbare manier en gee altyd 100%, so ek dink hy verdien om die geld te wen.”

Daar is ook geen kwade gevoelens teenoor sy ander spanlede nie. “Ek verstaan natuurlik dat dit net ʼn speletjie is en dat mense kies om dit op verskillende maniere te takel. Dit gaan beslis nie net oor wie die sterkste is nie, maar wie die beste strategie het.”

Hoewel sy lewe en loopbaan as model rooskleurig lyk, bieg hy dat dinge nie altyd seepglad vir hom verloop het nie. Hy is daarom vandag ook uiters passievol oor fisieke en geestelike gesondheid omdat hy self al met angs, depressie en eetversteurings gesukkel het.

“Ek was nie vreeslik doelgerig in my 20’s nie, maar toe ek besluit het om alles nie net oor myself te maak nie en eerder my uitdagings te gebruik om ander te help, het die Here baie deure vir my oopgemaak.”

Roché Killian. (Foto: Verskaf)

Hy waarsku ook teen die gevare daarvan om ander mense op grond van die uiterlike, en veral die prentjies wat hulle op sosiale media skep, te oordeel.

“Ek weet uit ervaring dat mense wie se lewe perfek lyk dikwels bedruk is en baie meer uitdagings ervaar as dit wat hulle blootlê. Daarom glo ek dat mens niemand kan oordeel nie, want almal moet elke dag verskillende storms trotseer.”

Oor sy toekomsplanne kan hy nie veel verklap nie, maar hy sê dat hy dankbaar is vir die geleenthede wat nou ná Plaasjapie oor sy pad gekom het.

Daar is nou net 10 stadsjapies oor om dinge op dié plaas in die Swartland aan die Weskus uit te spook vir ʼn kans om R1 miljoen te wen.

Dié deelnemers is Dian, Leo-Nene, Cecil, Suzette H, Bean, Esteban, Suzette I, Billy, Arthur en Stefan.

Plaasjapie word Donderdae om 20:00 op kykNET uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.